Met haar kort toppies en lang krulhare het sy Worsie se hart baie vinnig laat klop en die koppe laat draai. Maar dit is al meer as tien jaar sedert Zeldine Carr, destyds Zeldine Theron, die vermaaklikheidsbedryf vir mawees verruil het. 

Zeldine as Koekie in Vetkoekpaleis. Foto: Skermgre
Zeldine as Koekie in Vetkoekpaleis. Foto: Skermgreep

“As ek nou reg onthou, was my laaste optrede saam met die Maak ’n Las-span op een van hulle roadshows. In daardie stadium het ek heelwat toere saam met hulle gedoen,” onthou dié aktrise, wat ook later twee solo-albums uitgereik het. 

Sy woon in Somerset-Wes en bedryf saam met haar man Julian, ’n binnenshuisversiering-onderneming, Anchrizel Interieur. 

“Met die geboorte van my tweede kind het ek besluit om dit rustiger te vat sodat ek meer tyd saam met my kinders kan spandeer,” vertel sy.

“In daardie stadium het ek vreeslik baie tussen Kaapstad en Johannesburg gependel en dit het my weke op ’n slag weggeneem van die huis af. Ek het die besluit geneem om meer tyd saam met my kinders te spandeer.”

Zeldine en haar man, Julian Carr. Foto: Verskaf
Zeldine en haar man, Julian Carr. Foto: Verskaf

Sy het daarna vir ’n paar jaar ’n koffiewinkel bedryf.

Hoewel Zeldine tog nog hunker na die kunste, meen sy dit was die beste besluit wat sy in daardie stadium van haar lewe kon neem. 

“Ek sal altyd na die kunste verlang,’’ sê Zeldine, 'n gebore Kapenaar, wat as jong meisie reeds dramaklasse, dans- en sanglesse gekry het. 

“Ek wou altyd aktrise word en was vanaf ’n baie jong ouderdom al bedrywig in die bedryf. Ek het ook ná skool gaan drama swot aan die destydse Pretoria Technikon se skool van uitvoerende kunste,” vertel sy. 

Sy onthou toe sy destyds vir ’n oudisie gegaan het vir ’n rol in Vetkoekpaleis

“Willie Esterhuizen, die uitvoerende regisseur en skrywer van Vetkoekpaleis, was opsoek na ’n karakter op wie Worsie verlief kon raak, iemand wat sy lewe so ’n bietjie deurmekaar sou krap. Ek het op die nippertjie van die oudisie te hore gekom. Willie het geen vooropgestelde idees oor die karakter gehad nie en ek is die rol van Koekie aangebied,” onthou sy. 

Koekie en Worsie, vertolk deur Willie Esterhuizen.
Koekie en Worsie, vertolk deur Willie Esterhuizen. Foto: Skermgreep

Sy meen dié komediereeks was een van die hoogtepunte in haar loopbaan. 

“My rol in die reeks was onverwags en soveel pret. Ek het onvergeetlike tye saam met die Vetkoekpaleis-span beleef. Dit was ’n ervaring wat my vir ewig sal bybly.”

En ja, so nou en dan herken iemand haar nog as Koekie, vertel Zeldine. “Dit het alles te make met of daar weer ’n hertuisending is.”

Zeldine se debuut op televisie was egter in 1996 toe sy die rol van Cheree in die M-Net-sepie Egoli vertolk het. In 1998 het sy ook ’n klein rol in die SABC 2-reeks Die Vierde Kabinet vertolk. 

Volgens Zeldine was haar destydse kabaret “Kaal teen die Kansel”, wat by die KKNK in Oudtshoorn te sien was, ook een van haar hoogtepunte.

“Ag, eintlik was daar soveel hoogtepunte, ek moet sê die verhoogwerk het my altyd naaste aan die hart gelê en ek het baie daarvan gedoen.”

Sy meen egter dit is wonderlik om meer tyd saam met hul kinders, Mieke (10) en Cian (14), te kan deurbring. 

Zeldine is die ma van twee. Mieke en Cian. Foto: V
Zeldine is 'n ma van twee, Mieke en Cian. Foto: Verskaf

“Dis vir my die heel lekkerste om die gerief te kan hê om dinge saam met my kinders te kan doen. Of dit nou is om my dogter aan te moedig wanneer sy dans of my seun langs die hokkieveld te ondersteun. Om deel te kan wees van hulle ontwikkeling. Baie mense het nie daardie voorreg nie omdat hulle omstandighede en werk dit nie toelaat nie,” sê Zeldine. 

En sal sy eendag ’n terugkeer wil maak as aktrise?

“Vir seker, eendag, as ek die regte rol op die regte tyd sou kry.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.