Hul plaaslike aanhangers wonder van tyd tot tyd seker wat van dié aantreklike boerseuns geword het. Maar boerseuns kan jy hul kwalik nog noem, want Neil en Arnold is nou al hardebaarde in Hollywood en is bekende gesigte in TV se mees gewilde reekse.

Arnold kry steeds kunswerke van aanhangers van The Mummy – die fliekreeks waarin hy die naamrol in die vroeë 2000’s gespeel het, en Neil is gereeld op die kleinkassie te sien.

Kan jy glo dat mense steeds so geesdriftig is oor die rol wat Arnold bykans 17 jaar gelede vertolk het, dat hulle nou nog inspirasie in die mummie vind? Kyk net die sketse wat sy volgelinge vir hom teken:

Neil is nou te sien as as Clifford Devoe (en sy alter ego The Thinker) in die superheldreeks "The Flash".

Dié gewilde reeks is reeds in sy agste seisoen. Onlangs het Neil 'n foto gedeel waar hy en Nathalie Boltt – ook 'n voormalige plaaslike sepiester wat destyds die rol van Joey Ortlepp in Isidingo vertolk het – mekaar in Hollywood raakloop.

Nathalie speel die rol van die skurk Penelope Blossom in die TV-drama Riverdale.

Foto: Skermgreep/ The Flash

Voorheen was Neil in Titus en The 100 se derde seisoen en in Hap and Leonard, wat op die Sundance Channel uitgesaai word.

“Dis so lekker om ’n middeljarige man te speel. Ek hoef nie my grys hare te kleur nie,” het Arnold Vosloo aan Huisgenoot vertel uit sy drieverdiepingmeenthuis in Santa Monica, naby Los Angeles. Hy praat natuurlik van sy rol in die hoogaangeskrewe polisiedrama Bosch, waarin hy die rol van Rudy (Harry Bosch se oud-polisiemakker) vertolk het.

Foto: Skermgreep/ IMDb

“Ek het 21 geword op die stel van die TV-reeks Meisie van Suidwes. Nou is ek diep in my 50's. Dis mal. My plan is om eenmaal ’n jaar iets soos Bosch te doen, waarin die dialoog baie sterk is. Old school sonder uitspattige sets en so tussendeur ’n B-grade horror te doen waarin ek met ’n pyl deurboor word. Dan sal ek sê 'koebaai' en weghardloop, so rondom 60 se kant.

"My droom is om dan ’n paar maande op ’n slag in Suid-Afrika te bly. Dit gaan beslis gebeur.”

Foto: IMDb

Hy is hierdie jaar te sien in die gruwelfliek The Harrowing, waarin hy dr. Franklin Whitney speel. Dit handel oor ’n ritualistiese moord wat opgelos moet word.

Daar is vir hom drie redes dat hy ’n fliek doen, vertel Arnold: die rol, waar dit geskiet word en die geld. “Ek wag al lankal vir so ’n rol. Dit is ’n hoogtepunt in my loopbaan,” vertel hy oor Bosch. “Ek en die absolute veteraan Titus Welliver was goeie dance partners voor die kameras.”