Sy grootwordjare

Louis (23) is in Pretoria gebore en het op Hoedspruit grootgeword. 

“Dis so ’n klein dorpie in Limpopo,” vertel dié middelkind van Charl en Nada Auret (albei 52). Hy het ’n ouer broer, Roy-Ramon (25), en ’n jonger suster, Jeannette (20). 

“Ek was ’n skaam kind; ’n groot introvert,” vertel dié oudleerder van die Laerskool Drakensig.

“Ek het vriende gehad, maar verkies om meer tyd saam met my ouers en sibbes deur te bring. Sport was nie ’n groot belangstelling nie. Ek het meer gehou van buite wees, boomklim. Familie is belangrik vir my.” 

Sy pa is ’n prokureur en sy ma ’n onderwyseres.

Ben,Louis,7de Laan,akteur,familie
Roy-­Ramon (links), ma Nada (voor), Louis, Jeannette en pa Charl. Foto: Verskaf

Sy pad na die kassie 

Louis was ’n koshuis­ganger aan die Hoër­skool Ben Vorster op Tzaneen, sowat 125 km van sy tuisdorp. 

Nadat hy in 2013 gematrikuleer het, is hy na die privaat kollege Open Window in Centurion om rolprent­ontwerp en toneelspel vir rolprente te ­studeer. Daar het hy sy passie vir drama ontdek. 

“Ek het in dié tyd studentekortflieks gemaak,” vertel Louis, wat van 2014 tot 2016 aan die kollege studeer het. 

Sy deurbraak was ’n jaar later toe hy die rol van Ben in die sepie 7de Laan losslaan.

Hy het altyd geweet hy gaan in die vermaakbedryf beland, maar nie noodwendig as akteur nie, vertel Louis. 

“Ek het van kleins af gedink dit is ’n beroep waarin ek wou wees, maar ek het meer gedink aan regie of kamerawerk of so iets. Maar toe val die 7de Laan-rol in my skoot en nou kan ek myself nie iets anders sien doen nie. Dis ’n ongelooflike geleentheid; ek het dit baie geniet.”

Hy doen deesdae advertensiewerk en het onlangs in Pretoria aan ’n kortfliek, Onortodoks, van die opkomende regisseur Marinus Gubitz gewerk. Daarin speel hy ook ’n kelner.

ben,7de Laan
Louis vertolk die rol van Ben in 7de Laan. Foto: Melanie Mulder

Ek’s g’n Ben  

Ben, die karakter wat hy tot onlangs in 7de Laan gespeel het, verskil hemelsbreed van hom, sê Louis.

“Dit is vir my die ongelooflikste ervaring, want hy is die teenoor­gestelde van my. Maar daar is ook eienskappe van ons wat ooreenstem. Ons is albei saggeaard, maar hy is ’n sterker mens as ek en meer volwasse vir sy ouderdom as wat ek in daardie stadium was.” 

Gruwelprentmal  

Louis is gek oor gruwelprente soos The Texas Chainsaw Massacre en Halloween. 

“Dis die classics,” sê hy van sy twee gunstelinge.

“Ek hou van kleins af van rillers; my ouers was in ’n sta­dium ’n bietjie bekommerd oor my,” skerts hy.

“My droomrol is enigiets van ’n reeksmoordenaar tot ’n psigopaat. Ek dink dit sal nogal uitdagend wees en interessant ook.” 

10c-man  

Die akteur het ’n interessante stokperdjie. 

“Dis regtig weird, maar ek versamel 10c-muntstukke. Ek het eendag daarmee begin en nou kan ek nie ophou nie. Dis nou al naby R100,” spog hy. 

Deirdre Wolhuter en Louis as Ma­riaan en Ben in 7de Laan. Foto: Melanie Mulder
Louis en die akteur Jacques Blignaut kuier op die stel van 7de Laan. Foto: Melanie Mulder
Annelisa Weiland en Louis kuier op die 7de Laan-stel. Foto: Melanie Mulder
Louis (regs) as 'n hawelose tiener in 7de Laan. Foto: Melanie Mulder

Hart van goud  

Wat was die beste kompliment wat hy al gekry het?

“Ek is al vertel ek het ’n goeie hart. Ek dink dis maar net die manier waarop ek grootgemaak is. Ek probeer altyd positief wees en mense met vriendelikheid behandel.”

Slegte gewoonte  

Hy let nie op waar hy stap nie, bieg hy.

“Ek leef baie in my kop, in so ’n mate dat ek nie oplet waar ek loop nie. Ek het al so baie oor goed geval dat hulle my ‘loop-en-val-Louis’ op die 7de Laan-stel genoem het. Dit was nogal erg wanneer ons met ’n toneel besig was en jy is so reg daarvoor, maar dan gly jy op ’n trap of jy val oor iets.” 

Sy karakter is juis dood toe hy van ’n trap afval.

Vreemdste aanhanger 

Louis het al ’n paar eienaardige ontmoetings met aanhangers gehad. Die vreemdste was toe ’n vrou hopeloos te vriendelik met hom geraak het toe sy hom gewaar. 

“’n Ouer vrou het my eenkeer gegryp en toe probeer sy my oopmond soen. Ek was heeltemal uit die veld geslaan,” vertel hy. 

Introvert 

Al dink mense gewoonlik akteurs is ekstroverte, geld die teenoorgestelde vir Louis. 

“Ek is eintlik ’n groot introvert. Baie mense dink dikwels dis vreemd oor die beroep waarin ek is. Ek is gemaklik alleen by die huis met my eie geselskap. 

“Partykeer is dit iets wat ek eerder verkies as om vir ’n aand saam met pelle na groot kuiers te gaan,” sê Louis, wat nog enkellopend is. 

Die jong akteur woon deesdae in Moreletapark, Pretoria. 

Kitsfeite
  • Kos: Pizza of pasta.
  • Liedjie: Taki Taki van DJ Snake, Cardi B, Selena Gomez en Ozuna.
  • Sêding: “Live and let live” en “Wat ander mense van jou sê, het niks met jou uit te waai nie”.
  • TV-reeks: The Big Bang Theory, American Horror Story en my grootste gunsteling, Friends.
  • Akteur: Colin Farrell en Johnny Depp.
  • Kleur: Groen.
  • Sport: Rugby. Ek is ’n Blou Bul-ondersteuner.
  • Vakansieplek in Suid-Afrika: Struisbaai.
  • Eerste troeteldier se naam: My Jack Russel, Tube.
  • Instagram of Facebook: Instagram.
  • Land wat jy graag wil besoek: Spanje, veral Barcelona. Dit lyk soos ’n pragtige land. Ek sal ook graag na Ibiza, die partytjiehoofstad, wil gaan.