Aisha het die babanuus op Instagram bekend gemaak.

“As daar ooit ’n tyd in my lewe was waar ek beeldskoon en stralend gevoel het, is dit wanneer ek my babas dra. Hulle het ’n manier om vir my lesse te bring van die oomblik wat hulle spasie in my moederskoot begin opneem," het Aisha op Instagram geskryf by 'n kiekie van haar wat in 'n wit swembroek op die strand staan.

“Ek is so geseënd en ewig dankbaar dat ek my babas kan dra en hierdie ervaring kan hê. Ek is so opgewonde om te sien watter veranderings hierdie kleinding in my lewe gaan bring. Dit het reeds so baie kennis, selfontdekking en 'n diep sin vir kreatiwiteit by my aangewakker.

“Ek kan nie wag om ons waterbaba in Junie of Julie te ontmoet nie." 

View this post on Instagram

A post shared by Aisha Baker (@bakedonline)

Met haar inskrywing het sy verklap dat sy nou 19 weke swanger is. Die glanspaar het oor die naweek die geslag van hul tweede kind onthul. Dis amptelik: Hul gesin brei uit met 'n dogtertjie. 

“Dis ’n dogtertjie. Opgewonde om die prinsessie te ontmoet. Een word twee en drie word vier,” het Wayne by ’n video op Instagram geskryf. 

Sy voel wonderlik, vertel Aisha aan Huisgenoot oor haar tweede swangerskap. “Ek het ’n rowwe vier maande gehad met oggendnaarheid, maar die vyfde maand het nuwe lewenskragtigheid en lewenslus meegebring,” laat sy hoor. 

Die swangerskapnuus het vir die paartjie groot geluk beteken. “Ons was so opgewonde toe ons uitvind ek is swanger. Ons het al vir ’n paar maande probeer swanger raak, so ons is bly dat alles vir ons uitgewerk het.”

Klein Khalid deel in die opwinding oor sy kleinsus se koms. “Hy is opgewonde en verward. Soms vra hy of die baba môre al kom, en soms praat hy oor hoe hy haar teen die elemente soos die stormagtige Kaapse wind wil beskerm. Meestal sien hy nie my magie raak nie, tensy ek vir hom sê om daarmee te praat of hom help onthou.

“Ek dink dis belangrik dat ons hom gewoond moet maak aan die idee dat iemand anders nou mamma se aandag gaan deel met hom,” sê Aisha. 

Intussen werk sy volstoom voort aan haar “ander baba”, haar klerereeks Baked Collection. 

“Ons hoop om vanjaar ons produkreeks uit te brei en ’n beter jaar te hê ná ons verlede jaar deur covid-19 getref is. Ek gaan ook my blog, Baked Online, weer bekendstel vir my volgelinge wat ’n bietjie meer wil hê as dit wat hulle in die sosiale media sien. Ons het baie opwindende projekte in die pyplyn wat almal rondom Junie geloods sal word,” vertel Aisha. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe