Sy het deur die jare geleidelik die toonbeeld van koninklike fatsoenlikheid geword: Haar klerekas het bestaan uit vaal sykouse, stemmige hofskoene, beskeie some, hoë halslyne en konserwatiewe jasse –soos dit ’n toekomstige koningin betaam wat nie ’n voetjie wil verkeerd sit nie.

Maar die afgelope ruk was daar iets ­anders omtrent die hertogin van Cambridge – en haar glansryker uitrustings het modebewustes in vervoering.

Die hertogin dra die laaste ruk graag opvallende k
Die hertogin dra die laaste ruk graag opvallende kleure en het in Maart tydens ver­skeie geleenthede skakerings van groen gedra. Foto: Gallo Images/Getty Images
In Maart-maand was groen beslis die voorkeur-kleur
In Maart-maand was groen beslis die voorkeur-kleur. Foto: Gallo Images/Getty Images
Die hertogin dra die laaste ruk graag opvallende k
Die hertogin dra die laaste ruk graag opvallende kleure. Foto: Gallo Images/Getty Images

Byderwetse stewels en truie deur J. Crew, parmantige wyepypbroeke met ’n hoë middeltjie en daardie Gucci-strikbloes – wat sy agterstevoorom gedra het – is alles deel van Kate se splinternuwe voorkoms.

En dis alles danksy ene Virginia Chadwyck-Healey (36), ’n voormalige mode­redakteur by Vogue.

Volgens die Daily Mail-rubriek­skrywer Richard Eden het Kate (37) haar gewend tot haar ou pel Ginnie, soos haar vriende haar noem, toe haar stilis, Natasha Archer, met kraamverlof gaan.

Tydens ’n besoek aan King’s College in Maart saam
Tydens ’n besoek aan King’s College in Maart saam met die koningin. Foto: Gallo Images/Getty Images

En nou kwyt Ginnie haar so goed van haar taak dat Natasha dalk een van die dae ’n kliënt kwyt gaan wees.

“Ginnie is Catherine se geheime wapen,” sê ’n koninklike bron.

“Sy het ’n groot verskil in die hertogin se klerekas vir openbare geleenthede gemaak.”

Ginnie se vernuf het Kate ’n “heel nuwe selfversekerdheid” gegee, sê die bron.

“Die hertogin is werklik beïndruk en baie dankbaar vir haar hulp.”

Ginnie spog self met ’n indrukwekkende stamboom.

Sy is die dogter van ’n heer en ge­troud met een van prins William se skoolmaats uit sy Etondae, Oliver Chad­wyck-Healey. Nes William en Kate het die paartjie ?jong kinders, die vierjarige Nancy en die tweejarige Maggie.

Ginnie en Kate kom al ’n lang pad saam – albei het kunsgeskiedenis aan die St. Andrew-universiteit in Skotland studeer, waar Kate en William ook ontmoet het.

Ginnie het die Cam­bridges se troue in 2011 bygewoon, waar modekritici haar as een van die besgeklede gaste bestempel het.

“Koninklike protokol moes voorkeur kry, maar ek wou voel ek het my eie identiteit in die skare van glans­mense, vriende, militêre personeel, oorsese staatslede en, natuurlik, die koninklike familie,” het Ginnie des­tyds gesê.

Sy het ook in haar helderpienk ?romp en ’n sytop met hangskouermoue gewys sy is nie bang om die reëls te verbreek nie.

“Ek het tot my ma se afgryse nie sykouse na ’n koninklike troue gedra nie.”

Kate het al meer as een keer in modekringe vir haar eentonige kleresmaak deurgeloop.

Verlede jaar in November het Kate by die Wapenstil
Verlede jaar in November het Kate by die Wapenstilstandsdagdiens somber gelyk in ’n vlootblou pakkie. Foto: Gallo Images/Getty Images

In een besonder venynige ?artikel het die Britse rubriek­skrywer Sarah Vine haar die “hertogin van eentonigheid” en “styl-?kriptoniet” gedoop nadat sy in 2016 ’n onvleiende kobaltskepping van R9 000 deur die Indiese ontwerper Salon na ?’n onthaal in die Kensingtonpaleis ­gedra het.

“Dit lyk omtrent so smaaklik soos ’n nat skon aan Kate. Alles, van haar ­kenmerkende stemmige prinses-op-parade-­houding – die strak glimlag, hande voor haar vasgeklem – tot haar hare wat in los krulle om haar skouers val en die preutse hofskoene wat onder die soom uitloer, maak van ’n uitrusting wat veronderstel is om stylvol te wees iets wat soos ’n naaldwerkpatroon uit die 1970’s lyk.”

Arme Kate het oor die jare uit dié groef probeer kom met ’n paar flambojante wysigings, maar die hertogin het dikwels die pot misgesit.

Een van dié flaters was die blom­skepping deur Erdem wat sy in 2015 na die 100 Women in Hedge Funds-galageleent­heid gedra het. ’n Mode­blogger het dit as haar swakste voorkoms ooit bestempel.

“Om daarna te kyk gee my hartkloppings en maak dat ek wil huil. Dis hoe afskuwelik dit is.”

Meer onlangs het ’n mosterdgeel blomrok (ook deur Erdem) wat Kate verlede jaar met ’n besoek aan Swede gedra het ook deurgeloop.

“Hoekom dra Kate ’n gordyn?” het een Twittergebruiker gevra. Nog een het laat hoor: “Oe, genade, het sy daardie rok by haar skoonouma geleen?”

Maar deesdae prys vooraanstaandes in die modebedryf Kate se uitrustings.

In ’n mentgroen rok wat sy op die 50ste herdenking
In ’n mentgroen rok wat sy op die 50ste herdenking van die prins van Wallis se inhuldiging gedra het. Foto: Gallo Images/Getty Images
Op die Bafta-prysaand het Kate ook ’n rok van Alex
Op die Bafta-prysaand het Kate ook ’n rok van Alexander McQueen gedra. Foto: Gallo Images/Getty Images
In Februarie op ’n geleentheid in Noord-Ierland. F
In Februarie op ’n geleentheid in Noord-Ierland. Foto: Gallo Images/Getty Images

Alexandra Shulman, voormalige redakteur van die British Vogue, kon nie genoeg kry van die veelbesproke strikbloes wat sy verlede maand na ’n geleent­heid by ’n kindersentrum gedra ?het nie.

“Dis stellig haar stylvolste uitrusting nog,” het Alexandra (61), een van Brittanje se mees gerespekteerde mode­kritici, gesê.

“Jy sal dalk agterkom die ontwerpersbloes is agterstevoorom gedra – nie ’n modeblaps nie, maar waar­skynlik ’n slim stileerbesluit deur Ginnie.”

Die vlootblou wyepypbroek was ook ongewoon vir Kate as iemand “wat gewoonlik rokke vir formele geleent­hede en noupassende jeans vir ontspanne geleenthede verkies”, het sy gesê.

As Kate se stilis sal Ginnie meer as net die geskikte uitrustings vir haar kliënt se propvol dagboek kies.

Ginnie, wat Vogue in 2018 ná 12 jaar vaarwel toegeroep het, sal met in­noverende maniere vorendag moet kom om die klere wat reeds in haar kas is op te kikker.

Maar sy het reeds daarmee begin – dit was duidelik toe Kate by die National Portrait Gallery Gala opdaag in ’n rok deur Alexander McQueen wat sy oorspronklik in 2017 na die Bafta-prysaand gedra het.

Die pragtige blomskepping moes heeltemal omskep word van die oopskouer- Bardot-halslyn wat toe gewild was, en ?dit is vervang met kapmoue en ’n vierkantige halslyn – wat tans groot nuus is.

Dié Alexander McQueen-rok (inlas) is ’n bietjie ve
Dié Alexander McQueen-rok (inlas) is ’n bietjie verander sodat Kate dit ’n tweede keer kon dra. Foto: Gallo Images/Getty Images

Kate het sleutelitems nog altyd graag meer as een keer gedra en het al groot lof daarvoor ontvang.

Ginnie het ook nuwe asem geblaas in Kate se ontspanne drag, wat gewoonlik ’n plaasmeisiestyl gehad het.
Kate se plaasmeisiebeeld vantevore. Foto: Gallo Im
Kate se plaasmeisiebeeld vantevore. Foto: Gallo Images/Getty Images

In Maart was sy tydens ’n ontspanne besoek aan die Padvinders se hoofkantoor in Gilwell Park, Londen, gemaklik – maar moeiteloos sjiek – in ’n J. Crew-trui en noupassende swart broek by oprygstewels.

Kate dra deesdae noupassende broeke en selfs opryg
Kate dra deesdae noupassende broeke en selfs oprygstewels. Foto: Gallo Images/Getty Images

Soos Alexandra beklemtoon, is dit “dieselfde trui-jeans-en-platstewelformule” wat ons al dikwels by Kate gesien het, maar met ’n paar merkbare verskille.

“Sy het onderbeklemtoonde, oorgroot breidrag vir nousluitende alternatiewe verruil, en lang rystewels vir modieuse diksoolstewels.

Daar’s lewe geblaas in die valerige plaasmeisiebee
Daar’s lewe geblaas in die valerige plaasmeisiebeeld wat Kate vantevore gehad het. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Dis hierdie klein maar deurdenkte nuwe toevoegings wat Kate se andersins ontspanne drag in iets meer sjiek en byderwets omskep.”

Die hertogin het duidelik haar dae as vaal eendjie verruil vir modes wat haar soos ’n regte swaan laat skitter.

BRONNE: DAILYMAIL, TOWN & COUNTRY, HARPER’S BAZAAR, GOOD HOUSEKEEPING
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.