Eindelik is hulle weer saam – ná twee jaar, ’n ondersoek deur die Amerikaanse speurdiens, verskeie hofverskynings en onderonsies tussen hul regspanne. Op onlangse foto’s sien ons die eerste keer vir Brad Pitt en Angelina Jolie langs mekaar sedert hul verhouding van 11 jaar in 2016 lelik skipbreuk gely het.

Maar niemand raak te opgewonde nie: Te oordeel na hul lyftaal is hulle allesbehalwe op die punt om weer in mekaar se arms te val.

So wat gaan aan?

Die ontmoeting, wat in ’n prokureur se kantoor in Beverly Hills, Los Angeles, plaasgevind het, is die jongste aanduiding van vordering in die bitter toesigstryd tussen die ekse.

Al lyk Brad (55) ongemaklik en gespanne en het Angie (43) donker kringe onder haar oë, is dit luidens berigte ’n bewys die twee beweeg in die regte rigting. Volgens die tydskrif Us Weekly was dit hul tweede vergadering binne ’n week. “Dit is deel van hul deurlopende proses om sake rakende die kinders en die egskeiding te reël.”

Angelina Jolie
Angelina Jolie en Brad Pitt het in die kantore van ’n prokureur in Los Angeles beraadslaag. Foto: Greatstock Images.
Angelina Jolie
Angelina Jolie en Brad Pitt het in die kantore van ’n prokureur in Los Angeles beraadslaag. Foto: Greatstock Images.

Hul onderhandelings verloop nou bedagsamer en vreedsamer as voorheen, het ’n tweede bron gesê.

Die tydelike ooreenkoms wat die twee einde verlede jaar bereik het, is steeds van krag. Brad is gesamentlike toesig oor Pax (15), Zahara (14), Shiloh (12) en die tweeling, Vivienne en Knox (10), toegestaan. Die hof het beslis die oudste kind, Maddox (17), is oud genoeg om self te besluit hoeveel tyd hy saam met sy pa wil deurbring.

Angelina Jolie
Ná die tyd het Angie ontsteld gelyk. Foto: Magazine Features.

So hanteer die kinders dit

Vir kinders is ’n egskeiding nooit maklik nie en die ses Jolie-Pitts het die aanpassing op verskillende maniere verwerk.

Maddox, Pax en Zahara

Volgens talle bronne het die drie oudste kinders ná die skeiding hul ma se kant gekies en almal gesukkel “om met hul pa vrede te maak”.

“Hulle het gevoel hy skree altyd en is ongelukkig,” sê ’n bron.

’n Maatskaplike werker het Angie glo aangeraai om gesamentlike toesig oor die kinders te versoek op voorwaarde dat Pax en Zahara vir terapiesessies saam met Brad moet gaan.

Angie, Maddox en Pax. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Maddox het glo geweier om vir terapie te gaan. “Maddox is Angie se naaste vertroueling, en hy was nog altyd hardkoppig en beskermend teenoor sy ma,” sê ’n bron in Brad se kamp. “Brad het aanvaar hy sal waarskynlik nooit die verhouding kan herstel nie.”

Die band tussen Pax en sy pa lyk net so wankelrig: Hofdokumente onthul glo Brad wou eintlik glad nie in 2007 die driejarige Viëtnamese weeskind aangeneem het nie. Brad was glo besorg daaroor om minder as ’n jaar ná Shiloh se geboorte nog ’n kind aan te neem. Angie het nogtans voortgegaan en glo vir Brad gesê: “Pax het my meer nodig as Shiloh.”

Gelukkig vir Brad het sy verhouding met Zahara glo met die verloop van tyd verbeter.

Shiloh

Die “liefdevolle en saggeaarde” rabbedoe tree as ’n soort vredemaker op, sê bronne. “Sy is die gretigste van die kinders dat sake met Brad moet uitwerk.” Shiloh was voor die skeiding geheg aan haar pa en “haat konflik”, sê ’n familiebron. “Sy stuur gereeld vir Brad e-pos en boodskappe.”

Angelina Jolie
Van links is Knox, Zahara, Shiloh en Vivienne in Desember op ’n uitstappie saam met hul ma. Foto: Greatstock Images.

Die tweeling

Vivienne en Knox is “teen baie kwessies beskerm”, sê ingeligtes, maar dit is vanselfsprekend onmoontlik dat die drama hulle nie geraak het nie. Hulle hou ook daarvan om hul pa te sien, sê Brad se vriende, al is veral Vivienne in die besonder baie na aan haar ma.

’n Tevrede pa

Angelina Jolie
Brad het in sy noppies gelyk. Foto: Magazine Features.

As die jongste vergadering ’n aanduiding is, lyk dit asof die ooreenkoms die verlangde uitwerking gehad het. 

Toe Brad ná ’n vergadering van drie uur met Angie uit die regskantoor uitstap, het hy selfs vir die wagtende paparazzi ’n gemoedelike duim in die lug gehou. Dit gaan beter met die akteur sedert hy meer tyd saam met sy kinders kan deurbring.

Op 18 Desember het hy hulle almal vir homself gehad om sy 55ste verjaardag te vier. “Dit was die eerste keer sedert die skeiding dat hulle ’n nag by hom oorgeslaap het, en dit het vir hom die wêreld beteken,” sê ’n bron.

Angie doen haar ding

Angelina Jolie
Angelina Jolie in Bangladesj. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die aktrise en regisseur was vroeër dié maand in Bangladesj om die nood te bepleit van die Rohingia-vlugtelinge wat deur die militêre konflik in Mianmar uit hul huise gedryf is.

Angie het in haar hoedanigheid as ’n spesiale gesant van die Verenigde Nasies se vlugteling­agentskap die oorvol kampe besoek, waar vlugtelinge haar verhale van massamoord en verkragting vertel het.

Die besoek het ’n poging voorafgegaan om R12 miljard in te samel ten bate van die miljoen Rohingia-vlugtelinge wat nou in kampe om die stad Cox’s Bazar in Bangladesj bly.

Op en af vir Brad

Brad Pitt
Foto: Gallo Images/Getty Images.

Brad se opvolg van die zombiefliek World War Z is onlangs weens “begrotingsprobleme” gekanselleer. Maar hy is steeds in Mei op die silwerdoek te sien in die wetenskapsfiksieriller Ad Astra, en in Julie in Quentin Tarantino se Once upon a Time in Hollywood.

Die gerugte dat hy met Charlize Theron uitgaan, het doodgeloop. Maar daar was groot opwinding toe hy onlangs by sy eksvrou, Jennifer Aniston, se 50ste verjaardagpartytjie in Hollywood, Los Angeles, gewaar is. (Lees meer oor Jen se partytjie in Mense en Hul Dinge op bl. 101.)

Waar daar wyn is . . .

Brad Pitt
Brad en Angie se wynlandgoed in Frankryk. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Brad en Angie besit die Franse wynlandgoed Château Miraval, waar die wyn ondanks die vertroebelde verhouding tussen die eienaars steeds vloei. Nadat hulle uitmekaar is, is aanvaar hulle sou die eiendom verkoop – veral aangesien dit is waar hulle in 2014 getroud is.

Maar die sterre is glad nie van plan om die pragtige eiendom in die suide van Frankryk te verkoop nie, sê Charles Perrin, Miraval se hoofwynmaker. “Dit is ’n belegging vir hul familie en hul kinders. Ons het pas die jongste jaargang rosé met ons name uitgereik: ‘Gebottel deur Pitt, Jolie en Perrin.’ ”

Intussen by die hondepark

Sy neem hulle dalk saam op haar talle wêreldreise, maar Angelina het nog altyd geglo haar kinders se opvoeding moet so beskeie moontlik wees. Die jongste voorbeeld? Om saam met Shiloh, Vivienne en Knox by ’n stalletjie in die park hondehappies vir ’n hondereddingsorganisasie te verkoop.

Die Parenthood-aktrise Sarah Ramos het ’n kiekie gedeel waarop Angie en die kinders op ’n betonbank agter ’n tafeltjie sit. Sarah was verbaas om die superster “net daar te sien sit, op ’n vuil sementbank vol hondepiepie”, het sy agterna gesê. “Dis nie eens ’n baie mooi park nie, net ’n stuk grond met ’n draadheining om.”

Sarah het nie geld gehad nie, maar Angie het haar hond ’n gratis happie gegee, “waarvan hy gehou het”.