Die akteurs, bekend vir hul rolle in die kykNET-sepie Getroud met rugby, het oor die naweek hul kleinding se eerste verjaardag gevier. Klein Layla is Woensdag een jaar oud.

“Kan jy dit glo?” sê-vra Marijke toe Huisgenoot telefonies met haar praat.

“Dit druk skoon op my hart om te dink sy is al een jaar oud. Ek sal nie jok nie – ek voel sommer emosioneel. Dis ’n jaar van beeldskone herinnerings en ongelooflik mooi tye, maar ons sal nooit die tyd kan terugdraai nie. Een jaar is verby.” 

Layla word een
Layla word een jaar oud. Foto: Verskaf
Layla word een
Layla word een jaar oud. Foto: Verskaf

Die akteurs het die naweek sommer ’n verjaardagpartytjie vir Layla by hul huis in Fairland, Johannesburg, gehou. Van Marijke se planne vir ’n partytjie met 'n tema kon niks kom nie – die pandemie en gepaardgaande inperkingsmaatreëls het hulle verhoed om ’n groot bymekaarkoms te reël.

“Ek het 'n droom oor ’n vreeslike groot partytjie vir Layla gehad om haar eerste jaar te vier. Ek kyk al lank na temas en het gereeld nuwe idees gesoek. Maar terwyl die tyd aangestap het, het ons besef dit sal nie moontlik wees nie,” vertel sy.

Maar klein Layla se partytjie was steeds ’n fees. Die kleinding het ’n skattige pienk rokkie gedra en het ’n strik in die hare gehad – en sy kon skaars haar hande van die vanieljekoek met sy pienk versiersel afhou.

Layla word een
Layla. Foto: Facebook
Layla word een
Werner, Layla en Marijke. Foto: Facebook

Marijke vertel dit was ’n intieme verjaardagpartytjie met net haar en Werner se naastes en ’n maatjie vir klein Juwan (9), haar seun uit ’n vorige huwelik.

“Ons was in die eerste jaar nogal baie streng oor suiker, so klein Layla het tot op haar verjaardag byna nog nooit suiker gehad nie. Maar jong, toe sy haar hande en vingers in daardie verjaardagkoek druk, was dit verby. Sy het behoorlik gesmul,” vertel Marijke.

Die akteurs is vanjaar in die Malutiberge in die Oos-Vrystaat getroud. Marijke vertel dit was ’n “wipwarit” van ’n jaar.

“So lief soos ons albei vir haar is, moet ons erken: Die eerste 10 maande was vir ons verskriklik moeilik. Ons was heeltemal ontneem van slaap omdat Layla glad wou deurslaap nie – tot ons eindelik ’n voorgeskrewe program begin volg het,” vertel sy.

Layla word een
Marijke en die mooie Layla. Foto: Facebook
Layla word een
Klein Layla. Foto: Facebook

“Die ander dag ry ek en Werries op pad êrens heen en hy sê in die moeilike tyd het nie ek of hy een keer met mekaar ongeduldig geraak nie. Ons het nie een keer baklei of kop gestamp nie. En ons was boonop nog in ons honeymoon-fase. Dis wat wonderlik is – hy was nog altyd soveel meer as net my man; hy is my partner in alles.”

Terwyl sy bang is dat die komende jare nou nóg vinniger gaan verby vlieg, wil sy en Werner vir nou net aanhou om elke oomblik saam met Layla en Juwan te waardeer. 

“Ek wil nie eens daaraan dink dat nog ’n jaar binnekort gaan verby glip nie,” sê Marijke. “ 'n Mens wens eintlik sy wil net ’n klein bietjie langer ’n babatjie bly. Maar dan kyk ek na haar en bewonder haar vir hoe feisty sy reeds is en hoe sterk haar persoonlikheid is. Sy skrik vir niks – nie vir my of vir haar ouboet nie. Dan besef ek alles sal oukei wees – sy vat reeds nie nonsens van enigiemand nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe