Prinses Eugenie (27) en Jack Brooksbank (32) is by ’n Switserse ski-oord deur vriende aan mekaar voorgestel en dit was liefde met die eerste oogopslag. 

’n Tyd lank het afstand hulle geskei nadat Eugenie in 2013 ’n ruk lank vir haar loopbaan na New York getrek het, maar ten spyte van die duisende kilometers en tydsverskil tussen hulle het hulle die verhouding aan die gang gehou. 

“Hy is nie ’n stralerjakker-soort nie," sê ’n vriend van Jack, maar voeg by die twee het deur middel van Skype gekommunikeer en is deur baie van hul “lieflike vriende” ondersteun.

Dit lyk of die moeite en opoffering die moeite werd was, want vyf jaar later is die verliefde duifies op die punt om ewige trou aan mekaar te beloof. 

Maar wie is die man met wie die hertog en hertogin van York se jongste dogter voor die kansel gaan staan? 

Jack Brooksbank. Foto: Gallo Images/Getty Images.

1. Nie so burgerlik soos jy dalk dink nie

Al is die Brooksbanks nie aristokrate op sigself nie, is hulle geensins ’n gewone werkersklasgesin nie. 

Jack se pa, George (68), is ’n rekenmeester en maatskappydirekteur wat aan die uiters deftige Eton skoolgegaan het. Eugenie se neefs, die prinse William en Harry, het ook daar skoolgegaan. 

George en sy vrou, Nicola (64), het gesorg dat hul seuns, Jack en Thomas, die beste opvoeding kry. Jack het die skool Stowe in Buckinghamshire, die alma mater van die Virgin-magnaat Richard Branson, bygewoon.

’n Kwartaal by die vooraanstaande skool kos sowat R252 000, berig People.

2. ’n Koninklike agtergrond

Volgens Town & Country is Jack ’n afstammeling van die Brooksbank-baronette (’n titel net onder ’n baron).

Sy stamboom is vol grawe, baronette, ridders en selfs ’n paar konings. 

Jack se koninklike wortels loop trouens so diep dat hy verlangs aan sy toekomstige bruid verwant is, iets wat baie gesog in bloubloedkringe is. 

Sy oorgrootjie, burggraaf Thomas Coke, is die oorgrootjie van Eugenie se ma, Sarah. 

Jack Brooksbank en prinses Eugenie. Foto: Gallo Images/Getty Images.

3. Geen tersiêre opleiding

Ten spyte van sy indrukwekkende vormingsopvoeding het Jack universiteit oorgeslaan en dadelik in die gasvryheidsbedryf begin werk. 

Hy het sy loopbaan by die Admiral Codrington-kroeg in Chelsea begin voor hy by die Markham Inn ingeval het, skryf The Sun.

Dit was daar dat hy en prins Harry en die klubbaron Guy Pelly mekaar ontmoet het. Guy het hom toe aangestel om die wêreldberoemde, eksklusiewe kuierplek Mahiki te bestuur.

Maar hy is in 2010 by die gewilde klub in Londen weg om sy eie groothandelonderneming te begin. Hy is ook die Britse ambassadeur vir Casamigos, George Clooney en Rande Gerber se tequila-handelsmerk.

4. Sy toekomstige skoonmense hou reeds van hom 

Prins Andrew het met lof van Jack gepraat nadat die verlowing bekendgemaak is. Hy het hom ’n “absoluut uitstaande jong man” genoem. 

“Ek is regtig verheug vir hulle,” het hy gesê. “Ek is in die wolke en wens hulle geluk toe.” 

En Sarah Ferguson is ekstaties oor Jack se loopbaankeuse. 

“Die goeie nuus is Jack werk ook as die Europese bestuurder vir Casamigos Tequila; dus is dit ideaal,” het sy gesê. “Hy sal net vir my die tequila aangee en sê: ‘Komaan, skoonma, sluk’.”

Koningin Elizabeth is ook in haar noppies, voeg Eugenie by.

“Sy het ons voorspoed toegewens, en dis wonderlik. Dit is lekker dat sy so bly is vir ons,” het Eugenie aan BBC se Matt Baker gesê.

Prinses Eugenie. Foto: Gallo Images/Getty Images.

5. Sy familie meen hy het ’n slag geslaan 

Joanna Newton het nie doekies omgedraai toe sy van haar kleinseun se verlowing aan ’n lid van Engeland se beroemdste familie gepraat het nie. 

Terwyl sy “verheug daaroor” is, het sy ook bygevoeg sy het nooit verwag gewone ou Jack sou ’n prinses se hart wen nie. 

“Hy is ’n sjarmante seun en alles, maar nie die intelligentste nie en ek het nooit gedink dit sou gebeur nie,” het sy aan The Sun gesê. 

“Ek sou hom gewoon noem. Ek sou nie sê daar’s iets spesiaals aan hom nie. Hy is ’n aantreklike, gawe ou en ek dink dit sê baie oor Eugenie dat dit hy is wat sy wil hê, en dis lieflik.” 

6. ’n Beskeie nettowaarde 

Eugenie het ’n beduidende nettowaarde van sowat R69 miljoen danksy trustfondse wat die koninginmoeder en haar ouers vir haar gestig het. 

Jack is ’n breukdeel daarvan werd. Express berig hy is sowat R279 000 werd.

BRONNE: THE SUN, PEOPLE, TOWN & COUNTRY, EXPRESS