“Ons is eintlik ’n bietjie woordeloos, sprakeloos. Ons kan nie verstaan dat iemand sonder Karlien se medewete so iets sou gedoen het nie,” vertel Ronel Brink, Karlien se ma en bestuurder aan Huisgenoot. 


Karlien het Vrydag al self ’n breedvoerige verklaring op Instagram geplaas waar sy self haar betrokkenheid by die vervaardiging van die video ontken en haar aanhangers ten sterkste aanmoedig om die video nie te ondersteun nie. 

View this post on Instagram

Ek distansieer myself totaal en al van ‘n video wat vandag, tot my skok, vrygestel is deur Precision Music. Ek is uiters teleurgesteld in hierdie video wat saamgestel is sonder my medewete en toestemming.  Ek wil ‘n beroep doen op my vriende en ondersteuners om hierdie inisiatief nie te ondersteun nie. Die lied, WIL JY VRY, was vrygestel op my debuut album, AS DIE GORDYN VAL, in 2010.  Hierdie produk is later herverpak en die titel het verander na ‘Jakkals trou met wolf se vrou’. Ons het spesifiek hierdie lied afgehaal omdat ons gevoel het dat dit nie verteenwoordigend is van waar ek in die mark geplaas moet word nie.  Ek sal graag van die vervaardigers en Precision Music wil weet wat is die verband tussen minderjarige, onskuldige kinders met ‘n titel en tema soos WIL JY VRY ‘n song waarmee ek nooit gemaklik gevoel het nie en juis afgehaal met die herverpakking??? Hierdie is absurd en ‘n goedkoop manier van kapitaliseer.  Dit skep verwarring in baie opsigte.  1.  Ek is ‘n ma van 3 kinders (wat ek nie was in 2010 nie) en die voorstelling hiervan is onsmaaklik en totaal en al onvanpas.  2.  Dit skep die indruk by die publiek, radio en media dat dit ‘n nuwe snit is terwyl dit reeds in 2010 opgeneem is en daarna besluit is om die lied af te haal met die herverpakking van ‘Jakkals trou met wolf se vrou’. 3.  Gebasseer op kommentare wat ek reeds gesien het aanvaar mense dat hierdie inisiatief my goedkeuring wegdra wat dit beslis nie doen nie.  Ek vra omverskoning indien dit enige van my vriende en ondersteuners wat dit reeds gesien het, verwar of ontstel het.  Glo asseblief dat ek hierdie inisiatief hoegenaamd nie ondersteun nie.

A post shared by Karlien (@karlienvanjaarsveld) on


Volgens Ronel het Karlien self eers Vrydag te hore gekom van dié video. “Karlien het absoluut geen idee gehad dat daar ’n video op pad is nie. Hulle het ’n video gaan maak van ’n liedjie wat sy agt jaar gelede gesing het, lank voor sy ’n ma was,” vertel die Van Jaarsveld-matriarg. 

“Ons het nie woorde om te wys hoe geskok ons was nie. Ons almal se eerste reaksie was jy kan nie arme onskuldige minderjarige kinders wys in ’n video sit met so ’n titel nie,” sê Ronel.

Wil Jy Vry was deel van haar debuutalbum As Die Gordyn Val, en is geheel al van dit verwyder met die herverpakking van die album wat onder die titel Jakkals Trou Met Wolf Se Vrou (verskyn het omdat dit nie ooreenstem met hoe sy haar in die mark wil posisioneer nie. Karlien was glo ook ongemaklik met die liedjie.


“As jy jonk in die bedryf is en iemand gee vir jou raad en sê ‘hierdie is cool, neem hierdie song op, dit gaan goed doen vir jou’ doen jy dit mos. Maar, soos wat ’n mens langer in die bedryf is, leer jy mos maar hoe werk dinge…” sug Ronel. 

Johan Vorster Songs (voor die platemaatskappy se naam na Inhoudhuis verander het), Karlien se vorige platemaatskappy, het haar ou katalogus, en die regte daarvan, aan Precision Music verkoop en dit is toe die einste Precision Music wat die YouTube-kanaal op 5 Oktober oopgemaak het en met sy tweede video, Karlien Van Jaarsveld - Wil Jy Vry (Official Music Video), mense rooi laat sien het. Karlien is tans by Coleske Artists, wat geen verbintenis hou met dié liedjie nie.
Presicion Music se amptelike YouTube-kanaal is enkele dae gelede geopen. Foto: Skermgreep
’n Aandeelhouer en woordvoerder van Precision Music, Marius Nel, sê dit was nooit hulle bedoeling om Karlien en haar handelsmerk skade te berokken nie. Karlien was nie te vinde vir die liedjie nie, vertel Marius. “Die liedjie was glo nie reg vir haar loopbaan nie, maar, die liedjie vind oral aanklank, so daarom het ons besluit om die video te skiet sonder ’n verskuilde agenda,” vertel Marius.

Die Van Jaarsvelds is boos omdat “minderjarige kinders aangemoedig word om op ’n jong ouderdom te vry”. 

“Ek weet nie of hulle hierdie ding deurdink het nie. Dis die boodskap wat jy daar aandra, en wie se naam koppel jy daaraan? ” verduidelik Ronel. “Dit staan teen alles waarteen sy haar kinders beskerm teen die buitewêreld en sy wrede goeters. Hierdie is regtig vir ons ’n baie slegte ding.”

Precision Music voel egter die bohaai is absurd. “Daar is nie ’n enkele oomblik waar ’n soen uitgeruil word nie, so daardie gedagte is verregaande,” maak Marius stem dik.

“Ons dink die musiekvideo simbolies van wat gebeur wanneer mens verlief is, jy raak nes ’n kind. Al die ouers het toestemming gegee (dat die kinders afgeneem kan word). Ons is nie van plan om die musiekvideo te onttrek nie,” sê Marius. “Die enigste manier wat ons dit sal onttrek, is wanneer die ouers voel dat al die negatiewe publisiteit skade doen aan die kinders.”

Hoewel Karlien en haar platemaatskappy Coleske Artists ten sterkste ontken dat hulle van die video geweet het, beweer Marius Karlien het geweet daar kom ’n video, maar sy het nie geweet wat op die aangaan nie. “Daarvan was sy onbewus.” Precision Music hou egter voet by stuk: “Dit moet net benadruk word, daar is geen verskuilde agenda wat Karlien of haar aanhangers wil skade berokken nie.”