In dié uittreksel uit sy boeiende nuwe memoires vertel die 85-jarige legende hoe ’n herinnering aan sy pa se ontmoeting met drie mensvreterleeus hom aangespoor het om die debuutroman te skryf wat sy pas tot vryheid sou wees en hoe sy vierde vrou hom oortuig het om aan te hou skryf toe hy wou uittree.

Ek was agt jaar oud toe my pa my my eerste geweer gee, ’n .22 Remington. Ek het my eerste dier kort daarna geskiet en my pa het, soos die gebruik was, die dier se bloed aan my gesig gesmeer.

Ek was ’n nuwe jagter en die bloed die merk van ontluikende manlikheid. Ek het dae daarna geweier om te bad.

My pa, Herbert Smith, het alles vir my beteken. Ek het hom met elke greintjie van my wese liefgehad. Hy kon ’n befoeterde ou blikskottel wees en sy waardes was streng uit die Victoriaanse tyd, maar elke seun het ’n held in sy lewe en my pa was daardie man.

Soms dink ek die wêreld was te klein vir sy swewende, rebelse gees; dalk is dit waarom hy so obsessief oor lugvaart was. Hy het my na een van die Wright-broers, Wilbur, genoem, wat saam met sy broer Orville die eerste beheerbare vliegtuig gebou het.

Ek weet nie of ek ooit die hoogtes bereik het wat hy van sy seun verwag het nie – hy het gedink boeke lees is tydmors, en skryf was vir hom nog onbegrypliker.

Hy was ’n praktiese en aktiewe man, ’n doener. ’n Probleem was vir hom iets om op te los, nie om oor na te dink nie.

Van jongs af wou ek ’n skrywer word. Ek geniet dit om stories te vertel.

“Dit is ’n dom idee,” het my pa gesê. “Jy sal van honger omkom. Gaan kry ’n regte werk.”

Sy debuutroman, When the Lion Feeds, was ’n internasionale blitsverkoper.

In 1962 kom ek voor ’n kwelgedagte te staan: My pa is dalk reg. Ek is 29 jaar oud, sit in die slaapkamer van my deurmekaar woonstel en staar na die 20ste verwerpingsbrief wat ek ontvang het vir die roman wat ek as my meesterstuk beskou het, The Gods First Make Mad.

Ek weet nie waar die drang vandaan kom om stories te vertel nie. Al wat ek weet, is dis in my vandat ek my eerste sin kon saamstel en boeke my troos was in die aaklige tyd toe ek by Michaelhouse in die Natalse Middelland op kosskool was en eerder op enige ander plek wou wees.

Op 25 aanvaar ek ’n pos sonder vooruitsigte by Haar Majesteit se binnelandse inkomstediens in Suid-Rhodesië (nou Zimbabwe) en skryf is my ontvlugting. Teen daardie tyd is ek geskei, ’n enkelpa met twee kinders en so te sê platsak. My werk as belastingaanslaer is sieldodend; die aande lank en eensaam.

Die enigste pluspunt van die werk is ’n byna onbeperkte voorraad papier – al is dit met Haar Majesteit se wapen versier – penne en baie vrye tyd.

’n Jaar lank verwyl ek die nagte met ’n pen in die hand terwyl ek my eerste poging tot ’n roman op papier uitstort. Teen die einde daarvan is ek oortuig van my vermoëns as skrywer.

Maar namate die hoop verwerpingsbriewe, wat per telegram uit Londen gestuur is, ál hoër word, begin ek besef wat ek tot nou toe misgekyk het. The Gods First Make Mad is nie die baken van fiksie wat ek gedink het dit sou wees nie. Dit is ’n afgryslik aanstellerige titel vir ’n selfs swakker boek.

Ek het al die foute van ’n nuweling-skrywer gemaak, blindelings in elke vertelstrik getrap, gedink ek is talentvoller as wat ek is – en nou is dit so duidelik soos daglig.

Op die bladsye het ek meer karakters as in War and Peace versin. Die seks daarin is grof geskryf, gegrond op ’n jong man se onverfynde fantasieë. Dit laat my ineenkrimp wanneer ek dit lees.

My lewensvaardighede wat vroue betref, bestaan uit los gelukkies op die tennisbaan, ’n gevroetel agter in ’n Model T-Ford en ’n huwelik wat katastrofies misluk het.

Ek was gek om dit weg te stuur. Dit was ’n skok wat my vertroue ’n knou gegee het. Mislukking word ’n knaende las en verwerping is ’n streng leermeester.

Ek verbind my opnuut tot die daaglikse sleur van die lewe as belastinginspekteur. Van nou af sal my enigste skryfwerk die eindelose velle belastingaanslae wees wat ek uitstuur.

En hier kon die storie geëindig het: net nog ’n man wie se drome op die altaar van die werklike lewe geoffer is; van die gesloof om huur en rekeninge te betaal, van werk wat jou wese aftakel en ambisie wat opsygeskuif is as iets onmoontliks en onrealisties en nie meer die moeite werd om na te jaag nie.

Dalk sou ek nog dekades lank as belastingaanslaer bly werk het, want ’n jaar lank hoor ek niks van Londen nie en Londen hoor niks van my nie.

Toe kom ’n telegram aan uit Londen. Dit is van my agent, Ursula Winant, en sy vra waar’s my nuwe roman. Ek staar na die woorde terwyl ek in dieselfde somber slaapkamer sit waar my drome verpletter is.

Ek het al die foute van ’n nuweling-skrywer gemaak, blindelings in elke vertelstrik getrap, gedink ek is talentvoller as wat ek is – en nou is dit so duidelik soos daglig.
Tydens ’n toer van Europa in die 1960’s.

Dit lyk ongelooflik dat Ursula dalk verwag het ek moet nog ’n roman skryf nadat uitgewers oor die wêreld heen my eerste poging afgekeur het. En tog, hier is ’n telegram wat my aanmoedig om weer te probeer.

’n Ruk lank probeer ek dit uit my gedagtes verban. Ek onthou my pa se woorde: Die lewe word nie in die bladsye van ’n boek geleef nie. 

Maar ek het ’n rebelse streep en dalk is dit tyd om my pa te wys wat in my steek. Teleurstelling kan ’n ongelooflike aansporing wees, as dit jou nie doodmaak nie. Ek het nog nooit teruggedeins wanneer ek voor ’n uitdaging te staan kom nie.

Op 29 jaar, in 1962, tel ek my pen op om te begin, en ’n ou herinnering kom by my op: die keer toe ek in die nag wakker word, uit my tent kruip en sien hoe my pa drie mensvreterleeus in Noord-Rhodesië (vandag Zambië, waar Wilbur gebore en getoë is) koel en kalm skiet.

Ek kyk af. My pen beweeg reeds oor die blad.

“When the Lion Feeds” is die woorde wat ek neergeskryf het. Ek het ’n titel. Eindelik is ek op dreef.

Ek reis en beleef avonture van Europa tot Alaska, van Afrika tot Rusland, verken China en Amerika, jag, duik, vlieg en seil.

When the Lion Feeds word ’n blitsverkoper, gryp lesers oor die wêreld heen aan en skop die loopbaan af wat my in my lang lewe soveel avonture sou bied.

Teen 1972 het ek £1 miljoen pond (toe R1,9 miljoen) as skrywer gemaak, ’n reusebedrag vir enigiemand, veral ’n skrywer, en meer as wat ek ooit kon droom om as belastingaanslaer te verdien.

Ek is nie fabelagtig ryk nie – ek veronderstel ek kan in daardie stadium met ’n suksesvolle dokter of ’n topprokureur vergelyk word – maar dit gaan nie oor geld ter wille van geld nie, maar eerder die vryheid wat dit vir my kan koop om te reis, na te vors en te skryf.

Ek reis en beleef avonture van Europa tot Alaska, van Afrika tot Rusland, verken China en Amerika, jag, duik, vlieg en seil.

Belangriker nog, ek kry dit alles reg voor ek 40 word, ’n mitiese mylpaal wat ek altyd geglo het die deurslag gee of jy sukses in jou lewe sal behaal of aan middelmatigheid en onvervulde verwagtings oorgelewer sal wees.

My pa het altyd gesê: “As jy dit nie teen 40 haal nie, sal jy dit nooit haal nie.”

Op 12 April 1985 sterf my pa. Trane rol oor my wange toe ek langs sy graf staan. ’n Groot man is weg en sy gapende afwesigheid in my lewe sou nooit verdwyn nie. Ek het hom liefgehad en bewonder en die wêreld is nou kleiner.

Pa het 20 jaar tevore ophou rook, maar die skade was reeds gedaan. In sy laaste dae het hy broser en skraler geword, maar in my oë het sy siel nie verskraal nie en het hy die reus van ’n man gebly wat een skrikwekkende nag 50 jaar tevore drie mensvreterleeus afgemaai en daardeur sy jong seun se lewe gered het.

Al het ons in baie opsigte verskil, het ons later in ons lewe dieselfde kenmerke in mekaar begin herken: Die begeerte om vir niemand anders te werk nie wat my pa voortgedryf het om sy onderneming te bou en plaatmetaal te vervaardig en te verkoop sodat hy sy eie baas kon word, het my ook voortgedryf om te skryf.

Ons albei wou ons eie lewenspad bepaal.

Omring deur stapels van sy boeke by sy uitgewer se drukkery.

My pa het weinig belangstelling in romans getoon, selfs myne, al het my ma vertel hy het ’n eksemplaar van When the Lion Feeds in die kattebak van sy motor rondkarwei om vir sy vriende te wys.

Ek is dankbaar hy het my sien sukses behaal, al was dit in ’n beroep wat hy geminag het, en ek dink daar was ’n bietjie trots iewers in sy binneste weggesteek.

Hy was altyd spaarsaam met lof; dalk het hy gedink dit moedig luiheid aan. Maar een oomblik sal my altyd bybly: Op my 50ste verjaardag het hy my vir die miljoenste keer ’n idioot genoem.

Ek het gesê: “Pa, jy kan nie meer so sê nie. Ek het jou verkeerd bewys. ’n Idioot skryf nie blitsverkopers nie.”

Hy het gegrinnik, my stip aangekyk en gesê: “Ek skat jy het!”

En toe gee hy my ’n stywe drukkie. Pa het nie veel drukkies gegee nie. Dit het vir my baie beteken. As ek nou terugkyk, weet ek my verhouding met my pa het ’n invloed gehad op die manier waarop ek oor die karakters in my romans dink.

Familietwiste, lojaliteite en wedywerings, jaloesie en liefde – dit alles sorg vir drama in my romans. Soos alle ander dinge spruit dit uit ervaring.

Die wesenlike konflikte van die lewe – broers teen broers, pa’s teen seuns – definieer mense sedert die oertyd, en klassieke tekste soos die Bybel en die Griekse mites, en skrywers soos William Shakespeare, het die manier gevorm waarop ek my stories saamstel.

Toeval en gelukskote het keer op keer my lewe ’n ander rigting laat inslaan, maar soms, wanneer die sterre in gelid staan, kan iemand wat jy teëkom elke storie oorskadu wat ooit vertel is.

Dis wat gebeur het toe Mokhiniso Rakhimova per ongeluk my wêreld binnestap. Op 18 Januarie 2000 bevind ek my by die WH Smith-boekwinkel op Sloane-plein, Londen.

Daar loer moontlik die mooiste vrou wat ek al ooit gesien het ook deur die venster na die uitstalling boeke. Ek verkyk my aan haar. Iets noop my om haar te volg toe sy die boekwinkel binnestap.

Terwyl sy deur die rakke kyk, tel ek ’n boek van ’n tafel af op en probeer dit lees, maar ek bly in haar rigting kyk.

Wie is sy? dink ek. Waar kom sy vandaan? Wat is haar storie? Die rakke met ’n mededingende skrywer se boeke lok haar en sy blaai daardeur om te besluit watter roman om te koop. Toe gryp ek my kans aan.

Ek sê hallo en vra verskoning dat ek haar steur. Sy kyk my kil aan, weeg my op en toe glimlag sy.

Terwyl ek begin praat, sê sy sy’s ’n student en haar dosent het haar aangeraai om ’n dik boek te koop wat sy hardop kan lees – iets om haar te help om haar Engels te verbeter.

“Ek het net die ding,” sê ek, neem haar hand en lei haar na ’n ander deel van die winkel met die boeke van skrywers wie se name met “S” begin.

“Hier,” sê ek, “dit is wat jy moet lees.”

Daar voor ons staan ’n rak van my romans met my foto wat van ’n reklameplakkaat af terugstaar. Ek dink nie sy herken my nie, want sy lyk glad nie beïndruk nie.

Ek kies ’n boek – tot vandag toe kan ek nie onthou watter een nie – koop dit vir haar en dring daarop aan om dit te onderteken.

Terwyl ek my naam krabbel en aan ’n geskikte inskrywing dink, tuimel woorde soos “jy is die mooiste vrou wat ek nog ontmoet het” en “kan ek jou asseblief weer sien” deur my gedagtes. Ek weet nie wat om te skryf nie.

En ’n stem fluister vir my: Smith, jy kan nie hierdie oomblik laat verbygaan nie.

Vir die eerste keer in my lewe kan ek geen woorde vind nie en ek moet my toevlug tot ’n eeue oue vraag neem: “Is jy nie honger nie?”

Kort voor lank sit ons aan vir middagete in Caviar Kaspia in Mayfair. Ek het geweet sy sou nie nee sê nie – sy is immers ’n student – en sy verorber ’n groot porsie puik kaviaar.

Ek vind uit sy is in Tadjikistan, ’n voormalige staat van die ou Sowjetunie, gebore. Sy het ’n regsgraad aan die Universiteit van Moskou behaal en met ’n werkvakansie Engeland toe gekom in die hoop om haar Engels te verbeter.

Toe ek haar vertel ek is voltyds skrywer, sê sy sy is jammer ek is platsak, want in die voormalige USSR was skrywers brandarm.

Ek het ’n kans met die liefde gewaag, maar dit het baie goeie vrugte afgewerp.
Wilbur en sy vierde vrou, Niso, in hul pragtige tuin by hul huis in Kaapstad.

Sy het nog nooit van Wilbur Smith gehoor nie en daarvoor is ek dankbaar.

Dit is die begin van ’n warrelwindromanse. In ’n oogwink het Niso my lewe verander. Dit maak nie saak sy is veel jonger as ek nie (Wilbur was toe 67 en Niso 28) en dit lyk of dit ook nie vir haar saak maak nie.

Vyf maande later, in Mei 2000, trou ons in Kaapstad in die landdroshof met my prokureur as getuie.

(Dit was sy vierde huwelik. Wilbur is in die 1950’s met sy eerste vrou, Anne Rennie, getroud en hulle het ’n seun, Shaun, en ’n dogter, Christian, gehad. In die 1960’s is hy met sy tweede vrou, Jewell Slabbert, getroud, die ma van sy seun, Lawrence. Sy derde vrou, Danielle Thomas, het in 1999 aan breinkanker gesterf.)

Ek het ’n kans met die liefde gewaag, maar dit het baie goeie vrugte afgewerp. Ek was nog vir geen oomblik daaroor spyt nie. Dit het in elke opsig nuwe lewe in my geblaas op ’n manier wat ek nooit gedink het moontlik is nie.

Dit is baie opwindend om die lewe deur die oë van ’n moderne meisie te sien, ’n intelligente, sensitiewe en vrygewige vrou wat so volkome toegewy is aan my en dit wat die wêreld kan bied.

In ’n stadium het ek dit ernstig oorweeg om op te hou skryf. Niso het dadelik ’n stokkie daarvoor gesteek.

“Oukei, my skat, wie is jy nou?”

Ek het gesê: “ ’n Skrywer.”

Sy het gevra: “Wie sal jy wees wanneer jy uittree?”

En sedertdien, die afgelope 18 jaar, is die woord “uittrede” uit ons woordeskat verban. Ek hoef nie meer te skryf nie – finansieel is dit lankal nie meer vir my nodig nie – maar ek hou daarmee aan, want ek put soveel plesier daaruit om stories te vertel.

Stephen King het eenkeer baie goedhartig gesê: “Jy kan in Wilbur Smith se wêreld verlore raak.”

Wel, ek raak ook in Wilbur Smith se wêreld verlore.

In ’n stadium in my lewe was gevaar vir my baie opwindend: Ek het gevlieg, met vinnige motors gery, met nog vinniger vroue uitgegaan en gevaarlike diere gejag – al die aktiwiteite wat my tot op die rand van die afgrond gedryf het.

Ek het moeilike tye beleef: verbrokkelde huwelike, geliefdes wat in my arms sterf en ’n gewerk tot laat in die nag sonder om iets te bereik.

Maar dit alles het uitgeloop op ’n fenomenaal vervulde en wonderlike lewe saam met ’n vrou wat in die herfs van my dae my sielsgenoot geword het.

My doelwit is nou om te skryf tot ek 100 word en met dieselfde lewenslus te leef as waarmee ek die karakters in my boeke besiel. 

Foto's: JACQUES STANDER, GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, AAI/FOTOSTOCK SA, verskaf
’n Uittreksel uit On Leopard Rock – Adventures from My Life deur Wilbur Smith (Bonnier-uitgewers), R279 by takealot.com). Die prys was korrek teen druktyd en is onderhewig aan verandering sonder voorafkennisgewing.