Voor die moderne wit-en-grys gesinshuis in Boston, Bellville, staan twee nutsvoertuie, elk met ’n bordjie in die agterste venster: Baby on board. 

Maar daardie “baba” is nou al ’n bekkige tweejarige met haar eie musieksmaak. 

In haar babadae het haar pa vir haar musiek van The Beatles gespeel, maar nou luister sy na liedjies uit flieks soos Frozen en Disney se bekroonde tekenprent Coco.

Daarin is ’n musikantpa wat vir sy dogtertjie liedjies skryf, nes haar pa.

Klein Alex Lila weet haar van is Badenhorst, maar ook dat sy nog ’n van het – een so borrelend soos haar persoonlikheid: Van Coke.

“Sy roll met al twee,” vertel haar trotse pa, die rocker Francois van Coke van Fokofpolisiekar wat 99% van die tyd sy handtekening as sy verhoognaam, Van Coke, maak. 

francois van coke
Klein Alex Lila deel haar pa se liefde om mense te vermaak. Foto: Andre Badenhorst Photography

En ja, hy is besig met twee liedjies met Alex ingedagte, verklap hy.

Sy is pa se klein patroon en seker een van die koelste kleuters wat ’n mens kan ontmoet. 

Die dag voor Huisgenoot se kuier by die gesin se huis waar hulle drie jaar gelede ingetrek het, is Alex in haar element tydens ons fotosessie in The Old Biscuit Mill in Woodstock, Kaapstad. 

Soos ’n wafferse klein rocker wys sy vredestekens op haar vingertjies. 

Sy spring op en af nes haar pa op die verhoog. Sy dra net sulke swart Converse-tekkies soos syne saam met ’n swart broek met blinkertjies op. 

Sy was al by talle optredes waar “pappa sing”. Haar gunstelingliedjie wat hy saam met die Polisiekarre sing, is Maria. 

Oom Hunter Kennedy, die groep se kitaar­speler, het dit vir sy dogtertjie, Maria (3), geskryf. 

Sy en Alex is beste maats.

En wanneer “pappa op tiewie is”, byvoorbeeld in The Voice South Africa, M-Net se sang­kompetisieprogram met Francois (38) as een van die afrigters, sit Alex voor die kassie vasgenael. 

Hy was ook verlede jaar in sy eie speletjiesprogram, Die Van Coke Show, op kykNET. 

Maar weg van die verhoog, die TV-­kameras en die kollig is hy hier by die huis net ’n wederhelf en pa. 

“Hy is ’n wonderlike, betrokke pa,” sê sy vrou, Lauren (35). 

“Hy help met alles – van die doeke tot om haar in die bed te sit en vir haar Disneystories te lees.”Alex Lila se geboorte op 7 November 2016 het hul lewe verander. “Ons is nie meer so selfsugtig nie. Dis awesome,” sê Lauren.“Sy het vir ons ons regte doel in die lewe gegee,” beaam Francois. 

“Dit was goed en reg saam met Lauren,” sê hy oor sy vrou van die afgelope sewe jaar. “Maar Alex het ons lewe beter gemaak. Wanneer jy ’n kind het, weet jy hoekom jy hier is.”

Sy dogter is selfs ’n groter ekstrovert as hy, gesels Francois by hul huis in die noordelike voorstede van Kaapstad – die “’burbs”, soos die rocker dit beskryf. 

View this post on Instagram

?? @laliewild ?? @fokofbar ??

A post shared by Francois van Coke (@francoisvancoke) on

Hy het teen sy eie verwagting in ’n gesinsman geword en daarby in die afgelope 16 jaar ’n suksesvolle loopbaan opgebou.

“Toe ons met Fokofpolisiekar begin, het ek nie gedink ek sal ouer as 30 word nie. My mikpunte was maar laag. Ons het alles in ’n haze van paarties gedoen. Ek sou nooit kon dink ek sou ’n langtermynloopbaan uit musiek maak nie,” erken hy.

Hy en Lauren, ’n grafiese kunstenaar, ken mekaar al van voor daardie storm-en-drang-tye. 

Hulle het mekaar 17 jaar gelede ontmoet toe hulle in dieselfde woonstelblok, St. Martini, in die middestad van Kaapstad gewoon het. 

Hul vriendskap het deur die jare in liefde ontwikkel en in 2012 is hulle getroud.

Nou woon hulle en klein Alex in hul eie huis nadat hulle voorheen ’n huis in dieselfde woonbuurt gehuur het. In die treffer­liedjie Toe Vind Ek Jou wat Francois vir Lauren geskryf het, sing hy juis: Jy’s my lied / Jy’s my wysie / Ons het ’n hond / Ons het ’n huisie . . .

In die ingangsportaal hang ’n illustrasie van die gesin – mamma, pappa, baba en die ontslape bulhond Ringo. Anja Venter, die tromspeler Snake (Jaco Venter) se suster, het dié tekening met ’n koki-­pen geteken.

Ringo van Coke, wat byna meer aanhangers as sy baas op Instagram gehad het, is aan die einde van 2017 weens ’n hartaanval dood.

“Ons sal weer ’n bulhond wil hê, maar met geite soos hul asemhalingsprobleme en gesigte wat gewas moet word, is hulle soos babas,” merk Lauren op.

francois van coke
Francois se geliefde bulhond, Ringo, is einde 2017 weens ’n hartaanval oorlede. Foto: Misha Jordaan

Maar dan skerts Francois: “Een baba in doeke is genoeg.” 

Alex is vanoggend by die kleuterskool, maar oral in die oopplanhuis waardeur die lig spoel, is haar teenwoordigheid merkbaar. 

By die stoof hang ’n geraamde prentjie van haar handafdruk op ses maande as deel van ’n dinosourus wat hulle die naam Alexaurus gegee het.

Ma Lauren het die naam Alex vir hul eersteling gekies omdat dit genderloos is.

Die vorige aand het hulle drie vir die eerste keer saam na The Voice South Africa op TV gekyk. 

Daarin kies deel­nemers wat die oudisie slaag self watter van die vier afrigters – Francois, Riana Nel, Riky Rick en Lira – hulle onder hande moet neem.

“Hoekom kies julle hom nie?” het Lauren gedink, want Francois het toe nog net vyf sangers in sy span gehad. 

“Die minste van almal,” sê hy self. “Maar hou my dop, ek haal in,” verklap hy.

Al geniet hy dit om saam met soveel uiteenlopende kunstenaars te werk, gee hy toe verwerping is “nie lekker nie”.

“Ek is ’n people pleaser en dis moeilik om dit te verwerk. As jy in die openbare oog is, moet jy ’n dik vel hê vir kritiek. Aanlyn is dit nog erger. Enig­iemand iewers in ’n Afrikaanse voorstad wat nie ’n gelukkige dag by die werk gehad het nie, kan dan vir jou vertel hoe sleg jy is. 

“Ag, dis deel van die game,” laat hy dan gelate hoor.

“Ons het aan die begin ook met Fokofpolisiekar teenkanting gekry.” 

Maar vandag kan jy ’n Fokof Lager, die groep se eie bier, bestel sonder dat iemand ’n oog knip. Die groep besit ook hul eie kroeg in Pretoria. 

Die naam? Fokof Bar, natuurlik.

Met dié dat hierdie taboe woord hul handelsnaam geword het, hoe keer die ouerpaar dat Alex dit lustig by haar kleuterskool gebruik?

“Alex weet nog nie van Fokofpolisiekar nie,” antwoord Francois. “Sy weet ek speel in ’n band en sy was al by die shows, maar sy het nog nooit die naam gesê nie. Dit sal seker nog kom . . .”

Is 'n kleinboet of -sus eersdaags vir klein Alex op pad? 

“Ons is nog nie 100% seker oor nog een nie, maar ons praat daaroor,” sê Francois.

“Ons is happy vir eers,” voeg Lauren by. 

Sy werk van die huis af aan Francois se handelsware onder die naam Van Coke’s op die internet. Sy ontwerp items soos T-hemde met die woorde “Die wêreld is mal” daarop – die titel van een van Francois se solotreffers. 

Sy bedryf ook ’n aanlyn winkel saam met ’n vriendin, The Fam Shop, wat klere te koop bied met woorde soos “Oupa”, “Ouma”, “Mamma” en “Pappa” daarop.

Haar droom vir Alex is dat sy “eendag ’n gelukkige en onafhanklike vrou” sal wees “wat vir haarself kan dink”.

En sê nou maar daar daag eendag ’n rocker soos ’n jong Francois van Coke by die huis op om vir haar te kom kuier? 

“Ek sal hom wegjaag,” sê Francois dadelik. “Maar as hy lief is vir haar, sal hy net so hard werk soos ek vir Lauren gewerk het. Dit het jare geneem om haar ouers se guns te wen. Maar dit was die moeite werd.” 

  • Francois van Coke & Vriende, die rockkonsert wat verlede jaar in Pretoria ’n gehoor van 8 500 gelok het, gaan binnekort Kaap toe. Dit word op Vrydag 3 Mei in die Grand Arena in GrandWest in Goodwood gehou. 
  • The Voice South Africa word Sondae om 17:30 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai.