Die Aladdin-akteur het onlangs op 'n video van 17 minute op YouTube sy eerste kolonoskopie met sy aanhangers gedeel nadat sy dokter hom aangemoedig het om een te kry noudat hy die 50 jaar-kerf verbygesteek het.

In die video wys die 51-jarige Hollywood-ster hoe hy ure voor die prosedure net op water geleef het en hoe hy onder verdowing geplaas word, berig E! News.

Voor die prosedure het Will op kamera nog grappies gemaak en vertel dit voel asof hy... Wel, hy het dit so gestel: "I feel like I have to poop. Do I have to poop? Or was there a camera up my a** that's giving me the sensation?"

Maar dit was nie alles snaaks en grapperig nie, want dae ná die prosedure is die pa van drie deur sy dokter gekry dat hulle 'n poliep, wat 'n voorloper van kanker kan wees, uit sy kolon verwyder het. 

Dit wil sê die deel wat verwyder is, kon in kanker ontaard het as Will nie vir 'n kolonoskopie, soos sy dokter hom aanbeveel het, gegaan het nie. 

In die vlog vertel die pa van drie se dokter hoe die kanker sou gegroei het as sy nie die poliep verwyder het nie. Hy sou nie simptome gewys het nie en teen die tyd wat dit gediagnoseer sou word, sou die kanker reeds deur sy hele liggaam versprei het. 

Sy dokter het hom bedank dat hy na haar geluister het om vir die kolonoskopie te gaan en dat hulle die poliep vroegtydig kon verwyder het. 

Die roetine kolonoskopie het beslis Will se lewe gered.

Will is al 22 jaar lank getroud met die aktrise Jada Pinkett Smith (48). Die paartjie het twee kinders, Jaden (21) en Willow (19). Hy het ook 'n seun, Trey (27), uit sy huwelik met sy eksvrou, Sheree Zampino (52).

Die akteur het op The Ellen DeGeneres Show vertel hoe hy sy onlangse kankerskok ervaar het. Hy vertel hy was in 'n heel aangename bui voor die kolonoskopie. “En toe sê die dokter, ‘Oe, ja, ons het ’n voorkanker-poliep gevind’.”

Dit was toe dat hy besef het dat dit glad nie “snaaks is nie”. “Dit is 'n goeie ding dat hulle dit verwyder het,” vertel hy op dié kletsprogram. 

Hy het mense aangemoedig om hul gesondheid ernstig op te neem en vir kolonoskopies te gaan.

Bronne: E!, People