William en Kate se troue in 2011 in die Westminste
William en Kate se troue in 2011 in die Westminster-abdy was een van die spoggerigste koninklike gebeurtenisse ooit en is deur miljoene dopgehou. Hulle het soos die toekomstige koning en koningin van Engeland gelyk. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die lentelug in Londen was 10 jaar gelede die ene opwinding en vreugde toe prins William en sy beeldskone bruid uit die Westminster-abdy stap. Die wagtende skare het hulle toegejuig en 2 miljard mense wêreldwyd het vasgenael voor hul TV-skerms gesit.

Dit was die eerste koninklike troue sedert prins Charles en prinses Diana s’n wat die wêreld se verbeelding so aangegryp het.

En anders as sy ouers se huwelik wat op die rotse geloop het, is William en Kate ná 10 jaar van getroude lewe ’n gedugte span – as huweliksmaats en ouers van drie kinders, maar ook as die Britte se toekomstige koning en koningin.

Die hertog en hertogin van Cambridge kan met reg ’n glasie klink op hul 10de huweliksherdenking. Hulle het in die eerste dekade van hul huwelik gegroei wat selfvertroue en volwassenheid betref, maar ook grasie, humor en hartlikheid.

Anders as prins Charles wat destyds met raadgewers en vertrouelinge koppe bymekaargesit het oor die keuse van ’n bruid, het William self sy vrou gekies – en hy het goed gekies.

“Hy het ’n sterk vennoot in Kate, wie se onwrikbare koersvastheid haar man se meer intense kant goed balanseer,” sê die koninklike biograaf Robert Lacey.

“Hulle sien om na mekaar. Hulle is trots op mekaar. Hul huwelik werk.”

Kate en William is gelykes, sê ’n vriend van die paartjie. “Hulle het ’n sterk verhouding en sy gee hom selfvertroue. Daar is geen jaloesie, geen wrywing nie – hulle is bly oor mekaar se sukses.”

DIE BEGIN

Ná hul troue op 29 April 2011 het hulle in ’n afgeleë gehuurde plaashuis in Anglesey, Wallis, gaan nesskop waar William toe as soek-en-reddingsvlieënier vir die koninklike lugmag gewerk het.

Hulle het verkies om sonder enige personeellede uit die paleis klaar te kom en Kate het self vir haar man sy gunsteling­etes gekook.

Hulle het hulself “meneer en mevrou Cambridge” genoem en naweke op sy Ducati-motorfiets op die platteland rondgerits. Sy het konfyt gekook en koek gebak wat hy vir sy kollegas by die werk kon saamneem. Hulle het aandjies uit by die plaaslike teater of kroeg geniet.

“Hierdie tyd herinner aan hoe gelukkig die koningin en prins Philip destyds in Malta was toe hy saam met die konink­like vloot daar gestasioneer was,” skryf die koninklike verslaggewer Richard Kay.

“William het nes sy ouma die streng formaliteite van die koninklike lewe so lank moontlik uitgestel.”

William het goed geweet hoe erg die druk van die koninklike lewe vroeg in haar huwelik vir sy ma was. Hy was vasbeslote om sy vrou, wat van nature skaam is, dieselfde lot te spaar.

“Sy raad aan Kate was nog altyd: ‘Wees net jouself,’ ” het ’n vriend aan die tyd­skrif People vertel.

Kate was nie net van William se steun verseker nie, maar ook van koningin Elizabeth s’n. “Haar Majesteit was bly dat haar kleinseun vir liefde getrou het,” sê die koninklike skrywer Ingrid Seward.

“Ek dink nie Kate se agtergrond was ooit vir die koningin ’n probleem nie. Die enigste ding wat vir haar saak gemaak het, is dat Kate die eienskappe moet hê om ’n goeie koningin te wees, en sy het al van vroeg af gewys sy het dit wel.”

Kate maak hom ook gelukkig, voeg Ingrid by. En dit het die wêreld vir sy ouma beteken.

HULLE VIND HUL VOETE

Met hul eerste amptelike buitelandse besoek – aan Kanada in 2011 – was Kate senuagtig, maar vasbeslote om haar goed van haar taak te kwyt.

“Sy het aand ná aand protokol bestudeer, met die koningin se hofdames gesels en by diplomatieke raadgewers aangeklop,” vertel die koninklike ver­slag­gewer Rebecca English.

En dit het vrugte afgewerp.

Die hertogin het die skares in Kanada so bekoor dat die media van “die Kate-effek” gepraat het.

Al het van die tonele aan Beatle-manie herinner, het Kate tog soms onseker gevoel. “Vaar ek oukei?” het sy eenkeer ten aanhore van ander vir William gevra.

“Kate het gou van haar aanvanklike senuagtigheid vergeet,” vertel ’n paleisbron. “Almal was dit eens: Hierdie vrou is net haarself. William het altyd geweet om met hom getroud te wees sou nie maklik wees nie; daarom is dit verstaanbaar dat hy in sy noppies was met haar gewildheid.”

TOEGEWYDE OUERS

Die koninklike egpaar saam met prins Louis (links)
Die koninklike egpaar saam met prins Louis (links), prinses Charlotte en prins George in Desember verlede jaar by ’n pantomime in Londen. Foto: Gallo Images/AFP

Die toegewyde ouerpaar wou so min moontlik van hul kinders geskei wees en het hulle selfs op van die koninklike toere saamgeneem.

Prins George was net nege maande oud toe hy in April 2014 saam met sy ouers op ’n amptelike besoek aan Nieu-Seeland en Australië vertrek het.

In 2016 is prinses Charlotte (toe 16 maande) en haar ouboet albei saam Kanada toe, en met ’n besoek aan Pole die volgende jaar het William en Kate weer so gemaak.

“Die hertogin, wat instinktief uiters privaat is, helder op wanneer sy oor haar kinders praat,” vertel Rebecca.

William en Kate was altyd vasbeslote om so betrokke moontlik by hul kinders te wees. “Hulle probeer die kinders self by die skool oppik en aflaai,” vertel ’n bron in die familie.

“William het altyd sy kant gebring met doeke omruil en stories lees en badtyd.”

Kate het nog altyd haar kinders, ­George (7), Charlotte (6) en Louis (3), eerste gestel. In 2019 het William sonder Kate by die bewaringsorganisasie Tusk se prysaand opgedaag.

“Kate het gesê: ‘Ek kan dit nie maak nie as gevolg van die kinders,’ ” vertel ’n koninklike bron. “Dit is goed vir alle ma’s om te hoor.”

’N TOEKOMSTIGE KONING EN KONINGIN

 In 2014 is prins George saam na Australië en Nieu
In 2014 is prins George saam na Australië en Nieu-­Seeland. Foto: Getty Images/Gallo Images

Niemand is in ’n beter posisie om William vir sy toekomstige rol as koning voor te berei as sy ouma nie.

“William het as tiener geworstel met sy geboortereg en die koningin het hom elke week begin oornooi,” vertel Ingrid. “Sy was daar vir hom om te ontlaai, maar daardie sessies was ook ’n geleentheid vir haar om as mentor op te tree en hom te leer soos haar pa haar geleer het.”

Terwyl hy hom voorberei om die troon te bestyg, gaan William voort om op sy vernaamste belangstellingsgebiede – bewaring, geestesgesondheid, die omgewing en haweloosheid – te fokus.

“Sy laaste drie privaat sekretarisse het almal voorheen in regeringsdepartemente gewerk, wat hom help om sy vinger op die politieke pols te hou.” skryf die koninklike verslaggewer Roya Nikkhah in die tyd­skrif The Australian.

Tog is William glad nie haastig om sy ouma en sy pa op te volg nie.

“Ek lê beslis nie snags wakker en wag of hoop daarop nie,” het hy al gesê. “Want dit sal ongelukkig beteken my familie is nie meer met ons nie en dit wil ek nie hê nie.”

Tog sal daardie dag aanbreek en die koningin weet die toekoms van die koninklike familie en die monargie rus in die hande van haar kleinseun en sy vrou.

Kate is ’n uitsonderlike vrou, sê Elizabeth Holmes, skrywer van HRH: So Many Thoughts on Royal Style. “Jy kan 10 jaar se foto’s van haar deurkyk en daar is geen slegte oomblik nie.”

In die jare vorentoe sal die hertogin waarskynlik op vroeë kinderontwikkeling en geestesgesondheidsprojekte bly fokus.

“In ’n onstuimige wêreld wat deur onrus geruk word, sal sy steeds as ’n baken van stabiliteit gereken word,” voorspel Elizabeth.

Prins Harry en Meghan Markle se uittog uit die koninklike lewe het groter druk op die Cambridges geplaas, maar Kate is opgewasse vir die taak.

“Anders as Meghan wou Kate nooit verandering teweegbring nie. Kate dra steeds bleek kouse wat daaraan herinner dat sy deel is van ’n uiters formele instelling. Sy moet ’n fyn balans handhaaf,” meen Elizabeth.

William het jare gelede – toe hy vas­beslote was om nie te gou te trou nie – kortliks met Kate, die meisie uit sy ­studentedae aan die St. Andrews-universiteit, uitgemaak.

Met hul gradeplegtigheid in 2005.
Met hul gradeplegtigheid in 2005.

Toe hulle ’n paar maande later weer versoen raak, het sy oorlede oupa glo ’n sug van verligting geslaak.

“Dankie tog hy het haar nie prysgegee nie,” het prins Philip gesê.  

BRONNE: DAILYMAIL.COM, PEOPLE.COM, THEAUSTRALIAN.COM, THEATLANTIC.COM, OKMAGAZINE.COM, EXPRESS.CO.UK
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe