Die ikoniese akteur William Shatner.
Die ikoniese akteur William Shatner. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Ek dink nog ek is vroeg vir my onderhoud met William Shatner toe ek 10 minute voor die tyd die skakel vir ons videogesprek oopmaak. Maar die oomblik toe Zoom voor my oopmaak, sit hy daar en druk knoppies op sy rekenaar. 

“Ek hou daarvan om vroeg te wees ter wille van gemoedsrus. Maar dis oukei; ek kan agterna mediteer,” sê hy.

Sy stemtoon is dikwels ironies, asof hy jou uitdaag om hom daarvan te beskuldig dat hy jou been trek. Dit is dié dat aanhangers dikwels “die Shatner-persona” bespreek, maar William maak dit af: “Ek weet nie eens wat dit is nie.” 

Ek dink hulle dink jy probeer mooi broodjies bak deur aan al hul verwagtinge te voldoen, sê ek. 

“Wat is hul verwagtinge? Dat ek Captain Kirk is? Wel, ek is Captain Kirk! Ek weet nie wat mense bedoel wanneer hulle van my persona praat nie. Ek is net myself. As jy nie jouself is nie, wie is jy?” 

Toevallig is daardie drie woorde presies wat ek myself afvra: Wie is jy, vreemde mens wat uit my skootrekenaar met my praat?

Hy klink beslis soos William Shatner. Maar William het in Maart 90 geword, en die man voor my lyk nie ’n dag ouer as 60 nie. Hy bons in sy sitplek rond en draai so rats soos ’n jong man om toe hy vir my die uitsig om hom wys. 

Is dit regtig hy of dalk ’n dubbelganger? Jy lyk ongelooflik vir 90, Bill, sê ek baie versigtig.

“Neëntig?! Dis ’n leuen! Wie het dit vir jou gesê? CNN?” Ja, en elke ander nuusdiens. 

“Die media het hierdie belaglike gerug versprei. Ek is 55,” sê hy, en dit lyk regtig of hy die waarheid praat. 

Maar jy het 55 jaar gelede die eerste keer in Star Trek verskyn, sê ek en begin self twyfel. 

“Ag, oukei, dan sal ek erken ek’s 90,” grinnik hy. 

In sy ikoniese rol as Captain Kirk in Star Trek sa
In sy ikoniese rol as Captain Kirk in Star Trek saam met sy vriend Leonard Nimoy as Mr Spock. Foto: Gallo images/Getty Images.

William se pruik het selfs sy eie web-tuiste, maar sy jeugdige voorkoms strek veel verder as ’n indrukwekkende haredos.

Het hy aan hom laat sny?  “Nee. Het jý?” kap hy terug. 

Nee, want ek is net ’n joernalis en kan dit nie bekostig nie, antwoord ek. “Ha! Wel, ek het geen geheime doepa nie. Dit moet geneties wees. Ek ry baie perd en my leergierigheid oor die wêreld hou my besig. Ek maak my hart oop en is nuuskierig oor hoe dinge werk,” sê hy. 

Ek is nie seker of leergierigheid ’n bestanddeel is wat Olay kan bottel nie, maar dit werk beslis vir William. Dít, en perde. 

“Ja, ek is ’n mededingende perderuiter in ’n afdeling genaamd reining. Ek weet nie of jy dit ken nie? Dis baie atleties en cowboyagtig.” 

En dis nie ál oefening saam met diere wat William deesdae inkry nie. 

‘Wat jy op 90 besef, is: Vat dit rustig, want op die ou end maak niks saak nie. Wat opgaan, moet afkom. As ek dit op 20 geweet het, sou ek niks gedoen het nie’

“Het jy al van Shark Week gehoor?” vra hy.

Is dit daardie jaarlikse week wanneer televisieprogramme oor haaie op die Discovery Channel uitgesaai word (vanjaar van 11 tot 18 Julie)? 

“Einste! Ek was verlede maand in die Bahamas om saam met haaie te swem. Tierhaaie van 2,4 m lank! Hulle het ’n haai van 1,5 m op my skoot gesit. Dit sal alles op TV wees,” sê hy, maar dan frons hy weerbarstig. 

“Maar hulle wou hê ek moet dialoog sê soos: ‘Jip, dis ek, dié William Shatner.’ Ek praat nie so nie. Hulle het hierdie idee gehad van my persona – soos jy sou sê – en dit was net die een of ander idioot.”

Hy gesels met my vanuit sy lieflike huis in Los Angeles waar hy al langer as 50 jaar woon. Sy drie dogters en vyf kleinkinders woon almal daar naby. 

Hy het sy huis “met liefde en kuns” gevul, vertel William trots. Trouens, dis met soveel kunswerke gevul dat hy nie meer nuwes teen die mure kan inpas nie, “en dis ’n groot probleem”. 

William, wat onlangs 90 geword het, en sy vierde v
William, wat onlangs 90 geword het, en sy vierde vrou, Elizabeth Anderson Martin. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Ek het aanvaar daar’s op die oomblik nie veel liefde daar nie, want in 2019 het hy op 88 van sy vierde vrou, Elizabeth Anderson Martin, geskei met wie hy toe 18 jaar getroud was. En tog, toe die landlyn lui, laat hoor hy: “Dis vir my vrou; sy sal dit antwoord.” 

Is hulle dan nie geskei nie? “Dis ’n lang storie. Ek weet nie of dit die regte tyd is om te verduidelik nie, maar ek het iets regtig moois gedoen,” sê hy en lag stilletjies. 

Het hy ongeskei geraak? “Wel, dit hang nog altyd bo ons koppe, en dit sorg dat die verhouding regtig goed is. Dalk is dit die verduideliking en ek het die oplossing gevind!” en nou skater hy van die lag. 

Het hy dus die inperking saam met sy vierde vrou deurgebring? “Ja. Is jy getroud?” vra hy en stuur die gesprek, nie juis baie subtiel nie, in ’n ander rigting. Wel, sê ek, ek woon al ’n dekade lank saam met iemand.

“En hoe gaan dit?” vra hy. Met drie kinders het ons nie veel tyd om daaroor te dink nie, antwoord ek. 

“Jy het ’n vol nes, en daardie gevoel van nesskop en behoort is baie belangrik,” sê hy.

Is dit iets wat hy onlangs ontdek het? “Ek het dit geleidelik besef,” sê hy. 

Op 90 is William steeds baie besig met talle proje
Op 90 is William steeds baie besig met talle projekte. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die afgelope tyd het ook ander dinge tot hom deurgedring, want tydens die inperking het hy aan nog ’n album gewerk. Hy het deur die jare ’n lojale gevolg opgebou met sy intense, ernstige gesproke weergawes van liedjies soos Elton John se “Rocket Man”. 

Maar ’n ware connoisseur weet die stukke wat hy self skryf, is die heel beste. Dit is uiters persoonlik, of soos hy dit stel: “Dit maak ’n filosofiese stelling en is ook betekenisvol vir my.”

Die bekendste snit op sy 2004-album, Has Been, was sy weergawe van Pulp se “Common People”, maar die merkwaardigste een was “What Have You Done”.

Daarin vertel hy, sy stem hartseer, hoe hy een aand in 1999 by die huis gekom en sy derde vrou, Nerine Kidd, aangetref het waar sy in hul swembad verdrink het. Sy was 40 jaar oud.

Met die lykskouing is bepaal dat Nerine, wat ’n alkoholis was, sterk medikasie met alkohol gemeng het. 

‘Hy was my beste vriend. Ons het oor allerhande dinge gesels’

Ek vertel hom hoe kragtig daardie spesifieke snit vir my is. Was dit vir hom moeilik om in die ateljee oor sy vrou se dood te praat?

“Ek kon nie enduit praat nie. Die opname het my talle probeerslae geneem. Ek kan sien jy het al ’n tragedie beleef, en dit gaan nooit weg nie, nè? En op wie is die vraag gemik in ‘What Have You Done’? 

“Soms dink ek dis op my gemik. Hoekom het ek nie meer gedoen nie? Ons was so verlief, en in die tyd dat ons saam was, het sy gedrink, maar ek het nie verslawing verstaan nie. 

“Ek het daarna ’n liefdadigheidsorganisasie, die Nerine Shatner-stigting, op die been gebring. Die stigting het ’n skuiling waar 11 vroue kan bly. Vroue kom na my toe en sê: ‘Jy het my lewe gered.’ Maar dis nie ek nie; dis Nerine. Sy het dit gedoen,” sê hy stilweg.

William en Leonard was dekades lank vriende, en hy
William en Leonard was dekades lank vriende, en hy was verpletter toe sy vriend in 2015 oorlede is. Foto: Gallo Images/Getty Images.

William het al vertel een mens wat hom deur die “verskriklike pyn” van Nerine se dood gehelp het, was sy medester en hegte vriend Leonard Nimoy, wat Spock in Star Trek gespeel het.

Hy het self al teen die drankduiwel baklei. Nie net is hulle ewe oud nie; hulle is ook albei Joods.

“Leonard was net vier dae jonger as ek, en sy geboorteplek, Boston, was baie soos my tuisstad, Montreal. Dis hierdie ou stede met groot geboue waar die sneeu in die strate ophoop. 

“Ek dink hy is meer Joods grootgemaak as ek; hy het Jiddisj leer praat en ek het nie. Maar die ooreenkomste tussen ons was ongelooflik.” 

In sy boek Leonard: My Fifty-Year Friendship with a Remarkable Man, wat in 2016 verskyn het – ’n jaar ná sy medester se dood weens ’n longsiekte – onthul hy dat hulle teen die einde van Leonard se lewe uitmekaargedryf het.

Hoekom dit gebeur het, kon hy nooit verstaan nie. Het hy dit sedertdien uitgepluis? 

“Nee, en hy was my beste vriend. Ons het oor allerhande dinge in die donkerte van die limousine gesels, oor egskeiding en kinders. 

“Iets het gebeur, ek weet nie wat nie; dit was so bisar. 

“Maar sy dogter het nie te lank gelede nie vir my gesê: ‘Hy was regtig lief vir jou.’ En dit het my tot trane ontroer,” sê hy.

William is in Montreal gebore en getoë as die kleinseun van Joodse immigrante uit Oos-Europa. 

“Joodsheid was ’n baie groot deel van my identiteit toe ek grootgeword het; die sinagoge, barmitswa, al die tradisionele dinge,” vertel hy.

“In snitte op my nuwe album wat ek geskryf het, is daar ’n rabbi wat die opening opsê terwyl my pa by my aandring om by hom te bly. Maar ek het uit ’n ander boek gelees.”

Pleks daarvan het William begin toneelspeel en ná universiteit as ’n sakebestuurder vir ’n teater gewerk. Hy is daarna as akteur opgelei.

Hy het sy Broadway-debuut in 1956 in Tamburlaine the Great gemaak en was Christopher Plummer se instaanspeler in Henry V

William saam met Heather Locklear en James Darren
William saam met Heather Locklear en James Darren in die polisiereeks T.J. Hooker in die 1980’s. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Het hy hom ’n lewe as ’n klassieke akteur ingedink? 

Die gedagte laat William lag. “Ek het nie geweet wat ek wou doen nie. Ek het net saam met die strome van toeval geswem,” sê hy. 

Daardie stroom het hom eindelik gelei na Star Trek, wat in 1966 uitgereik is. Binne twee jaar het dit televisiegeskiedenis gemaak toe William en Nichelle Nichols, wat Uhura gespeel het, die eerste veelrassige soen in ’n reeks op Amerikaanse televisie gedeel het. 

Tog is dit ná net drie seisoene gekanselleer. William was skielik werkloos, platsak en geskei. Hy het in ’n kampeerwa gewoon terwyl hy vir sy eksvrou en hul drie dogters probeer sorg het. 

“Dit was ’n groot terugslag. Dit was moeilik om hulle te onderhou. Al drie is eindelik universiteit toe.

“Maar ja, dit was moeilik.”

Star Trek het op die ou end ’n kultustreffer geword danksy heruitsendings op televisie. En die flieks het teen die einde van die 1970’s baie gewild geword. William, wat in ses daarvan gespeel het, hoef daarna nooit weer in ’n kampeerwa te gewoon het nie. 

Hy was deur die jare ook in twee ander televisiereekse, T.J. Hooker en Boston Legal, en het ’n gasrol in The Practice gehad. 

Hy is altyd groot pret wanneer hy in flieks soos Miss Congeniality en Dodgeball verskyn, en hy het al sowat 30 boeke – dalk met ’n bietjie hulp – geskryf. 

As die eksentrieke prokureur Denny Crane in die tr
As die eksentrieke prokureur Denny Crane in die trefferreeks Boston Legal, wat in 2004 begin het. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Maar hy weet hy sal altyd bekend wees vir Star Trek

“Ek verstaan dis ’n verskynsel. In jou en my leeftyd sal daar nooit weer so iets wees nie, want dit sal nog 50 jaar neem, en soos ons reeds gesê het, ek is al 55.” 

Hy is heel gemoedelik daaroor, maar toe ek te veel Trek-vrae (naamlik twee) vra, verander hy die onderwerp. Hy vertel van ’n projek waaraan hy onlangs gewerk het saam met ’n maatskappy, StoryFile, wat hom as ’n hologram wat kan praat, sal herskep. 

Vat dit rustig, want op die ou end maak niks saak nie. Wat opgaan, moet afkom. As ek dit op 20 geweet het, sou ek niks gedoen het nie!

“Is dit nie ongelooflik nie? Dit kan op my grafsteen wees en mense kan daaraan vrae stel. En solank die elektronika daaragter werk, sal dit permanent daar wees,” sê hy met ’n glimlag. 

Wat wens hy het hy op 20 geweet wat hy nou op 90 weet? 

“Hier’s ’n interessante antwoord!” sê hy opgewek. “Ek is bly ek het dit nie toe geweet nie, want wat jy op 90 besef, is: Vat dit rustig, want op die ou end maak niks saak nie. Wat opgaan, moet afkom. As ek dit op 20 geweet het, sou ek niks gedoen het nie!” 

Ons tyd is verstreke en ek en William groet. 

“Dis altyd die ongemaklike deel, voor jy die kamera afskakel,” sê hy, en dan in sy ironiese stem:

“Dit was lekker om jou te sien! Tot siens!” 

En toe, nes ’n 3D-hologram wanneer die elektronika eindelik ophou werk, verdwyn hy.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe