Zara en Mike. Foto: Gallo Images/Getty Images
Zara en Mike. Foto: Gallo Images/Getty Images

Zara Tindall, die dogter van die konining se dogter, prinses Anne, en dié se eksman, Mark Phillips, het Sondag ’n seun in die wêreld verwelkom. Zara (39) se man, Mike (42), ’n voormalige Engelse rugbyspeler, het die nuus verklap op sy podcast, The Good, the Bad & the Rugby.

Zara en Mike het reeds twee dogters, Mia (7) en Lena (2).

Klein Lucas Philip Tindall se geboorte op Sondag 21 Maart het vir groot drama in die Tindall-huishouding op die Gatcombe-landgoed in Gloucestershire gesorg. Zara kon nie betyds by die hospitaal uitkom nie en klein Lucas is toe sommer op die badkamervloer by die huis gebore. 

Zara se beste vriendin, Dolly Maude, wat ook die hoofstrooimeisie op Zara en Mike se troue in 2011 was, was ten tye van die geboorte by die huis saam met die egpaar.

Dolly en Zara tydens die Cheltenham-resies in 2020
Dolly en Zara tydens die Cheltenham-resies in 2020. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Dolly was daar en het besef ons gaan dit nie maak tot by die hospitaal nie. So toe moes ek in die gim inhardloop, ’n mat kry, terughardloop badkamer toe, handdoeke neerlê en toe net regstaan vir die baba se koms,” het Mike aan die aanbieder Alex Payne en die Engelse rugbyspelers James Haskell en Ellis Genge onthul. 

’n Amptelike verklaring deur die egpaar se woordvoerder het later gesê dat die koningin en prins Philip verheug is oor die nuus en dat hulle daarna uitsien om hul 10de agterkleinkind te ontmoet wanneer die omstandighede dit toelaat. Die huidige inperkingsreëls in Brittanje verbied mense om persone buite hul eie huishoudings te ontmoet.

Zara en Mike is al bykans twee dekades saam en vie
Zara en Mike is al bykans twee dekades saam en vier vanjaar hul 10de huweliksherdenking. Foto: Gallo Images/Getty Images

Lucas is nou die 22ste aanspraakmaker op die Britse troon. 

Nes in 2018 met die geboorte van prins Louis van Cambridge, die seun van prins William – Zara se neef – staan Lucas agter sy ouer susters in die troonopvolgersry. Veranderde wetgewing wat aanvaar is in 2011, voor die geboorte van Louis se ouer sibbes, prins George (7) en prinses Charlotte (5), sê dat jonger broers nie meer bo hul susters op die troonopvolgerslys inskuif, soos voorheen die geval was nie. 

Die nuweling volg ook kort op die hakke van Zara se niggie prinses Eugenie en dié se man, Jack Brooksbank, se eersteling, August. 

Lucas en August, wie se volle name August Philip Hawke is, is albei genoem na hul oupagrootjie, die hertog van Edinburgh. Zara se man, Mike, se pa se naam is ook Philip.

Mike het verder met trots gespog oor die seun waarop hy gehoop het wat nou eindelik hier is. 

“Die beste ding daarvan om by die huis geboorte te skenk, was dat ek reguit met hom televisiekamer toe is die oomblik toe hy toegedraai was. Daar was gholf op die TV. Toe dink ek ja, dis wat ek en jy nou gaan doen. Toe kom daar ’n baie ou rugbywedstryd uit 1996, Bath teen Wigan, op. Toe besluit ek hy kan ’n bietjie van dit kyk, en daarna het ek weer die gholf opgesit,” het hy laat hoor. Mike het van 1997 tot 2005 vir Bath se rugbyspan uitgedraf. 

By hul dogters, Mia en Lena. Foto: Gallo Images/Ge
By hul dogters, Mia en Lena. Foto: Gallo Images/Getty Images

Mia en Lena was nie tuis toe hul boetie gebore is nie omdat Zara reeds Saterdagaand kraampyne begin ervaar het. Albei sussies is verheug oor hul nuwe bababoetie, vertel hul pa. 

“Die probleem is, Lena sê dis ‘haar baba’. So sy wil hom heeltyd probeer optel,” verklap Mike. 

Lucas se geboorte is nog spesiaaler vir die egpaar nadat hulle in 2016 en 2018 miskrame ervaar het. 

Bronne: Sky News, Daily Mail, Sunday Times, Wired