Zara (37) en haar man, die gewese rugbyspeler Mike Tindall (39), het uiteindelik hul dogtertjie, wat op 18 Junie gebore is, se naam bekend gemaak. Die kleinding heet amptelik Lena Elizabeth. Klein Lena deel ’n middelnaam met haar niggie prinses Charlotte, wat ook na die koningin vernoem is. Prins William en Kate se dogtertjie heet prinses Charlotte Elizabeth Diana.

Lena is koningin Elizabeth en prins Philip se sewende agterkleinkind. Sy's ook die vierde kleinkind van prinses Anne, die enigste dogter van die koningin en prins Philip.

Zara en haar man, Mike, het ook ’n vierjarige dogtertjie Mia Grace.

Volgens die paartjie se woordvoerder word Lena as Lay-na uitgespreek en haar tweede naam is gekies om die koningin te eer, berig HELLO!.

“Die naam het nie ’n spesifieke betekenis nie, maar was net ’n naam waarvan hulle gehou het,” sê die woordvoerder.  

Zara en Mike het nog nie amptelike foto’s van hul kleinding gedeel nie.

Die paartjie se dogtertjie het haar opwagting gemaak meer as ’n jaar en ’n half nadat Zara in Desember 2016 ’n miskraam gehad het.

Bronne: hellomagazine.com, express.co.uk