CAPE TOWN, SOUTH AFRICA â?? AUGUST 16: Miche Solom
Miché Solomon, ook bekend as Zephany Nurse, op die rotse in Seepunt. Foto: Misha Jordaan.

In Januarie is covid-19 by haar gediagnoseer en die vrees wat sy ervaar het, het haar oorweldig, vertel Zephany (23).

“My kop was meer in ’n stryd as my lyf,” sê sy. “Dit het my op alle vlakke getoets, nes dit almal toets.”

Zephany noem die virus ’n “ongenooide boelie” omdat dit soveel vrees gebring het. 

“Die vrees en emosionele angstigheid wou my versmoor," vertel sy. "Dit was soos ’n vreesaanjaende angsaanval wat oor jou kom wat jou laat baklei vir jou lewe.”

Sy sê wanneer sy ’n beklemming op haar bors gevoel het, het dit haar gehelp om kalm te bly en haar asemhaling te reguleer.

Zephany het haar covid-ervaring ook in die sosiale media gedeel. Hier het sy onder meer vertel hoe die vrees wat sy ervaar het haar teruggeneem het na 2015 toe sy uitgevind het die vrou wat haar grootgemaak het, is nie haar ma nie. Sy het dieselfde vrees tóé ervaar.

Zephany is uit die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad gesteel toe sy twee dae oud was en het as Miché Solomon grootgeword. Jare later toe sy in die hoërskool was, het haar biologiese ouers, Morné en Celeste Nurse, haar weer gevind. 

Sy beskryf haar covid-ervaring as ’n "oorlog" wat in haar kop plaasgevind het. 

“Ek het een aand gebid en daar het ’n beklemming op my bors en rug gekom. Ek het die Here gevra of dit die swaar asemhaling is waarvan almal praat. Dit het letterlik soos ’n paniekaanval gevoel. Ek was gelukkig om te herken dat dit dieselfde vrees was wat ek in 2015 ervaar het. 

“Ek het met die vrees gepraat asof dit ’n persoon is, want ek het geweet dit wil my vernietig. Ek het vir die vrees gesê: ‘Ek herken jou. Ek weet wie jy is en ek weet waar jy vandaan kom.' 

“Een van ons pastore sê altyd vrees is soos ’n plakker. Dit is iets wat gratis op jou kom sit. Ek het vir die vrees gesê om nie op my te kom plak nie. 

“Onmiddellik het ’n mantel van outoriteit en bravade oor my gekom. Ek het dadelik die gees van vrees en alle negatiewe gedagtes verwerp.”

Sy het mense in die video aangemoedig om hul krag in God te kry. 

“Maak nie saak waardeur jy gaan nie. Die een ding wat vir my standvastig was, was die Woord van die Here. Hy het my daardeur teruggevat na wie ek is in Hom.”

Sy glo die oomblik toe sy haar outoriteit terugneem het, is sy genees en ná 14 dae het sy negatief getoets vir die virus. 

Zephany Nurse by haar biologiese ouers, Celeste en
Zephany Nurse by haar biologiese ouers, Celeste en Morné, op hul troudag. Foto: Gallo Images/Misha Jordaan

Zephany sê dit breek haar hart om te sien hoe die vrees van covid families en ondernemings vernietig. 

“Moenie toelaat dat hierdie vrees jou vaskluister nie. Staan op en laat jou stem en trane gehoor word.

“Daar is steeds hoop vir Suid-Afrika. As ons wíl herstel.”

Zephany sien hierdie hoop in haar betrokkenheid by onder meer die politiek. 

Sy is deesdae ’n lid van die Africa Restoration Alliance se vrouebeweging. “Die beweging is baie dinamies. Die vroue hierin is ernstig oor verandering in die land en om terug te ploeg in die gemeenskap. Hulle gee vroue ’n stem.”

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA â?? AUGUST 16: Miche Solom
Miché het lank weggeskram van haar identiteit as Zephany. Foto: Misha Jordaan

Sy is ook betrokke by ’n kerkgroep wat bekendstaan as Remarkable. “Die groep wil vroue in die gemeenskap bou en bystaan deur hulle te bemagtig.”

Van die projekte waarby hulle betrokke is, verskaf sanitêre doekies aan meisies wat nie skool toe gaan nie omdat hulle dit nie kan bekostig nie. 

“Dit is ons missie om die waardigheid van elke jong meisie te herstel.”