Zita en haar man, die dirigent en komponis Eddie Clayton (44), is in die wolke oor Lexi se koms en dit gaan goed met ma en dogter.

“Liewe Jesus het vir ons ’n perfekte engeltjie gestuur. Dit gaan baie goed met my en ons klein dogtertjie. Sy is gisteraand gebore met ’n noodkeiser. Sy is absoluut perfek,” sê Zita in ’n boodskap aan Huisgenoot.

Foto: Facebook
Zita en haar man, Eddie, kort ná Lexi se geboorte.

Zita vertel haar water het Woensdagmiddag gebreek en sy moes op die ou end vir ’n noodkeiser gaan.

“Dit is eintlik baie snaaks. Eddie was besig met ’n sake-oproep, en hy sê so ewe: 'As ek moet gaan is dit omdat my vrou in kraam is.' En twee minute later loop ek in en sê vir hom dis nou tyd,” sê sy.

Die ouerpaar het nie geweet watter geslag hul babatjie was voor die geboorte nie.

“Toe die dokter haar uithaal, sê hy: 'Dis ’n . . .' met ’n dramatiese pouse daarby. Ons sou nie vir enige geslag omgegee het nie, maar my hart is verskriklik opgewonde oor ’n dogtertjie. ’n Ma en ’n dogter het net so ’n hegte band,” sê sy.

Foto: Facebook
Die eerste van baie soene vir baba Lexi.

Zita vertel sy wou graag natuurlik kraam, maar dit het nie so uitgewerk nie.

In ’n Facebook-inskrywing sê Eddie hulle is baie opgewonde oor Lexi se geboorte. Lexi weeg 2,99 kg en is 45 cm lank.

Hy spot dit blyk of sy ook so kort soos haar ouers gaan wees.

Met kleine Lexi se knopie-neus en tuit-lippies lyk dit of sy haar ma se mooi gelaatstrekke geërf het.

Zita se ma en bestuurder, Michelle Pretorius, sê weens COVID-19 word niemand by Zita toegelaat nie.

“Ons doen alles met Facetime. Nie eers Eddie mag by haar wees nie,” sê Michelle. Maar sy sê dat sy nie kan wag om haar kleindogter te ontmoet nie.

Foto:Facebook
Zita en Eddie se eersteling, Lexi.

Zita sê dis baie moeilik om nie vir Eddie langs haar sy te hê terwyl hulle in die hospitaal is nie. Hy kon Lexi ook net vir ’n kort rukkie vashou, maar hulle sien uit daarna om by die huis as ’n gesin tyd saam deur te bring.

“Dit is ’n moeilike tyd om ’n kind te baar, maar dis ’n storie wat ons eendag vir haar gaan vertel – en wat ’n storie!”