Sedert dié plat-op-die-aarde skoonheid van die Oos-Kaapse dorpie Tsolo verlede November as die mooiste vrou in die heelal gekroon is, is Zozi se lewe ’n warrelwind van mediaonderhoude, gesellighede, geldinsamelings en nog glansgeleenthede – en wêreldreise. 

Maar nou kan sy eindelik die dae aftel voor haar tuiskoms op Saterdag 8 Februarie. Dis die eerste keer dat sy as Mej. Heelal na haar geboorteland terugkeer. 

“Ek kom eindelik huis toe! Die ondersteuning van my mede-Suid-Afrikaners het sedert my kroningsaand deur die heelal weergalm.

“Ek is so opgewonde om dit eindelik in persoon te voel. My tuiskomstoer sal van 8 tot 15 Februarie plaasvind. Ek hoop dat julle my die eer sal doen om die kroon tuis te verwelkom. Sien julle daar," het sy op Instagram laat hoor.

Die dag ná haar kroning in Atlanta, Georgia, het Zozi na New York vertrek waar ’n luukse woonstel vir die volgende jaar haar basis is. 

Van daar af reis sy die wêreld vol. Haar dagboek was die afgelope tyd omtrent bedrywig.

Van die opwindende oomblikke was haar eerste onderhoud as Mej. Heelal op die ontbytprogram Good Morning America.

Sy het op die program vertel dat sy amper flou geword het toe die voormalige kletskoningin Oprah Winfrey haar op Twitter gelukgewens het met haar kroning: “Geluk, Mej. Suid-Afrika, die nuwe Mej. Heelal! Ek stem saam met jou dat leierskap die magtigste ding is wat ons jong vroue vandag moet leer.”

Sy het Zozi ook genooi na haar meisieskool, die Oprah Winfrey Leadership Academy for Girls, in Suid-Afrika. 

Zozi het ook in ons eie komediant Trevor Noah se Amerikaanse televisieprogram The Daily Show ’n draai gemaak.

Zozi rits graag in New York rond. Sy het onder meer al die bekende Empire State-gebou in die Groot Appel besoek en glansfoto’s met New York se geel taxi’s op die agtergrond geneem. Haar woonstel is sentraal en binne stapafstand van Central Park.

View this post on Instagram

?????? Styled by @meemmap

A post shared by Zozibini Tunzi (@zozitunzi) on

Sy gaan vanjaar die aardbol deurkruis en ’n rits lande besoek. Haar wêreldreise het reeds begin met ’n onlangse besoek aan Indonesië.

View this post on Instagram

Day dreaming of home in beautiful Indonesia????

A post shared by Zozibini Tunzi (@zozitunzi) on

Sedert haar kroning het Zozi se volgelinge op Instagram die hoogte ingeskiet. Voor haar kroning het sy sowat 600 000 aanhangers op Instagram gehad. Sy spog nou met 2,7 miljoen.