Op die vars winterlug kom die geur van karoobossie aangedryf. Maar op die uitgestrekte vlaktes waar skape vroeër rustig gewei het, dans die sonstrale nou op ’n see van wit skottelantennas wat meer as 20 m hoog in die lug vol vlieswolkies opreik.

Ons staan op die terrein van die wêreldbekende Square Kilometre Array (SKA), sowat 95 km van Carnarvon in die Noord-Kaap, omring deur 64 skottelantennas wat onlangs ná jare se voorbereiding amptelik oopgestel is. Dié skottelantennas van die befaamde MeerKAT, die grootste en kragtigste radioteleskoop ter wêreld, vang seine van verre sterrestelsels op en kan dalk, wie weet, eendag selfs ’n teken van lewe in die buitenste ruimte bespeur.

KAT staan vir “Karoo Array Telescope” en die “meer” is omdat daar nou meer skottelantennas is as die sewe prototipes waarmee MeerKAT se voorloper, KAT-7, in 2013 hier naby staangemaak is.

Wanneer MeerKAT se enorme skottelantennas sowat vyf verdiepings hoog bo jou uittroon, doem beelde uit Star Wars en ander wetenskapsfiksieflieks voor jou op. Dit lyk soos ’n toneel uit jou wildste verbeelding.

Jy hoor die geruis van die heliumgas wat die sensors in die antennas verkoel; dié sensors vang die seine van radiogolwe uit die ruimte op. Die seine word dan in digitale inligting omskep en herlei na ’n ondergrondse datasentrum op die SKA-terrein, waar dit verwerk word sodat dit later ontleed kan word.

Die MeerKAT-skottelantennas het vroeër vanjaar seine uit die kern van ons eie sterrestelsel, die Melkweg, opgevang en die beste beelde nog daarvan gelewer.

Data word na die beheersentrum van die Square Kilometre Array (SKA)-terrein in die Noord-Kaap gestuur om verwerk te word.

Toe die Karoovlaktes deur die internasionale SKA-organisasie gekies is as staanplek vir dié ruimteteleskoop, was dit as’t ware of Suid-Afrika die wetenskapwêreldbeker verower het.

Dié lap aarde is as ideaal vir die teleskoop beskou omdat dit in ’n ylbevolkte gebied is met min mense en daarom ook minder elektroniese toerusting soos selfone en mikrogolfoonde waarvan die radioseine met dié uit die ruimte kan inmeng. Die Losberg en Wildepaardeberg wat die SKA-terrein omring, help ook om sulke versteurings af te weer.

Nog ’n pluspunt was dat daar genoeg plaasgrond was om vir die projek te koop. Vir die 132 000 ha wat die SKA-terrein nou beslaan, het die Suid-Afrikaanse Radio-Astronomiese Sterrewag (Sarao) en die Nasionale Navorsingstigting (NNS) wat die SKA-projekte in Suid-Afrika bestuur 36 plase gekoop.

MeerKAT is deel van die internasionale SKA-projek met soortgelyke skottelantennas in 12 lande, waaronder Zambië, Botswana, Namibië, Mosambiek en Kenia. Die meeste skottelantennas is hier in Suid-Afrika en in Australië.

Die Square Kilometre Array is ’n internasionale poging om die wêreld se grootste radioteleskoop te bou en behoort teen 2024 wêreldwyd voltooi te word.

MeerKAT is die eerste deel van die projek wat afgehandel is. Die mense wat by MeerKAT werk, is sigbaar opgewonde oor hul werk aan die belangrike projek.

“Die MeerKAT-skottelantennas is so sensitief dat dit 1 700 sterrestelsels soortgelyk aan die Melkweg kon opspoor in ’n gebied waar ons voorheen van net 70 geweet het, en dit toe daar nog net 16 skottelantennas was,” vertel dr. Anton Binneman (37), die belangegroepbestuurder van die SKA-projek, oor die begindae.

Elkeen van die 64 skottelantennas wat hier staan, het ’n deursnee van 13,5 m.

“Dit kan radiokommunikasie 200 ligjare ver of ’n selfoonsein op Pluto opvang en ook pulsars (radiogolwe) wat sterre uitstuur,” sê Anton. “Dit sal ’n mens 2 miljoen jaar neem om op ’n iPod te luister na die data wat Sarao en die NNS elke dag ontvang.”

Om die geheimenisse van die heelal uit al dié seine te ontsluit verg fyn luister, verduidelik Kathryn Rosie (32), ’n opgeleide ingenieur en projekbestuurder op die SKA-terrein.

’n Paar kilometer weg van MeerKAT werk Kathryn en haar kollegas aan ’n eksperiment waarvoor die HERA-radioteleskoop met sy laetegnologie-skottelantennas van ogiesdraad, PVC-pype en kroesiethoutpale ingespan word. Benewens KAT-7 en MeerKAT is die HERA (Hydrogen Epoch of Reionization Array)-radioteleskoop ook op die SKA-terrein.

Een van die reuseskure waarin die antennaskottels aanmekaargesit word.

Dit word vir ’n eksperiment gebruik om die ontstaan van die sterre na te vors. Daarmee probeer hulle die tyd “raak hoor” toe die oerknal sowat 13,5 miljard jaar gelede strukture soos sterre en melkweë geskep het, sê Kathryn. “Dis soos om jou selfoon kilometers ver by die huis te vergeet en hy lui. En hier het ons ’n trance party. Dis hoe moeilik dit is om daardie sein te hoor.”

Terwyl die sterrehemel bo Carnarvon nou fyn bestudeer word, het wetenskaplikes van heinde en ver op die dorp toegesak. Onder hulle is die Amerikaner Dan Riley (64), van die gerespekteerde Michigan Institute of Technology, waar onder meer van die slimste robotte ter wêreld gebou word.

Hy het Nasa onlangs gehelp om ’n teleskoop die ruimte in te stuur wat hopelik nuwe planete sal ontdek. Nou werk hy hier op die SKA-terrein saam met Kathryn en nog ’n projekbestuurder, Ziyaad Halday (30), ’n elektriese en meganiese ingenieur, aan die eksperiment wat met die HERA-radioteleskoop uitgevoer word.

“Dis so cool om hier te werk,” laat dié oudstudent van die Universiteit van Kaapstad hoor. ’n Mens sal tot 20 wetenskaplikes, navorsers, ingenieurs en sterrekenners op een slag op die SKA-terrein aantref, en op ’n waglys is 350 navorsingspanne wat graag aan die projek wil kom werk.

Lank laas het die dorpie soveel aksie beleef. Vir Carnarvon se inwoners is dit net so lekker om van wetenskaplikes tot politici, soos met die amptelike inwyding van MeerKAT in Julie, op die dorp te verwelkom. Die stroom besoekers laat die eienaars van gastehuise breed glimlag.

“Dis ’n groot inspuiting vir die dorp,” sê Pieter Hoffman (36), wie se gastehuise met 26 kamers volbespreek was vir die ope naweek op die SKA-terrein net ná Vrouedag. Maar op die teerpad wat spesiaal na die plaas Klerefontein gebou is, waar SKA sy kantore ingerig het, is ’n bakoorjakkals doodgery, byna simbolies van die impak van vooruitgang op die natuur.

“Ons het ’n impak op die gebied; positief en negatief,” erken Anton. Hy verduidelik die plaaslike ekonomie het ’n knou van R15 miljoen gekry omdat daar nie meer op skaapplase geboer word nie, maar voeg by SKA help die plaaslike owerhede en boere om ’n alternatiewe inkomste te skep. “Daarom help ons met abattoirs op buurdorpe.”

Anton Binneman in die hartjie van MeerKAT. Hy is die skakelmens tussen al die aandeelhouers van die SKA-projek wêreldwyd.

Die koste van die SKA-projek beloop sowat R4 miljard en Anton vertel talle plaaslike kontrakteurs is ingespan om dienste te lewer. Hy sê “die instrument”, soos SKA se mense na MeerKAT verwys, is byvoorbeeld deur 120 plaaslike mense opgerig, onder wie twee ingenieurs van Carnarvon. Die projek het tot dusver 7 800 werkgeleenthede geskep.

“Ongeskoolde arbeiders word as spesialisvaklui opgelei,” sê hy. Die syfers wys 694 mense van die Noord-Kaap het opleiding ontvang om op die SKA-terrein te werk. Die werkers van die plase wat vir die terrein gekoop is, het by die projek werk gekry, en dié wat te oud was daarvoor, ontvang ’n toelae van SKA.

Die universiteitstudie van 15 oudleerders van Noord-Kaapse skole word geborg en SKA-personeellede bied ook ontwikkelingsprogramme in onder meer wetenskap en wiskunde by 22 skole in die provinsie aan.

Boonop word die omgewing soos goud opgepas; 130 000 ha grond word nou hier as natuurbewaringsgebiede beskerm. “Ons beskerm ook die ekologie en erfenis van die gebied; die witgat- en kokerbome en die rotstekeninge,” sê Anton.

Geen selfoon word op die terrein buite geïsoleerde geboue en vraghouers toegelaat nie omdat dit blykbaar die reflektors van die skottels kan laat opblaas.

Die projekbestuurders het San-mense gevra om as deel van die ekologiestudie te kom kyk watter medisinale plante op die SKA-terrein groei. Selfs die miskruiers op die terrein word in ’n studie gemonitor, want noudat daar nie meer skape hier wei nie, is daar minder mis vir hulle.

Springbokke en hartebeeste wei steeds op die rantjies, en ander wildsbokke sal ook hierheen gebring word om die ekologiese balans in stand te hou. Die boere op die plase rondom die SKA-terrein kla wel dat jakkalse nou aanteel omdat hulle nie op die SKA-terrein gejag word nie.

Net so frustrerend vir sommige boere is die swak selfoonontvangs in die omgewing. Geen selfoon word op die terrein buite geïsoleerde geboue en vraghouers toegelaat nie “omdat dit die reflektors van die skottels kan laat opblaas”, laat Anton hoor.

“Dis soos wanneer iemand se gehoor ’n miljoen keer versterk is en dan word daar in sy oor geskree. Maar ons soek nog na oplossings,” sê Anton en verduidelik ander “kommunikasie-instrumente” word nou ondersoek en ingespan omdat dit nie met die seine uit die ruimte inmeng nie.

Benewens die Losberg en Wildepaardeberg wat natuurlik om die SKA-terrein vou, is daar ook nou die mensgemaakte “Nuweberg”, ’n reusehoop rooi grond wat die teleskope teen radiosteuring van elders beskerm. “Die instrument moet maar saamleef met die vliegtuie wat op die besige roetes tussen Kaapstad en Johannesburg hier oorvlieg,” voeg Anton by.

Voorsiening word daarvoor gemaak wanneer die ruimtedata verwerk word. En nee, sê Anton, die energie van die projek sal nie ’n negatiewe impak op mens en dier hier hê nie. Hy sê wetenskaplikes reken dit “is soos ’n enkele sneeuvlokkie wat op die grond val.”

Een van MeerKAT se antennaskottels wat wetenskaplikes in staat gestel het om vroeër vanjaar vir die eerste keer in besonderhede die middelpunt van ons sterrestelsel te sien en te ondersoek.

Op die SKA-terrein is skure so groot dat ’n Boeing gemaklik daarin sou kon pas. Stap jy in, is ’n klomp mense aan die werskaf.

Op Vrouedag was dit opvallend dat hier meestal vroue werk. “Ek voel nie bedreig deur die sogenaamde manswêreld van wetenskap nie,” sê die teleskoop-operateur Mandisa Ndlovu (31), wat in Soweto grootgeword het.

Sy het elektroniese ingenieurswese in Pretoria studeer en ook opleiding in Italië en Switserland ontvang. “Verlede jaar het ek hierheen gekom en ek is betower,” vertel sy.

Rushelle Baartman (23), ’n boorling van Carnarvon, help weer bou aan die HERA-skottelantennas. “Dis opwindend,” vertel sy in haar SKA-hempie.

Wat sal SKA se personeel doen as MeerKAT se skottelantennas op ’n dag ’n sein uit die verste ruimte opvang en dit wys daar is dalk lewe elders in die heelal?

“Weermagte van oor die hele wêreld sal seker op ons toesak,” waag Kathryn ’n raaiskoot.

’n Paar van die 64 antennaskottels van MeerKAT sowat 95 km van Carnarvon.
’n Paar van die 64 antennaskottels van MeerKAT sowat 95 km van Carnarvon.
’n Paar van die 64 antennaskottels van MeerKAT sowat 95 km van Carnarvon.

“Maar teen die tyd dat ons daardie sein kry, sou aggressiewe buiteruimtelike wesens ons al ingeval het,” voeg sy tergend by.

Dit laat Anton nadink. Benewens sy meestersgraad in navorsingstegniek en bemarking het hy ook teologie aan die Universiteit van Pretoria studeer.

“Uit ’n gelowige se oogpunt moet ’n mens seker daaraan dink,” sê hy.

“Ek het al so twee keer op die dorp gepreek. Wat maak ’n mens as gelowige met die data wat ons hier versamel?”

MeerKAT se skottelantennas het immers al die middelpunt van die Melkweg in data en in beeld vasgevang.

Filosofies vra Anton: “Is die hemel dalk daaragter?” Ook op Carnarvon word gewonder en gegis oor die dinge wat die hemele nou openbaar, veral oor die vreemde verskynsels wat van die inwoners glo al in die naglug opgemerk het.

Ons sterrestelsel.

“Jy sal verbaas wees wat die boere op die plase sien,” gesels Patricia Panos (37), kroegvrou in die Carnarvon-hotel se bekende Blikkieskroeg. Dan vertel sy: “ ’n Vriendin, haar man en hul twee dogters het gaan jakkalse jag. En toe die spotlight opgaan, het hulle iets gesien, ’n ding wat vlieg wat nie normaal is nie.

“En my ma het op die Brandvleipad op pad na SKA iets in die naglug sien vlieg. Sy kon dit nie verklaar nie.”

Kort voor lank sak mense op soek na sogenaamde vreemde vlieënde voorwerpe dalk nog tussen die sterrekykers in die Noord-Kaap toe. Die skottelantennas wat soos reusesonneblomme met hul koppe hemelwaarts gekeer staan, het reeds die verbeelding van draaiboekskrywers aangegryp.

Anton vertel van ’n TV-reeks vir Showmax wat in die omgewing geskiet word. Die titel is Sutherland. “Dit gaan oor ’n bruin man wat astrofisika met die hulp van ’n filantroop gaan studeer. Hy kom terug na die Karoo met al die teleskope en skottels en ontvang ’n sein. Daarna kan hy nie meer Afrikaans praat nie, maar ’n San-taal wat hy uit die buitenste ruimte leer praat het.”

Terwyl die Noord-Kaap, Suid-Afrika en die wêreld wag op daardie seine wat hopelik meer sal verklap oor die geheimenisse van die heelal, word reeds aan die volgende fase van die SKA-projek gewerk. Dit heet SKA-1 en behels dat nog 133 skottelantennas hul staan hier op die SKA-terrein buite Carnarvon sal kry, sommige tussen MeerKAT se skottels.

Saam met die sewetal van KAT-7 en die 64 van MeerKAT sal daar dan teen 2021 ’n volle 204 skottelantennas hier op die Karoo-hoogland staan. En dalk, wie weet, verklap die seine wat die antennas dan al zoemend opvang antwoorde op van die vrae waar-oor die mens al sedert die oertyd bly wonder. 

Foto's: Corrie Hansen, Ska South Africa, Sarao