Haar bekendste kunswerke sluit in ’n lewensgroot renoster, ’n reuseolifant en ’n kolossale leeu, asook ’n 3 m hoë Madiba. Maar dis nie die grootte van dié Bolandse kunstenaar se werk wat dit so indrukwekkend maak nie.

Nee, dis die materiaal: alles koek. Dot Klerck (41) is een van net ’n handjie vol mense ter wêreld wat enorme en lewensgroot koeke kan vorm en struktureer.

Dot Klerck. Foto: Corrie Hansen

Een so ’n eetbare kunswerk verg etlike dae se werk en kan tot 1,2 t weeg. Haar reusagtige Madibakoek was ’n eetbare wonder wat wêreldwyd die oë laat rek het. Dié gebak, sover bekend die wêreld se grootste Nelson Mandela-koek, is verlede maand in Gauteng se Sandton City-winkelsentrum uitgestal.

Die Wellingtonse koekkunstenaar het vyf dae onophoudelik gewerk aan die Mandela-meesterstuk ten bate van Cupcakes of Hope, ’n organisasie wat hulle beywer vir kinders met kanker.

In haar kleurryke huis in die Wamakersvallei, waar sy gelief is vir die lekkerste en allermooiste koeke, vertel dié kunstenaar sy is pas terug uit Europa, waar sy gereeld klas gee oor die ontwerp, bou, bak en versier van groot koeke.

“Ek was 19 jaar oud toe ek my eerste koek bak – en ek was so trots,” onthou sy die teddiebeerkoek wat haar belangstelling in bakkuns laat ontvlam het.

Sy was ’n au pair in Duitsland en het by die gesin leer kos maak en bak, want sy “kon skaars ’n eier bak” toe sy daar aankom.

Later, terwyl sy en haar man, Tobie, ses maande lank in Frankryk gewoon het vir sy werk in die landboubedryf, het Dot geleer om verskillende brode te bak.

Die koekgogga was toe nog sluimerend. “Dit was eers jare later, nadat ons teruggekeer het huis toe en ek vir my vier kinders verjaardagkoeke begin bak het, dat ek besef het ek hou daarvan om meer kuns in my koeke te sit,” vertel die kreatiewe vrou, wat ook saam met ’n vriendin handgemaakte kaartjies verkoop.

Nadat Dot haarself met fondant leer werk het, het sy 10 jaar gelede die bakonderneming Eat, Cake, Party op Wellington begin.

’n ­Olifant en haar kalfie. Foto: Verskaf

Haar eerste reusekoek het sy op Vadersdag 2015 vir haar man gebak – ’n sjokoladepelikaan van 85 cm hoog en 1,5 m breed. Die jaar daarna het ’n tamaai renoster van 1,6 m hoog en 3 m lank gevolg.

Sy het 35 kg sjokolade en 130 kg fondant gebruik vir dié eetbare beeld ten bate van die organisasie Rhinos in Africa. In 2017 het ’n lewensgroot olifantkoei en -kalfie gevolg, waarmee sy die prys vir die beste vertoonstuk gewen het op die Wêreldkoekmeestersprysgeleentheid in Birmingham, Engeland.

Dit het 1,2 t geweeg. Vroeër vanjaar het sy ook ’n lewensgroot leeukoek gemaak om bewustheid aan te wakker oor die euwel van leeujag.

Daar is gewoonlik meer as 1 000 eiers, veel meer as 100 kg meel en ook meer as 100 kg sjokolade of fondant in so ’n koek. “Dit is ’n groot en lang proses om so ’n reusagtige beeld te maak,” vertel Dot.

Dot moet eers die koek vooraf op papier ontwerp en die afmetings bereken. Daarvolgens pas sy ’n koekresep aan en laat dit dan stuk-stuk in ’n industriële bakfabriek op haar tuisdorp bak.

Afsonderlike koeke word gebak op groot 60 cm-bakplate, soms sowat 150 daarvan.

Lewens­groot leeus. Foto: Verskaf

Dot ontwerp en maak intussen ’n struktuur uit houtvesel, draad of metaal wat ondersteuning aan die koek sal bied. Elke 20 cm van die koek moet ondersteun word, anders sak dit ineen.

Daarna vorm en bou sy die fondantbeeld om die struktuur voor sy die koek sny en met gesmelte sjokolade daarop vasplak. Laastens versier sy die koekbeeld met eetbare versiersel soos sjokolade, koskleursel, tuisgemaakte fudge, nougat of spookasemdrade.

“Elke koek wat ek bak, is vir my besonders. Soms wanneer ek terugstaan en na die eindproduk kyk, voel dit byna onwerklik. Ek is dankbaar mense waardeer die kuns daarin.”

Wanneer haar beeldhouwerke eindelik verslind word, het sy gemengde gevoelens.

“Ek is effens hartseer oor al my harde werk wat verdwyn. Maar ek sorg ook dat dit lekker smaak en wil hê mense moet dit geniet.”