Sedert die webtuiste 9gag een van sy video’s op hul Instagram-blad gedeel het, kon die kranige tafeltennisspeler nie sy geluk glo nie.

“Die aantal volgelinge wat ek bygekry het, is ongelooflik,” vertel Nick per e-pos aan Huisgenoot. Hoewel hy al van November 2017 tafeltennistoertjies oefen en aanlyn deel, het hy nog nooit soveel aandag aanlyn ontvang nie.

Die 9gag-video is al 9 miljoen keer gekyk in die drie dae wat dit aanlyn is. 

Dit is nie net toertjies en truuks met Nick nie. Hy speel ook tafeltennis by die klub op sy tuisdorp, Port Macquarie in Nieu-Suid-Wallis, Australië, en het ook al sy skool in kompetisies verteenwoordig. 

“Ek sal graag eendag beroepstafeltennis wil speel, maar dit is baie harde werk. Ek het al van sommige spelers gehoor wat vyf uur per dag oefen,” sê hy.

Om hard te oefen is nie vir hom ’n vreemde konsep nie. In ’n video wat hy op YouTube gedeel het, praat hy oor die proses om sy toertjies op te neem. “Sommige toertjies is maklik en daarvoor hoef ek net 10 minute per toertjie te oefen,” verduidelik hy. Maar soms kan dit hom ’n halfuur neem om ’n moeilike toertjie onder die knie te kry. 

Kry hy darem tyd om op sy skoolwerk te fokus? “Natuurlik,” laat hy hoor. “Ek skiet al my video’s in die middag; dus maak ek altyd tyd vir my skoolwerk en gesin.”