Die blonde bruid in haar skouerlose meerminstylskepping loop tot by die kansel waar haar bruidegom in sy swart pak staan en wag. Sy neem haar plek langs hom in om trou aan mekaar te beloof.

Maar wag ’n bietjie – ’n geruis laat die gaste nog ’n slag omkyk voor die seremonie kan begin. En hulle sien die einste vrou in presies dieselfde trourok weer die paadjie afloop na haar bruidegom, wat haar op sy beurt in dieselfde swart pak inwag.

Sien die gaste dubbel of het hulle al voor die troue te veel vonkelwyn gedrink? Nee, dis die dubbele bruilof van identiese tweelingsusters wat verlede maand met identiese tweelingbroers in Ohio, Amerika, afgehaak het.

Die 32-jarige Brittany en Briana Deane se meisietjiedroom om eendag met tweelingbroers te trou het op 4 Augustus vanjaar waar geword toe hulle saam met die identiese tweeling Josh en Jeremy Salyers (34) voor die kansel staan.

Al was dit altyd hul droom, het die susters gedink dit sou seker nooit ’n werklikheid word nie. “Ons het geweet die kans is bitter skraal,” vertel Brittany aan die Amerikaanse tydskrif People.

Die stelle tweelinge het selfs dieselfde uitrustings gedra toe hulle hul trouser­tifikate onde­r­teken. Foto: Summit County Probate Court.

“Ek trou met my droomman en terselfdertyd kyk ek langs my en sien my tweelingsuster trou met hare.”

Die twee identiese susters van Virginië het die twee identiese broers verlede jaar ontmoet op die jaarlikse Twins Days-fees in Twinsburg, Ohio. Dié fees is volgens sy webtuiste die “grootste jaarlikse byeenkoms van tweelinge ter wêreld”.

Die susters woon dit al sedert 2011 elke jaar by, maar vir die broers was dit ’n eerste keer toe hulle in 2017 daar opdaag. “Toe ons eindelik daar kom, het dit beter verloop as wat ons verwag het,” sê Josh, wat nou met Brittany getroud is.

Die susters het die broers reeds op die eerste dag van die fees, 4 Augustus, raakgesien. “Ons het op die paviljoen gesit en hierdie twee ongelooflik aantreklike jong mans gesien,” onthou Brittany die oomblik.

Die twee broers het oor die saal se vloer gestap toe die twee susters mekaar aan die polse gryp, soos hulle altyd doen wanneer hulle opgewonde is. “Hulle was pragtig,” sê Briana. Maar die volgende twee dae het hulle niks meer gedoen as om mekaar se polse vas te hou en na hul asem te snak nie.

Die gelukkig getroude tweelinge gaan saam in dieselfde huis woon en hul gesinne saam grootmaak. Foto: TLC.

Eers op ’n partytjie op die laaste aand van die fees het die susters en broers vir mekaar begin ogies maak. En dit was laat in die aand toe hulle eindelik begin gesels, berig ABC News.

Dae later het die broers die susters op Facebook laat weet hulle kan skaars wag vir die volgende fees in 2018, maar Brittany en Briana wou dadelik weet: “Hoekom sal ons wag?”

Josh en Jeremy, wat toe byna 600 km daarvandaan in Tennessee gewoon het, het nie gras onder hul voete laat groei nie en die susters saam uitgevra. Die twee tweelinge se eerste afspraak was, ewe gepas, in die Twin Lakes-park in Virginië naby die susters se tuiste.

Daarna was daar geen keer aan die dubbele liefde nie. Sewe maande later, nogal op 2 Februarie, die tweede dag van die tweede maand, het die twee Salyerse die Deane-susters die jawoord gevra.

Dié romantiese gebeurtenis was boonop op dieselfde plek as hul eerste uitstappie saam, die boomryke Twin Lakes. Die broers het die verlowing haarfyn beplan. Hulle het Brittany en Briana vooraf gevra om in eenderse blou rokke op te daag vir ’n filmspan wat aan ’n advertensieveldtog oor tweelinge werk.

Josh en Jeremy sou eenderse swart aandpakke dra. Toe die regisseur ná hul aankoms “aksie” uitroep, het die twee broers soos een man gekniel en die blondekoppe gevra om te trou.

“Natuurlik was dit ’n maklike vraag,” lag Brittany daaroor dat hulle onmiddellik gelyk die jawoord gegee het, sommer net daar voor die kameras. “Hulle het ons goed uitgevang.”

Jeremy en Josh het saam-saam die jawoord gevra. Foto: Inside Edition.

Die filmspan was eintlik besig met ’n TV-reeks, Twins Marry Twins, en die identiese Deane-Salyer-egpare se verlowing asook hul troue word aanstaande jaar op die TV-kanaal TLC uitgesaai.

Hul bruilof was by die einste jaarlikse Twins Days-fees waar hulle mekaar net mooi ’n jaar tevore ontmoet het. En vir die broers en susters was dit ’n geval van “welgedaan, doelwit bereik”, want hul soektog na tweelinglewensmaats was grootliks die rede waarom al vier na die fees toe is.

Briana vertel sy en Brittany beskou hulself as “twee helftes van ’n hele”. Omdat hulle altyd graag met ’n ander tweeling wou trou, het hulle sedert 2011 elke jaar by die Twins Days-fees na die prinse van hul drome gaan soek.

“Dit is so ’n betowerende geleentheid,” sê Brittany. Sy sê die tweelingbroers sou ook nie getrou het as hulle nie tweelingsusters kon kry nie. “Dit is moeilik om met iemand uit te gaan wat nie die tweelingband verstaan nie.”

Nadat Jeremy en Josh van die tweelingfees gehoor het, is hulle ook daarheen in die hoop om hul identiese lewensmaats te ontmoet. “Ons was gelukkig om hulle met die eerste probeerslag te kry. Ons het ons tweeling gevind en van toe af voel die lewe soos een groot droom,” sê Josh.

Die bruilofbeplanning was maklik. “Dit was groot pret en selfs vreedsaam, want ek en Brittany het dieselfde smaak en ons werk goed saam,” vertel Briana. “Dit was net moeilik om die reëlings oor so ’n groot afstand te tref,” sê sy oor die 700 km tussen Twinsburg en Virginië.

En die tema van die dubbele sprokiestroue? “Twice upon a Time.”

Die vier se tema vir hul troue, wat vir die bruide soos ’n droom was wat waar geword het, was Twice upon a Time. Foto: Facebook.

Die identiese tweelingpaartjies, wat nou in Maryland woon, wil saam daar huis koop en hul kinders saam grootmaak as een groot, gelukkige gesin. “Wanneer ek en Josh kinders kry, sal hulle genetiese susters en broers van Briana en Jeremy se kinders wees,” sê Brittany.

“Al is hulle neefs of niggies, sal hulle tegnies genetiese sibbes wees. Ons beskou dit as twee ma’s en twee pa’s wat saam ons gesin sal grootmaak.”

Teoreties gesproke verwag ’n mens die onderskeie egpare se kinders sal geneties soortgelyk as volle broers en susters aan mekaar wees, sê Laura Almasy, ’n professor in genetika aan die Universiteit van Pennsilvanië.

Broers en susters wat van dieselfde stel ouers gebore is, deel die helfte van die gene met mekaar. “Die verwagting is dat die egpare se kinders almal die helfte van dieselfde DNS sal deel, net soos volle broers en susters, maar net soos met tipiese broers en susters kan ’n spesifieke paar individue minder of meer van daardie gene gemeen hê,” sê sy.

Selfs identiesetweelingouers kan nie heeltemal identiese DNS hê nie. “Daar kan klein verskille in hul gene wees wat in die baarmoeder of as gevolg van omgewingsfaktore in die loop van hul lewe ontstaan het. Dié klein verskille kan bepaal hoe soortgelyk die babas aan mekaar sal wees,” sê Laura.

“Ek en Jeremy voel altyd geseën om mekaar te hê,” sê Josh oor die dubbele vreugde wat hulle getref het, “en nou het ons nog twee mense wat nes ons is, maar hulle het hul eie bydrae gelewer wat ons nie kon byvoeg nie. Saam kan ons enigiets bereik.”

Bronne: People.com, Abcnews.go.com, Roanoke.com, Livescience.com, Mirror.co.uk