Nes in ’n paleistuin staan hier ’n klassieke wit marmerbeeld omring deur gemanikuurde bome en plaveisel. Dan troon die enorme wit dubbelverdiepinghuis oor jou, en dis kompleet asof jy die kenwysie van die dramareeks Dallas hoor.

In een van die vier motorhuise glim die sexy kurwes van ’n gitswart Porsche verleidelik. Stap jy met die trap na die voordeur op, tref ’n paar pienk Jimmy Choo-hakskoene wat met pienk satynstrikke versier is jou oog.

En as jy dink die vrou wat dié ontwerperskoene so elegant vol staan, lyk soos ’n karakter uit die Amerikaanse werklikheidsreeks The Real Housewives, slaan jy die, wel, spykerhak op die kop.

Maar ons is in Kyalami, in die noorde van Johannesburg – nie in die Amerikaanse rykmansbuurt Beverly Hills nie.

Ons is aan huis by een van die ses vroue in M-Net se nuwe reeks The Real Housewives of Johannesburg, die plaaslike weergawe van dié werklikheidsreeks. Weelde is volop in dié R12 miljoen-huis met sy vyf slaapkamers.

Die sakevrou van Kyalami, Johannesburg, spog met meer as 1 000 paar ontwerpers­hakskoene. Foto: Dino Codevilla

Ons volg die pienk Jimmy Choo-skoene deur die huis met sy dik matte, kristalkandelare en skilderye, verby ’n wit vleuelklavier, na die vertrek wat kykers aan die gons het.

Dis die 35-jarige Christall Kay se heiligdom vir haar skoene – al 1 000 pare. Soos modieuse soldate in gelid staan hulle daar, rakke en rakke vol. Netjies volgens kleur gerangskik. Feitlik elke ontwerpersnaam waaraan jy kan dink, is hier op parade: Yves Saint Laurent, Prada, Chanel, Guess, Valentino – en natuurlik nog Jimmy Choos.

“Toe ek klein was, wou ek Barbie wees, met die mooi hare, mooi klere en mooi huis,” verduidelik Christall.

“Barbie was een van my rolmodelle.”

En met haar lang blonde hare lyk sy nogal soos die ikoniese speelding van meisies wêreldwyd. Sy is egter g’n poppie nie. Christall het immers ’n graad in die regte. Maar sy het gou besluit die skoen wat haar pas, is die skoonheidsbedryf.

Sy besit ’n naelsalon in Pretoria en werk as ’n voorkomskonsultant. Boonop het sy ’n maatskappy wat filmstelle vir rolprentvervaardigers identifiseer én sy werk aan ’n sangloopbaan.

Het sy ’n skoenfetisj? “Nee,” sê sy en glimlag.

“Ek het maar net ’n oog vir ’n mooi skoen. Hulle roep my naam wanneer ek verbystap.” Sommige pare kos net sowat R2 000, vertel sy. Maar vir ander het sy tot R20 000 betaal.

Daardie bypassende Louis Vuitton-leerhandsak van R50 000 (een van honderd bypassende handsakke) het seker ook oorverdowend geroep.

In die en suite-badkamer van haar skoen-emporium woon twee lewende wit hase met swart kolle.

“Dis my babas, Dolce en Gabbana . . .”

Foto: Dino Codevilla

Die skoenkoningin van Kyalami se persoonlike stilis en grimeerkunstenaar is vandag ook hier.

“Ons het lipstiffie nodig, skat,” sê Christall. En soos dit ’n real housewife betaam, ontbreek sy nie aan gasvryheid nie.

“Princess, sal jy asseblief vir ons tee maak,” vra sy haar voltydse huishoudster en kok voor sy ons heupswaaiend op haar spykerhakke na die imposante eetkamertafel lei. Benewens haar sakebedrywighede is sy ook die ma van ’n vyfjarige seuntjie, Luke.

Sy is die afgelope sewe jaar getroud met Eddie Greeff (40), ’n finansiële adviseur by ’n bekende versekeringsmaatskappy. Christall was nie altyd deur weelde omring nie.

‘Jy weet nooit wanneer ’n hakskoen jou lewe kan red nie’

“Ek het rough en tough in die Bluff in Durban grootgeword.” Op 16 was sy ’n beroepsmodel.

“Ek het skool baiekeer misgeloop vanweë fotosessies.” As tiener was haar eintlike droom om ’n popster te word. Maar sy het gou besef dis onrealisties en het ’n LL.B.-graad aan die Universiteit van KwaZulu-Natal behaal.

Die bekoring van mooi dinge het haar egter na die skoonheidsbedryf gelok. Sy vertel dis die vervaardigers van The Real Housewives of Johannesburg wat haar genader het om aan die program deel te neem. Sy het nie gehuiwer nie.

“Dit het na pret geklink.” Christall ken nie iets soos ’n tipiese dag nie. “Die wekker moet soggens omtrent 20 keer skree voor ek opstaan,” vertel sy laggend.

Dan spring sy in haar Juicy Couture-sweetpak en neem Luke in die Porsche na sy kleuterskool in Sandton. Daarna is dit gimnasium toe om aan daardie Barbie-lyf te skaaf.

Gewoonlik maak sy ook ’n draai by haar salon om haar naels te laat versorg. In haar tuiskantoor haal sy in met e-posse. Dan is daar natuurlik die opnames vir The Real Housewives. Sy kuier ook graag oor middagete.

En gaan skoenwinkels toe . . .

“Om in hakskoene te wees is my default posisie. Daar is ’n hak vir elke geleentheid,” sê sy.

“Dink maar aan Aspoestertjie. Skoene kan jou na enige plek vat; skoene verander pampoene in mooi karre.”

“Hakskoene is mag . . . en dit kan ook as ’n wapen gebruik word; jy weet nooit wanneer ’n hakskoen jou lewe kan red nie.” Sy het seker al R1 miljoen aan skoene bestee. Maar, voeg sy by, “dit gaan eintlik oor wie jy is; nie wat jy het nie”.

Sy en Eddie gaan op afspraakaande om hul huweliksverhouding gesond te hou. Dan gaan hulle graag na ’n restaurant wat fynproewersgeregte opdis. Hulle geniet ook oorsese vakansies.

Christall lewe soos ’n regte Barbie in ’n groot huis, met ontwerpersklere en ’n sportmotor. Foto: Dino Codevilla

Aan kritiek steur sy haar nie – soos toe sy op ’n aflewering van Housewives deur die ander deelnemers oor haar sang afgekraak is. “Ek pak kritiek soos ’n krygsvrou met ’n glinsterende swaard . . . ’n Mens moet jou eie heldin wees.

Ek is my eie Wonder Woman.” Sy het al twee snitte, Wonder en Underwater, opgeneem vir ’n album wat sy beplan om later vanjaar uit te reik.

Haar poprolmodelle is Katy Perry, Britney Spears, Taylor Swift en Madonna. Sy oefen een keer per week saam met haar kitaarspeler. “Ek droom steeds van ’n musiekloopbaan,” bieg sy.

Daardie spykerhakke klop-klop dalk binnekort oor ’n verhoog . . .