Owerhede in die Novaya Zemlya-eilande, ’n arktiese streek in die noorde van Rusland, sê daar was gevalle van aggressiewe bere wat mense aanval en huise en openbare geboue binnegaan.

Daar was sedert Desember sowat 50 ysbere gereeld gesien in die gebied waar sowat 3 000 mense woon, het Aleksandr Minajof, adjunkhoof van die plaaslike administrasie, gesê.

"Ouers is versigtig om hul kinders skool en kleuterskool toe te stuur. Daar is gevalle van aggressiewe gedrag van wilde diere – mense is aangeval, en hulle het wonings en kantoorgeboue binnegegaan," sê hy.

As teenvoeter teen die "wit gevaar op ys" word daar nou heinings rondom kleuterskole opgerig.

Selfs militêre personeel wat hier woon, word met spesiale voertuie na hul werk geneem.

"Daar is gedurig sowat ses tot 10 bere in die nedersetting."

Zhigansha Musin, ’n plaaslike amptenaar wat sedert 1983 in die gebied woon, sê hy het nog nooit so ’n groot inval van ysbere aanskou nie. "Hierdie bere is vreesloos en jaag letterlik mense."

Alhoewel die ysbere gewoonlik robbe op hul spyskaart verkies vanweë hul hoë vet-inhoud, sal hulle ook aan vis en watervoëls knibbel. Maar vleis is hul grootste dryfkrag en wanneer dit nie geredelik beskikbaar is nie, sal hulle koers inslaan na 'n plek waar hulle dit wel in die hande kan kry.

Ten spyte van die inval, is inwoners daarteen gewaarsku om hulle te skiet en dat hulle vervolg sal word as hulle dit doen omdat ysbere as ’n bedreigde spesie in Rusland geklassifiseer word. Die afgelope vyf dekades mag daar nie op hulle jag gemaak word nie.

’n Span spesialiste en federale amptenare is na die gebied gestuur om die situasie te bekyk, maar indien daar geen drastiese verbetering of alternatiewe oplossings is nie, gaan hulle dalk toestemming gee dat die bere geskiet mag word.

"Ons ondersteun doeltreffende bestuur. As die jag van ysbere 'n klein deeltjie daarvan is, aanvaar ons dit as sulks," het Victor Nikiforov, direkteur van Wêreldwye Fonds vir die Natuur (WWF) se streeksprogramme in Rusland, gesê.

Terloops, dis nie net die Russe wat deurloop nie. Die sowat 800 inwoners van Churchill in Kanada loop jare reeds gereeld deur onder ysbere. En dit het tot die ontstaan van een van die vreemdste wette ooit gelei: Dis heeltemal onwettig om jou motor hier te sluit!

Hoekom? Wel, as die ysbere hul verskyning maak en jy moet vlug, moet jy liefs nie deur 'n geslote kardeur gestuit word nie. En dit tel nie as motordiefstal wanneer dit nie jou eie motor is waarmee jy op vlug slaan nie.

Maar ook die ysbere loop deur onder die lang arm van die reg.

"Probleem-bere" wat die inwoners té lastig val, word in die 28 selle met lugreëling aangehou tot gunstiger weerstoestande intree. Dan word die bere, wat voor hul vrylating met verdoofpyle geskiet is, per lug na 'n veilige afstand weg van mense af vrygelaat.

Die laaste noodlottige voorval waar 'n ysbeer 'n lewe geëis het, het in 1983 plaasgevind. In 2013 het 'n man, Garett Kolsun (40), ernstige beserings vrygespring toe hy ’n beer se aandag met sy selfoon afgetrek het.

Teen daardie tyd het die beer hom alreeds 'n allemintige oorveeg gegee en het die dier van ongeveer 180 kg hom teen die plaaslike bakkery se deur vasgepen. Hy het sy selfoon uitgepluk en aangesit en die skerm se lig het vermoedelik die ysbeer die aftog laat blaas.

Natuurlik kan daar jare na die tyd in ligte luim geterg word deur te sê die beer was nie lus vir nog 'n selfie nie . . .


Waar word ysbere aangetref?

Ysbere word hoofsaaklik in Kanada, Amerika, Groenland, Noorweë en Rusland aangetref en wetenskaplikes raam die totale ysbeerbevolking op 25 000 wêreldwyd.

In die suidelike Beaufort-see in die noordooste van Alaska en Kanada het ysbeergetalle met 40 persent gedaal en is daar nou sowat 900 ysbere teenoor die 1 500 in 2001 in die streek oor. Klimaatsverandering word as die sondebok uitgewys vir die skokkende afname in ysbeergetalle.

Met aardverwarming wat die ys laat smelt, word die bere gedwing om meer tyd op die land deur te bring waar hulle meeding vir kos, volgens ’n verslag deur die ysbeer-spesialisgroep van die Internasionale Unie vir Natuurbewaring.

Die grootste aantal ysbere in Rusland word in die streke by die Barentssee en die Chukchisee aangetref.

Maar omdat die gebiede so moeilik is om te bereik en natuurlik 'n onaardse bedrag kos om navorsing daar te doen, is die ysbere hier nie so goed nagevors soos in die ander streke waar hulle voorkom nie.

Kitsfeite


  • Ysbere is wit, reg? Nee, hulle is inderdaad gietswart, maar omdat hul pels deursigtig is en lig reflekteer, kom dit voor asof dit wit is.
  • Dis juis daardie swart vel wat help dat ysbere warm kry, want dit absorbeer die hitte van die son. Natuurlik help die 10 cm dik vetlaag onder hul vel ook om hulle warm te hou.
  • Moenie dink jy sal 'n ysbeer in 'n swemgala klop nie. Hulle kan nie net ure lank swem nie (ysbere is al 100 km ver van hul basis gevind), maar tot bykans 10 km per uur in die water haal. En hul groot pote van ongeveer 30 cm werk soos roeispane met die agterpote wat as roer vir die manjifieke diere dien.
  • Manlike ysbere kan die skaal op 800 kg laat kreun en hulle is in die algemeen dubbel die grootte van die wyfies. Van hulle word tot 3 m lank en alles saamgegooi, maak van die ysbeer die wêreld se grootste karnivoor aan land.
Bronne: nypost.com, canada.com, wildlife.org, polarbearsinternational.org, washingtonpost.com, worldwatch.org, wwf.org.uk, sciencekids.nz