Eens het mense hier op lowergroen grasperke piekniek gehou, hulle in die son uitgestrek en in die koel water van die dorpswembad baljaar.

Maar vandag lyk die leë swembad soos ’n oop wond in die aarde en bossies groei geil waar blou water eens teen die wande geklots het.

Net die murasies van ’n kantoortjie wys dit was eens ’n plek waar gesinne vergader het. Vir sommige mense is dit ’n hartseer storie van verval wanneer hulle op reis deur die platteland iewers op die oorblyfsels van ’n openbare swembad afkom.

Maar nie vir Willem Pretorius, ’n landskapskilder van Rosendal in die Oos-Vrystaat, nie.

Met sy kunstenaarsoog sien hy dit in ’n ander lig.

“Dit het ’n magiese skoonheid wanneer jy sien hoe die natuur dié mensgemaakte strukture stelselmatig oorneem en vernietig,” sê hy.

"Dit herinner ons ook aan ons eie sterflikheid. Niks in die lewe is vir ewig nie.” 

Foto: Facebook/@WillemPretorius

Dit het Willem geïnspireer om die afgelope 12 maande foto’s te neem van verwaarloosde swembaddens landwyd wanneer hy en sy gesin die langpad vat.

Die foto’s was net die begin van ’n skeppende proses wat reeds daarop uitgeloop het dat hy al 30 van dié swembaddens op skilderdoeke verewig het.

Die skilderyreeks Abandoned/Municipal Pools word op Willem (42) se Facebook-blad uitgestal, en van die skilderye is ook tans as deel van sy solo-uitstalling Revision/Hersiening in die Tina Skukan-galery in Pretoria te sien.

So lyk die vervalle swembad vandag op De Aar. Foto: Facebook/@WillemPretorius

Maar nooit sal jy hom met sy esel, kwas en palet langs een van daardie verlate swembaddens aantref nie. Hy skilder nooit buite op die toneel nie, sê Willem, “want die insekte wat in my verf val, irriteer my grensloos.”

Nadat hy 12 jaar gelede besluit het om voltyds kunstenaar te word, het Willem bekend geword vir sy realistiese plattelandse tonele wat hy met olieverf op doek vasvang.

Dit herinner ons ook aan ons eie sterflikheid. Niks is vir ewig nie

Dit is juis dié tonele wat sy kunstenaarsiel roer; Willem is immers self ’n seun van die platteland. Hy het in die laat 1980’s en vroeë 1990’s op die Noordwes-dorpie Stella grootgeword.

Die skool daar het nie kunsklasse aangebied nie, maar onderwysers het toe reeds sy ontluikende talent raakgesien. Willem onthou hoe hy in daardie tyd onder meer plakkate vir skool- en kerkbyeenkomste moes teken.

Tog het hy nooit kon droom dat hy eendag een van Suid-Afrika se bekendste landskapskilders sou word nie.

Swembad op Springfontein. Foto: Facebook/@WillemPretorius

“My mindset daardie tyd was geensins om ’n kunstenaar te word nie,” vertel hy.

“Dit was glad nie deel van my werklikheid nie.”

Nadat hy in 1995 gematrikuleer het, het Willem twee jaar lank weermagdiens by die pantsereenheid in Bloemfontein gedoen. Daarna het hy drie jaar grafiese ontwerp aan die destydse Pretoria Technikon studeer.

So lyk die vervalle swembad vandag op Parys. Foto: Facebook/@WillemPretorius

Om sy studielening terug te betaal, is hy Londen toe, waar hy administratiewe werk by ’n sekuriteitsfirma gedoen het. Daar het hy ’n meisie uit Pretoria raakgeloop wat in die Britse hoofstad as bloemis gewerk het.

Gou was hy en Linda ’n paartjie en in 2002 het hulle op Lindley in die Oos-Vrystaat getrou, waar haar ouers grootgeword het. Met die gesin se terugkeer na Suid-Afrika in 2006 het hulle by Linda se familie in die Oos-Vrystaat gekuier toe sy vir Willem die skilderagtige dorpie Rosendal gaan wys.

Swembad op Darling. Foto: Facebook/@WillemPretorius

“Dit was die eerste keer dat ek die plek sien, maar ek het onmiddellik my hart verloor op die klein dorpie, die rustige stemming en natuurskoon,” onthou Willem.

Hulle het in dieselfde jaar nog daarheen getrek, en Willem het hier met sy loopbaan as voltydse skilder begin.

“Kyk, dié plek is dalk nie enige ou se cup of tea nie, maar hier is vryheid en die natuur net buite my venster,” sê hy.

Linda (40) is ’n tuisblyma vir hul agt kinders, wat ook tuisonderrig by haar ontvang. Die oudste is 15 jaar en die jongste een jaar oud. Wanneer die Pretorius-gesin in hul Volkswagen-kombi klim en die land platry, is Willem se kamera altyd naby.

“En wanneer ek op ’n plek, gebou of struktuur langs die pad of iewers op ’n dorp afkom wat my emosioneel raak, neem ek foto’s.

Swembad op Richmond. Foto: Facebook/@WillemPretorius

“Terug by die huis sal ek deur die foto’s werk voor ek besluit wat geskilder gaan word,” verduidelik hy sy werkmetode.

“Staan ek op so ’n plek, wonder ek altyd: Wie het eens hier gewoon of gewerk? Watter gebeure het lank gelede hier afgespeel?

"Verbygangers sal dalk nie eens die ou struktuur opmerk nie, maar agter elke bouval is ’n storie. Dit verleen ’n vorm van misterie aan my skilderye. Elke skildery is bloot ’n toneel of plek waarop ek toevallig afgekom het; ek dokumenteer dit eintlik net.”

Sommige mense wil selfs my werk politiseer, maar ek stap daarvan weg

Dit is teen dié agtergrond dat hy verlede jaar besluit het om vir ’n nuwe reeks skilderye op vervalle swembaddens te fokus.

“Dit is maar my manier om hulde te bring aan die plekke wat ek teëgekom het. Soort van ’n visuele dagboek,” verduidelik hy.

Hy het ook gou agtergekom ’n dagboek soos dié wek verskillende emosies by verskillende mense.

“Vir sommige mense is my skilderye nostalgies; ander ervaar weer woede oor die verval,” sê hy. Willem sê hy wil nie aan ander voorskryf “wat hulle moet voel” wanneer hulle na sy werk kyk nie.

Swembad op Gariepdam. Foto: Facebook/@WillemPretorius

“Ek lewer nie kommentaar nie; ek skilder net die werklikheid. Sommige mense wil selfs my werk politiseer, maar ek stap daarvan weg.”

Hy was in 2013, ’15 en ’17 een van die 40 finaliste vir die gesogte Sanlam-portretpryse. Die William Humphreys-kunsgalery in Kimberley het van Willem se landskapskilderye gekoop vir hul permanente uitstalling en hy het vandag wêreldwyd kliënte.

Op sy Instagram-rekening beskryf Linda haar kunstenaarman as “painter/plattelander/pappa”. En, sê Willem, dit is eintlik al wat hy wil wees. 

  • Willem Pretorius se uitstalling getiteld Revision/Hersiening is nog tot 19 September in die Tina Skukan-galery in Pretoria te sien.