Die vlieënier van die ligte vliegtuig, Duane Youd (47), het wel nie oorleef nie.

Die makabere voorval het Maandagmiddag omstreeks 15:30 in Payson, ongeveer 100 km van Salt Lake City in die deelstaat Utah, plaasgevind.

Youd was enkele ure voor die tragedie kniediep in die moeilikheid toe getuies sien hoe hy die vrou aanrand. Volgens sers. Spencer Cannon is Youd ongeveer 19:30 Sondagaand in hegtenis geneem in verband met die aanranding, maar is kort daarna op borgtog van R26 000 vrygelaat.

Omstreeks middernag het Youd versoek dat ’n polisieman hom na die dubbelverdiepinghuis vergesel sodat hy sy bakkie en van sy besittings kan gaan haal.

Hoewel die nagtelike besoek aan die huis vreedsaam verloop het, was dit allesbehalwe die geval toe Youd later met sy werkgewer se tweemotorige Cessna 525 by die Spanish Fork-Springville-lughawe sowat 25 km van die huis af opstyg.

Ondersoekspanne glo Youd het doelbewus in die huis vasgevlieg, want hy was 'n heeltemal té ervare vlieënier om so ’n ongeluk oor te kom. Boonop het hy tydens sy doodsvlug verskeie kragkabels en ander huise gemis . . .

Die ramptoneel lyk soos ’n goed georkestreerde toneel uit ’n fliek.

Verskeie vensters van die ruim huis, wat ongeveer R5,6 miljoen werd was, het in die slag gebly. Swart roet ontsier die mure en op die sypaadjie lê ’n ligte motor op sy sy.

Die linkervlerk en die stertgedeelte van die Cessna wat by die voordeur gelê het, was al teken  dat die wrakstukke dié van 'n vliegtuig is.

Volgens inligting wat aanlyn bekend is, het Youd verlede maand ingestem om vir ses maande huweliks- en gesinsberading te ondergaan nadat hy op 8 April vir huishoudelike geweld aangekla is.

Dit is onseker of die kind in die huis verwant is aan Youd.

Parker Youd (17), een van Youd se kinders, sê niemand het verwag dat hy so iets sou doen nie. “Dit is baie hartseer vir my en dit gaan ’n invloed op die res van my lewe hê.”

Sy dogter, Joslyn, sê Youd was een van die liefdevolste mense wat sy geken het. “Hy sal in ’n oogwenk enigiemand met enigiets help en ek voel baie, baie geseënd om hom my pa te noem.

“Hy is nie die mens wat nou uitgebeeld word nie. Hy het seer gehad en was in baie pyn.”

Sy kinders het wel aangedui dat daar huweliksprobleme was.

Slagoffer van huishoudelike geweld? Hier's hulp

  • Alkoholiste Anoniem (AA): Nasionale noodlyn: 0861 HELPAA (435-722)
  • Al-Anom (vir familie en vriende van diegene met drankprobleme) en Alateen (vir kinders van alkoholiste: 021-595-4508, hulplyn 0861-252-666 of stuur 'n e-pos aan help@alanon.org.za)
  • Narcotics Anonymous: Nasionale hulplyn (24 uur): 083-900-MY-NA (083-900-69-62)
  • Suid-Afrikaanse nasionale raad vir alkoholisme en dwelmverslawing (Sanca): WhatsApp 076-535-1701, bel 011-892-3829 of stuur 'n e-pos aan sancanational@telkomsa.net

Bronne: kutv.com, heavy.com, thesun.co.uk, scmp.com, washingtontimes.com