John Summer sê hy en sy geveerde vriend, Chirpy, het ’n spesiale band. Hulle bring elke dag tyd saam deur, berig Metro.

Die twee het vriende geword nadat John in 2007 by die Instow-strand naby Yelland, in die suidweste van Engeland, vir Chirpy gevind het. Hy het ’n gebreekte poot gehad en John het hom gesond gemaak.

“Ek het hom bokant my kop sien skree van die pyn en nie geweet wat om te doen nie. Hy was die volgende dag weer daar en het probeer land, maar het geskree van die pyn. Ek het nie gedink hy sou oorleef nie; sy poot was heeltemal gebreek.”

John het vir hom hondebeskuitjies gevoer wat hy saam met hom gedra het vir sy hond, Jack, en het dit elke keer gedoen as hy teruggekeer het strand toe.

Chirpy se poot het herstel, hoewel dit effens krom is, en hy was gou weer sy ou self.

Nou vlieg die seemeeu, wat sowat 20 jaar oud is en dit nie naby enigiemand anders waag nie, reguit na John toe wanneer hy op die strand kom, berig The Mirror.

“Hy kom reguit na my toe. Hy kom so naby,” sê John.

Chirpy vertrek gewoonlik in Maart om nes te maak en keer in September terug.

“Hy moedig die res aan om ook nader te kom, maar hy is die enigste een wat naby my kom.

“Mense is verstom wanneer ek hulle daarvan vertel. Hulle kan nie glo dat ’n seemeeu so sal terugkeer nie. Dit laat jou wonder oor die wêreld waarin ons woon. Weet hulle eintlik meer as wat ons dink?”

Bronne: The Mirror, The Metro, iNews