Hulle lyk kompleet nes drie Barbie-poppe waar hulle in ’n vertoonkas in ’n sitkamer in Pretoria staan.

Maar in dié geval is sien nie glo nie, want al drie is eetbaar. Dis nou te sê as jy jou mond aan vrugtekoek van byna ’n half-eeu oud sal sit.

Ja, dié anderste Barbies is eintlik vrugte-koeke, en daardie golwende rompe waarin hulle pryk, is van fondant gemaak.

Al drie is die afgelope 48 jaar vir doopplegtighede gebak: vir ’n ouma, haar dogter en kleindogter.

Dit is tradisie in hul familie dat elke dogtertjie wat gebore word ’n Barbie-vrugtekoek op haar doopdag kry, vertel Daline Nell (48) van Oranjeville in die Vrystaat, waar sy vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens werk.

“Maar dié koeke word nie geëet nie; ons bêre dit.”

Sy kuier die naweek in Silverton, Pretoria, by haar twee dogters, Euveldi Nell (22) en Nadine Volschenk (27), en dié se babadogter, Gabrielle (8 maande).

Drie geslagte vroue saam . . . en drie vrugtekoeke in die vertoonkas.

Al drie koeke is die afgelope 48 jaar vir doopplegtighede gebak: vir ’n ouma, haar dogter en kleindogter.

Dit alles het met Daline se geboorte in 1970 begin. Haar ma, Francina Grobler, wou iets spesiaals doen wat hulle altyd aan haar doopdag sal herinner. Waar haar ma aan die idee vir ’n Barbie-koek gekom het, kan Daline nie meer onthou nie.

Toe sy in 1991 haar eersteling verwag, het sy besluit om haar dogter op dieselfde manier in die wêreld te verwelkom. Boonop het dieselfde bakkery aan die Oos-Rand die koek vir Nadine se doopdag gebak as wat destyds haar ma s’n gebak het.

Teen die tyd dat Euveldi vier jaar later haar opwagting gemaak het, het daardie bakkery al gesluit en het ’n privaat bakster die koek gebak. Maar daardie koek het nie behoue gebly om sy staan hier in die vertoonkas te kry nie.

O, koek!

Toe Daline in 2003 verhuis, het iemand die houer waarin die agt jaar oue koek was, laat val.

“Daai koek was beyond repair!” roep Daline uit. “Ek was kwaad verby.”

Sy lyk steeds vies daaroor, maar Euveldi, ’n onderwysstudent, trek net haar skouers op.

“Dit pla my eintlik glad nie, want ek is nie so sentimenteel nie,” sê sy.

“Ék is!” val Nadine, ’n administratiewe assistent, haar in die rede.

“Ek hou alles. Ek het selfs nog Gabrielle se eerste sjampoebottel.”

Natuurlik wou Nadine met haar eersteling se geboorte 10 maande gelede die familietradisie voortsit, maar dit was so amper of Gabrielle was sonder die gebruiklike Barbie-doopkoek.

Drie dae voor haar doop het die koek op ’n tafel in die sitkamer gestaan. Hul worshond het in die huis ingeglip, en toe hy die koek sien, kon hy die versoeking nie weerstaan nie.

“Ek het so gehuil toe ek my ma moes bel en sê die koek is opgeëet,” vertel Euveldi. Min het sy geweet haar ma het twee koeke laat bak.

“Jong, my sesde sintuig het my net gesê om twee gereed te hê,” lag Daline.

Brandewyn vir 'n lang lewe

Sy reken die vrugtekoek van haar eie doopdag sal nou, ná 48 jaar, steeds eetbaar wees – dis nou buiten die fondant.

“Want ’n vrugtekoek wat reg gebak word, word amper nooit oud nie,” verduidelik sy. “Maar so ’n langlewevrugtekoek is ’n spesialisgebied; dit is nie enigiemand wat dit kan doen nie. Die geheim lê in die regte brandewyn-en-vrugte-kombinasie, en baie geduld.”

Dit verg ook baie tyd en aandag, want sowat twee maande lank moet daar elke dag ’n bietjie brandewyn oor die koek gegiet word.

“Dit is wat hom ewige lewe gee,” laat sy geesdriftig hoor.

Goedkoop is dit nie. Die koeke wat sy vir Gabrielle se doopdag laat bak het, het sowat R1 000 elk gekos, verklap Daline.

Wel, dit is seker nie te duur vir ’n vrugtekoek wat nooit verouder nie . . .

Foto's: Lubabalo Lesolle