Talle katliefhebbers spin as’t ware van lekkerkry wanneer hulle met hul troetelkat op hul skoot ontspan, maar om dié wolbol te vertroetel, moet jy murg in jou pype hê.

Want Bronson is geen veergewigkat wat in ’n oulike bolletjie kan opkrul terwyl jy televisie kyk nie. Die grootman laat trouens vir Garfield, wat in die strokiesprente so lekker aan lasagne weglê, soos ’n pikkie lyk wat aan tuna knibbel.

Maar die potjierol se dae van vraatsug is nou iets van die verlede. Die gemmermonster is op ’n streng dieet en die internet slurp die besonderhede oor sy dieetreis soos ’n bak vars room op.

Sy nuwe eienaars, Mike Wilson (35) en Megan Hanneman (29) van Wes- Michigan in Amerika, dokumenteer die kat se verslankingsreis op Instagram en meer as 67 000 mense volg dit met belangstelling.

Sy eienares, Megan Hanneman, het hom op ’n streng dieet geplaas en hy het al 700 g verloor. Foto: Instagram/@IamBronsoncat

“Hy word deur ’n gawe gemeenskap van mense aangemoedig,” sê Mike.

“Baie van sy volgelinge is bereid om hul wenke oor gewigsverlies by katte te deel en dit is ook ’n plek waar ons hul idees kan oordra. Dit is belangrik dat katte stadig gewig verloor, anders kan hulle ’n lewersiekte opdoen wat dodelik kan wees.”

Ons is taamlik seker hy is elke paar uur kos gege

Bronson het toevallig by Mike en Megan beland. Die paartjie besit ’n onderneming, Catastrophic Creations, wat katmeubels ontwerp wat teen die muur gemonteer word om aktiwiteit by binnenshuise troeteldiere te bevorder.

Hulle het reeds twee katte “wat ons ons meubel-idees help toets en ons wys wat hul gunstelingstukke is”, sê Mike.

“Eendag, net 45 minute voor ons by die werk moes wees, het ons besluit om by ons plaaslike diereskuiling te gaan rondkyk. Toe ons instap, het ons onmiddellik gehou van die sagmoedige reus met die naam Bronson.”

Hulle kon nie ophou na die gemmerkat kyk nie.

“Ek onthou my wange was seer van so lank glimlag,” sê Mike.

Goodnight??

A post shared by Bronson the cat (@iambronsoncat) on

Die egpaar is die volgende dag terug om die mollige outjie aan te neem en hom weer perdfris en gesond te probeer kry.

Op drie jaar het Bronson die skaal op 15 kg getrek; dubbel die gewig van ’n gesonde volgroeide kat. Sy maagomtrek was ’n verstommende 81 cm.

This was Bronson’s first appearance. He made us wait for the front.

A post shared by Bronson the cat (@iambronsoncat) on

“Ons het nog nooit so ’n groot kat gesien nie,” sê Mike.

“Hy was waarlik reusagtig.”

Bronson se vorige eienaar was ’n bejaarde vrou wat nie baie beweeglik was nie en hom te veel gevoer het. Toe sy sterf, is Bronson na die skuiling gebring.

Hy speel 20 minute op ’n slag met speelgoed

“Ons dink Bronson was op ’n dieet van katpille, wat hoofsaaklik koolhidrate is. Ons is taamlik seker hy is elke paar uur kos gegee,” sê Mike.

“Sy bloedtoetse het getoon hy het geen gesondheidsprobleem wat sy gewigstoename sou veroorsaak nie; dus was dit net oormatigheid.”

Nadat hulle Bronson huis toe geneem het, het Mike en Megan hom veearts toe gevat. Dié het die kat op ’n streng dieet van 1 569 kJ per dag gesit.

“Hy hou van die kos, maar ’n mens kan sien hy wil nog hê. Hy maak ons in die middel van die nag wakker deur vir ’n peuselhappie te miaau,” sê Mike.

Bronson se maaltye bestaan uit die helfte katpille en die helfte graanvrye nat kos.

“Ons voeg water daarby sodat dit amper soos ’n sop word om hom versadig te maak.”

Bronson dut graag, maar Mike-hulle het ligte aktiwiteite ingesluit by sy dag.

“Hy speel 20 minute op ’n slag met speelgoed en ons dra hom ondertoe sodat hy teen die trap moet opklim om by sy gunstelingslaapplek uit te kom.”

Foto: Instagram/@IamBronsonCat

Weens sy grootte moet Bronson vir eers in die huis gehou word, want hy is te oorgewig om medisyne teen vlooie en bosluise te kry.

Hy het ook ’n tandheelkundige operasie nodig om ’n gebreekte tand te verwyder, maar is nog te swaar vir narkose, sê Mike.

Bronson sal binnekort onherkenbaar slank wees. “Ons dink dié tyd volgende jaar sal hy ’n veel beter lewensgehalte hê,” sê Mike.

Dan sal dié kietsie inderdaad die kat se snorbaard wees. 

BRONNE: DAILY MAIL, BOREDPANDA, THE MIRROR