’n Pil wat veroudering omkeer, sappige steaks wat in ’n laboratorium gekweek word en ’n motor wat opvou sodat dit in die kleinste parkeerplekkie kan pas.

Nee, dit is nie die een of ander verregaande draaiboek vir ’n wetenskapsfiksie-lokettreffer nie – dit is net ’n paar van die briljante wetenskaplike ontwikkelings wat in die nabye toekoms jou lewe kan verander.

Sê tot siens vir plooie

Wetenskaplikes het dalk eindelik die geheim tot ewige jeug ontsyfer – en al wat jy sal moet doen, is om getrou elke oggend ’n pil te sluk.

Navorsers aan die Harvard- Mediese Skool se sentrum vir die biologie van veroudering het onlangs aangekondig hulle het dit reggekry om veroudering by muise om te keer.

En nou hoop hulle om dieselfde vir mense te doen. Al ons liggaamselle het die koënsiem NAD (nikotienamiedadeniendinukleotied) nodig. Namate ons ouer word, daal ons NAD-vlakke egter.

Dit het DNS-skade tot gevolg wat tot kwale soos alzheimersiekte kan lei. Nadat die navorsers ’n manier gevind het om NAD-vlakke in die bloedvate van ou muise ’n hupstoot te gee, glo dr. David Sinclair, wat die span gelei het, vas hulle is op die punt van ’n groot deurbraak.

“Ons praat oor die verbetering van lewensgehalte, soos die voorkoming van kanker, hartsiektes, diabetes en alzheimersiekte,” sê hy. Proefnemings op mense is nou aan die gang.

hoof foto
Foto: Gallo Images/Getty Images

Steaks in laboratoriums gekweek

Verbruikers smul reeds aan laboratoriumgekweekte hamburgers, maar nou het wetenskaplikes ook die wêreld se heel eerste laboratoriumsteaks vervaardig.

Biotegnoloë by die Israeliese beginonderneming Aleph Farms het selle van twee lewende beeste geoes en toe aan die werk gespring om die selle te laat vermenigvuldig.

Petribakkies met die selle is in spesiale broeikaste geplaas wat die toestande in ’n bees se liggaam perfek naboots. Die selle wat so geskep word, word dan saamgevoeg, en siedaar, jy het ’n steak.

Die slimkoppe erken egter hulle moet nog heelwat werk doen om dit soos regte steak te laat smaak. Die steaks neem drie weke om te vervaardig en een is ongeveer so groot soos ’n kredietkaart.

Dit sal na verwagting binne die volgende twee jaar teen ’n prys van sowat R715 elk te koop wees. Maar namate die tegnologie verbeter en dit vinniger raak om die steaks te maak, sal die prys waarskynlik daal.

Die antwoord op al jou parkeerpyne

Bestuurders in groot stede bestee na raming 106 dae van hul lewe aan parkeerplek soek.

Dis ’n groot vermorsing van tyd, maar ingenieurs in Israel het dalk ’n slim oplossing vir dié probleem gevind. Die City Transformer is ’n revolusionêre nuwe voertuig wat met die druk van ’n knoppie opvou.

Dit het al die fieterjasies van ’n gewone motor – soos lugsakke en selfs lugversorging – maar dit is ekonomieser, want dit is elektries en kan amper 200 km op ’n enkele lading ry.

Die heel wonderlikste daarvan is die gepatenteerde voumeganisme wat dit van die breedte van ’n klein passasiers- motor in die grootte van ’n motorfiets laat opvou wanneer dit tyd is om te parkeer.

Die eerste modelle sal volgende jaar van die produksielyn af rol en tussen R143 000 en R185 000 kos.

kar
Foto: Gallo Images/Getty Images

Kunsmatige embrio’s

“Mamma, hoe word babas gemaak?”

Dis ’n vraag wat elke ouer die een of ander tyd hoor, maar in die toekoms kan die antwoord selfs nog ingewikkelder word.

In wat vermoedelik die eerste suksesvolle poging ter wêreld is, het embrioloë aan die Universiteit van Cambridge stamselle van muise geoes en dit gebruik om embrio’s te skep deur die daad van bevrugting oor te slaan.

Vorige eksperimente waarin net twee soorte stamselle gebruik is, het misluk. Maar dié keer het die span ontdek as ’n derde soort sel bygevoeg word, is die embrio wat ontstaan wel in staat tot gastrulering.

Dit is die kritieke punt waarby ’n embrio in drie aparte lae verdeel wat bepaal watter selle oorleef en in ’n fetus ontwikkel.

“Ons kunsmatige embrio’s het die belangrikste gebeurtenis in die lewe in die kweekbakkie ondergaan,” sê prof. Magdalena Zernica-Goetz, wat die studie gelei het.

Om verder te ontwikkel, sou dit in die liggaam van ’n surrogaatma ingeplant moes word.

Al bly eksperimente waarin stamselle gebruik word omstrede, vra haar span nou goedkeuring om die studie met menslike selle te herhaal.

Hulle hoop dit sal hulle in staat stel om die belangrike eerste paar weke van lewe te monitor sodat hulle kan vasstel hoekom party swangerskappe misluk.

tegnologie
Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Tatoe wat jou waarsku teen die son

Wetenskaplikes aan die Universiteit van Colorado het ’n onsigbare tatoe ontwikkel wat jou kan waarsku wanneer jy die gevaar loop om sonskade op te doen.

Die tatoe-ink is sensitief vir UV-lig en verskyn net wanneer dit aan te veel bestraling van die son blootgestel word. Sodra jy sonskerm aanwend en die vel beskerm is teen bestraling, verdwyn die tatoe weer.

Die span het by die Amerikaanse voedsel-en- medisyne-owerheid om goedkeuring aansoek gedoen.

Tatoe
Foto: University of Colorado Engineering

Natuurlike gas met zero koolstof

Dis ’n dilemma: Ons weet die verbranding van fossielbrandstof veroorsaak potensieel katastrofiese klimaatsverandering; tog kan ons nie ons gewoontes verander nie.

Ons wag daarom dat die wetenskap met ’n oplossing vorendag kom. En gelukkig lyk daardie dag nie ver weg nie.

NET Power, ’n Amerikaanse energiebeginonderneming, het ’n toetsaanleg in Texas gebou wat elektrisiteit uit natuurlike gas opwek sonder dat enige kweekhuisgasse vrygelaat word.

Die aanleg gebruik saamgedrukte koolstofdioksied (CO2) pleks van stoom om sy turbines aan te dryf. Tydens die proses word alle CO2 vir hergebruik gehou.

NET Power beweer die koste van die proses is met dié van ’n tradisionele gasaangedrewe aanleg vergelykbaar. Dit beteken ons kan oor drie tot vyf jaar meer van dié omgewingsvriendelike kragstasies sien.

Netkrag
Foto: Net Power

Battery-hupstoot

Die ontwikkeling van slimfone en rekenaars wat dae lank nie gelaai hoef te word nie, is goed op dreef. Ook elektriese motors wat amper 1 000 km op ’n enkele lading kan aflê.

Dit is danksy die pogings van Noorweegse nanowetenskaplikes wat die vermoë van litiumbatterye met ’n drastiese 300-500 persent kon verbeter. Dit behels dat die grafiet in die anodes van litiumbatterye met silikoon vervang word.

Die resultaat?

Batterye met ’n veel beter werkverrigting.

Supervinnige internet

Navorsers aan die RMIT-universiteit in Australië het ’n deurbraak gemaak wat internetspoed 100 keer so vinnig as nou kan laat word.

Huidige veseloptika vervoer inliging op ligpulse deur optiese vesels. Maar die Australiese navorsers het ontdek die spoed kan radikaal verhoog word deur die lig in ’n spiraaltransmissie te draai.

Die span werk nou aan ’n skyfie wat data wat met dié metode oorgedra word, kan bespeur en ontsyfer. Dit behoort dit maklik te maak om bestaande netwerke aan te pas.

Battery
Foto: Gallo Images/Getty Images

Robotte wat deur jou oogbal reis

’n Gesamentlike Chinees-Duitse navorsingspan het piepklein spiraalvormige robotte geskep wat in die oogbal ingespuit word om medisyne toe te dien.

Die navorsers het die mikro-robotte met nanoskaal-3D-drukwerk geskep, ’n tegniek wat items vervaardig wat 200 keer so klein is as die breedte van ’n menshaar.

Hulle het dit toe in die oë van dooie varke ingespuit en magneties beheer. Kenners meen dit is moontlik die toekoms van ooggeneeskunde – veral met die behandeling van siektes soos gloukoom.

Daarmee kan oogdruppels 10 keer so vinnig toegedien word en dis veel akkurater. Die navorsers berei nou voor om die robotte op lewende diere te toets voor hulle dit op mense doen.

Bronne: Guardian.co.uk, DailyMail.co.uk, Cleantechnica.com, WCVB.com, Telegraph.co.uk, Newatlas.com, Citytransformer.com, Irishnews.com, Forbes.com