Die TikTok-ster Khaby Lame.
Die TikTok-ster Khaby Lame. Foto: Instagram.

Hou dit eenvoudig, mense

As jy gereeld op TikTok is, het een van Khabane, oftewel Khaby Lame (21), se video’s al seker op jou feed opgeduik.

Terwyl ander TikTokkers duur beligting en filters inspan om te wys hoe hulle alledaagse takies kamma makliker maak, hou Khaby dit eenvoudig. Hy bly tjoepstil en laat sy gesig die praatwerk doen.

Terwyl een TikTokker byvoorbeeld wys hoe om ’n piesang met ’n mes oop te sny, sal Khaby doodgewoon die video naboots en die piesang afskil.

Hy sluit dan sy video ewe af en vou sy hande oop asof hy wil sê: “Duh, dis so maklik, hoekom maak julle die lewe ingewikkeld?”

Hy is tans die TikTokker met die meeste followers naas Charli D’Amelio (17). Dié danser en sangeres het meer as 120 miljoen followers.

Sy pad tot TikTok-ster

Khaby is in Senegal in Wes-Afrika gebore. Hy was net een toe hul gesin na Chivasso, Italië, verhuis het.

Hy het as ’n masjienoperateur by ’n fabriek daar gewerk tot hy verlede jaar sy werk weens die pandemie verloor het.

Sy pa het hom aangemoedig om vir ander werk aansoek te doen, maar Khaby het eerder ure elke dag op TikTok deurgebring en video’s onder sy profiel, @khaby.lame, gedeel. En nou verdien hy geld met sy inhoud en samewerkings met handelsname soos die pastamaatskappy Barilla.

Hy maak sy video’s uit sy slaapkamer, wat hy met sy broer deel.

Sy foon is nie waffers nie. Dis oud en die beligting is nie watwonders nie. Maar dit pla mense min. Hulle hou duidelik van wat hulle sien.

Die TikTok-ster Khaby Lame. Foto: Instagram.
Die . Foto: Instagram.

Liefde uit Afrika

Khaby word deesdae gereeld in Italië deur aanhangers voorgekeer vir ’n selfie. Hy is ewe bekend in sy geboorteland, Senegal. Hulle is so mal oor hom daar dat hulle gereeld op TV oor hom gesels.

Nommer-een-TikTokker?

Khaby kan Afrika dalk binnekort trotser maak. Volgens die webtuiste Social Blade groei sy followers op TikTok agt keer so vinnig as dié van Charli.

Khaby het onlangs in 30 dae 37 miljoen nuwe followers bygekry – en Charli net 5 miljoen. Tog is sy voete plat op die aarde.

“Ek is gelukkig om die eerste een in Italië te wees en als, maar ek het nie TikTok hiervoor begin nie,” sê hy ewe nederig oor sy kitsroem.

Dinge wat jy oor Khaby moet weet
  • Die Facebook-baas Mark Zuckerberg is ’n groot aanhanger van hom en het onlangs ’n ‘like’-ikoon by een van Khaby se video’s gelos.
  • Al is hy internasionaal as ’n Italiaanse TikTokker bekend, is hy nog nie ’n Italiaanse burger nie. Hy bly al 20 jaar in dié land, maar het steeds nie burgerskap daar gekry nie. “Ek het nie ’n stuk papier nodig om myself as Italiaans te definieer nie,” sê Khaby.
  • Hy is mal oor sokker. Sy gunstelingspan is Juventus, ’n sokkerklub van die Italiaanse stad Turin.
  • Al rol die geld in, het hy nog nie genoeg om sy een groot droom te verwesenlik nie. Hy wil graag vir sy ma ’n huis koop. “Miskien in die toekoms,” sê hy.
  • Wat sy komedietalent betref, wil hy graag eendag op dieselfde vlak wees as die Hollywood-sterre Eddie Murphy en Will Smith.
Khaby in syfers
  • 30 miljoen Instagram-followers
  • 37,5 miljoen keer is sy piesangvideo al gekyk.
  • 90 miljoen TikTok-followers
  • 1,3 miljard likes het sy video's al op TikTok gekry.
Bronne: The New York Times, Insider.com
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.