Ter illustrasie. Foto: Getty Images/ Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/ Gallo Images

Ons almal het soms issues. Jou verhouding met jou ouers sukkel dalk, of miskien het jy ’n moeilike onderwyser wat jou al jou dae gee. Dalk breek iemand op skool of in jou vriendekring jou selfbeeld lelik af. Groepsdruk maak die lewe soms goor, en kuberboelies kan só wreed wees. En kom ons wees eerlik, soms is skoolwerk vrek moeilik!

Die afgelope tyd was boonop nie maklik nie. Ons moes saamleef met ’n onsigbare virus wat die land in ’n chaos gedompel het.

Moenie moed verloor as dit soms swaar gaan nie – dinge raak altyd weer beter, en die son kom altyd – ja, altyd – môre weer op.

Alles het verander – hoe ons skoolgaan en saam met vriende uithang. Die covid-19-pandemie hang steeds soos ’n donker wolk oor alles en maskers bly deel van die alledaagse lewe.

Maar ons is hier vir mekaar, en al raak dinge soms hoe erg, is daar altyd hoop. Moenie moed verloor as dit soms swaar gaan nie – dinge raak altyd weer beter, en die son kom altyd – ja, altyd – môre weer op.

Julie is geestesgesondheidsbewustheidsmaand en dis die perfekte tyd om Huisgenoot Junior se nuwe #Ekhoorjou-veldtog te begin. Met dié veldtog wil ons tieners aanmoedig om te gesels oor die dinge waarmee ons soms sukkel en om hulp te kry wanneer jy swaar trek. Want dit help om daaroor te praat as dinge moeilik raak.

Vertel vir iemand wat jy vertrou as jy met swaar gevoelens worstel. Jy is nie alleen nie, al voel dit soms so. Ons het met ’n paar tieners gesels om ons veldtog te begin. Want ons hoor mekaar, en #Ekhoorjou.

Adrian (16)

Ter illustrasie. Foto: Getty Images/ Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/ Gallo Images

Ek is van gr. 6 tot 7 twee jaar lank op skool geboelie. Dis nie lekker om geboelie te word nie en die onderwysers kan en wil nie juis veel doen om dit te stop nie. En ’n mens is bang om jou ouers daarvan te vertel.

Dit was besig om met my kop te mors, en ek het nooit iets gedoen om dit te stop nie, maar ek het vriende gehad wat ek langs die pad gemaak het wat my ondersteun het.

Hulle het die mense geword wat ek kon vertrou. Dis goed om sulke pelle te hê en om oor jou emosies te praat en hoe boelies jou kan afbreek. My vriende het die afknouery gestop en my daardeur ondersteun.

Dis goed om met iemand te praat wat jy vertrou. Byt net vas, al voel jy soms die odds is nie aan jou kant nie. Dit sal beter raak.

Jodi (17)

Foto: Getty Images/ Gallo Images
Foto: Getty Images/ Gallo Images

As tiener voel dit niemand ondersteun my drome nie en ek sukkel om voluit lief te hê en te leef.

’n Mens weet nooit wanneer jy verraai kan word nie. Jy weet nooit wanneer die ander mense net wag om jou te sien val nie.

Ek moes al my hart verhard teen dié bose wêreld daar buite. En dis vir my ’n aaklige gevoel. Maar wat my hoop gee om aan te hou veg, is dié stemmetjie binne-in my wat sê “môre is nog ’n dag en dan kan ek weer probeer”.

Laat mense maar praat, solank ek net my ding doen.

Gabrielle (14)

Foto: Getty Images/ Gallo Images
Foto: Getty Images/ Gallo Images

As ’n tiener vind ek dit baie moeilik om te deal met sosiale media en hoe mense skoonheid uitbeeld. Dis moeilik, want as ons as tieners onder mekaar oor skoonheid praat, pas die meeste van die meisies nie in daardie profiel nie.

Die seuns hou byvoorbeeld gewoonlik van die meisies met die lang blonde hare met die perfekte voorkoms en kurwes.

Die meisies haat jou weer oor jou hare of voorkoms. Die probleem is dat hierdie mense op sosiale media bestaan, dié met die lang hare en ’n klein middellyf, en jy meet jouself aan hierdie skoonheidsikone.

Dit voel asof jy soos ’n superster moet lyk elke keer wanneer jy post. Dis baie druk, en emosioneel is dit baie dreinerend.

As jy ’n TikTok-dansvideo post, moet jy ’n beroepsdanser wees, anders kry jy eindelose haatboodskappe. Selfs dié wat dansers is, loop deur. Om van al hierdie sosiale angs te ontsnap, wend ek my tot my familie en vriende.

My grootste uitlaatkleppe is musiek, toneelspel, modelwerk en dans. Dit help my om te konsentreer as ek oorweldig voel. Deur dié dinge kan ek wees wie ek werklik is en myself op my eie manier uitdruk.

Diaan (18)

Ter illustrasie. Foto: Getty Images/ Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/ Gallo Images

Ek vind my studie op die oomblik moeilik, want ek moet vanjaar wéér aanlyn studeer en dit dreineer my emosioneel. Dis vir my verskriklik moeilik, want ek moet alle inligting self leer en deurgaan en take alleen doen. Dit sit baie stres op my en kan ’n mens gou in depressie laat verval.

Ek het ligte depressieprobleme, want ek stres heeltyd oor my studie. Ek wonder doen ek die goed reg en verstaan ek die werk reg of nie, want ons kry net een keer per week ’n uur lank klas vir elke vak, en ’n mens kan nie so baie inligting in ’n uur verduidelik nie.

So jy moet 90% van die werk self doen en jou tydsbestuur is nie altyd daar nie, want ek is by die huis en ek moet nog my ma ook help. Ek moet nou ’n student en al die ander dinge wees en dit is net so baie. Ek het covid ook nog gehad en dit was maar moeilik.

Maar wat my steeds deur die moeilike tyd dra, is my gunsteling-Bybelversie, Jeremia 29:11: Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie.

Ek hou heeltyd vas aan daardie vers, want ek weet die Here sou my nie in dié situasie gesit het as hy nie geweet het ons is nie sterk genoeg om dit te oorkom nie.

Ek vat nou elke dag babatreë en haal asem, en die Here is aan my kant vir krag en insig. Dit dra my deur die moeilike storms.

Mila (16)

Ter illustrasie. Foto: Getty Images/ Gallo Images
Ter illustrasie. Foto: Getty Images/ Gallo Images

Ons het onlangs ’n dood in my familie gehad. Dit is maar moeilik om positief en gefokus te bly. My vriende en familie het my die laaste ruk baie gehelp en distract deur funny memes en TikToks.

Nicole (13)

Foto: Getty Images/ Gallo Images
Foto: Getty Images/ Gallo Images

Ek vind dit moeilik wanneer mense grappe maak oor ek is wie ek is. Hulle maak jokes oor my en hoe ek aantrek. Die kinders by ons skool boelie my gewoonlik oor ek baie lank vir my ouderdom is.

Toe ek jonger was, het ek altyd huis toe gegaan en gehuil, en my ma het my gevra wat fout is. Ek wou nie meer teruggaan skool toe oor die boelies nie. Maar ek het my hoop gevind deur met iemand soos my ma daaroor te praat.

Sy het my altyd gesê ek moet daardie kinders ignoreer en dat ek gelukkig moet wees met hoe ek lyk en wie ek is. Ek het my hoop gevind deur met iemand te praat wat ek die meeste vertrou.

#EKHOORJOU – KOM GESELS SAAM!

Ons wil jou die geleentheid gee om met ons te gesels oor die dinge wat jy dink en voel. Want ons almal kry soms swaar, en dit help om saam daaroor te praat.

Dit wys ons dat ons nooit alleen is nie en dat dit oukei is om oor moeilike dinge te praat.

HG Junior begin hierdie maand ’n nuwe veldtog, #ekhoorjou. As deel van hierdie veldtog wil ons ’n nuwe podcast begin waarin jy kan praat oor die dinge waarmee jy sukkel, maar ook oor dit wat jou hoop gee.

Ons gaan gesels oor alles wat deel is van die lewe – van groepsdruk en verhoudings tot trolls in die sosiale media en probleme met ouers of onderwysers.

As jy praat oor die dinge wat soms vir jou moeilik is, kan dit iemand anders laat voel hulle is nie alleen nie.

En so kan jy dalk die lig in iemand anders se donkerte wees.

As jy wil deelneem aan die gesprek in ons nuwe podcast, stuur ’n e-pos na colin.hendricks@media24.com.

Jy kan anoniem of onder ’n skuilnaam deel van die gesprekke in ons podcast wees – ons sal sorg dat ons jou identiteit vertroulik hou.

En onthou, jy is nie alleen nie. Kom ons gesels en genees saam!

DAAR ÍS ALTYD HOOP

Moenie net stilbly as jy swaarkry nie. As jy heeltyd terneergedruk of gespanne voel, sal dit help om met iemand daaroor te praat – met jou vriende, jou ouers, ’n sielkundige of ’n volwassene wat jy vertrou.

As jy nie gemaklik voel om met iemand na aan jou te praat nie, kan jy dié hulplynnommers bel as dit begin voel dinge raak te veel.

CHILDLINE

Bel: 116 Childline is 24 uur per dag, sewe dae per week oop en gratis beskikbaar op alle selfoonnetwerke. Jy kan ook chat.childlinesa.org.za/chat besoek. Dis chatrooms waar jy Maandae tot Vrydae van 11:00 tot 13:00 en 14:00 tot 18:00 aanlyn met ’n berader kan gesels.

DIE SUID-AFRIKAANSE DEPRESSIE- EN ANGSGROEP (SADAG)

Bel: 0800-567-567 Sadag se krisislyn is 24 uur per dag oop.

LIFELINE SA

Bel: 0861-322-322 Dié hulplyn is ook 24 uur per dag oop vir berading as jy dit benodig.

TRIANGLE PROJECT

Bel: 021-712-6699 As jy deel is van die LGBTQIA+-gemeenskap, kan jy Lifeline SA of die Triangle Project-hulplyn bel. Hulle is van 13:00 tot 21:00 beskikbaar.