Jy dink jy weet wat daardie term in die kontrak beteken, maar sê nou jy’s verkeerd? Toemaar, jy is nie alleen nie. Navorsing* toon 69% van Suid-Afrikaners probeer hul kennis van finansies opknap.

Ons ontsyfer 10 terme wat jy moet ken om te kan saampraat.

1. Repo- en rentekoers 

Die repokoers is die koers waarteen die Suid-Afrikaanse Reserwebank geld aan banke soos Standard Bank, FNB, Absa en Nedbank leen. Banke koppel hul prima uitleenkoers aan die repokoers.

Die prima uitleenkoers is die standaardrentekoers wat banke dan gebruik om geld aan kliënte te leen. Dit is gewoonlik hoër as die repokoers, en hoe hoër die kliënt se risiko, hoe hoër sal die rentekoers op dié kliënt se lening wees.

Wanneer die repokoers styg of daal, styg of daal die banke se rentekoerse.

2. Vaste en wisselende rentekoerse

As jy ’n lening by die bank kry en die koers daarvan vasmaak, beteken dit die rentekoers daarop sal nie saam met die repokoers verander nie. Dit word gewoonlik vir ’n spesifieke tydperk, byvoorbeeld drie of vyf jaar, vasgemaak.

Die rentekoers op die lening of belegging met wisselende koerse sal saam met die repokoers styg en daal.

3. Persentasie- en basispunte

Basispunte word gebruik om die bewegings van rente-, wissel- en verbandkoerse te beskryf. ’n Basispunt is ’n honderdste van ’n persentasiepunt. As ’n rentekoers byvoorbeeld van 11,15% tot 11,35% styg, het dit met 20 basispunte gestyg.

Daarteenoor is ’n persentasiepunt gelyk aan 1%. As ’n rentekoers met twee persentasiepunte sou styg, sou dit van 11,15% tot 13,15% styg.

4. Saamgestelde rente

Dis wanneer jy rente verdien op die bedrag wat jy spaar én die rente wat jy reeds verdien het – met ander woorde, jou rente begin rente trek.

Sê nou jy belê R100 wat oor ’n jaar 10% (R10) se rente verdien. Die waarde van jou spaargeld is dan R110, maar die 10% word nie net op die aanvanklike R100 bereken nie, maar op R110.

Dis ’n kragtige manier om ’n belegging te laat groei, en hoe langer jy belê, hoe meer groei jou geld. Maar wat mense soms vergeet, is dat skuld net so vinnig groei wanneer saamgestelde rente daarop gehef word.

5. Bates en bateklasse

Jou bates sluit alles van geldwaarde in wat jy besit. Byvoorbeeld eiendom, voertuie, toerusting, spaargeld, beleggings, die waarde van jou lewensversekeringspolis, enige persoonlike items sowel as enige geld wat aan jou verskuldig is. Jou bates word in jou testament gelys as dinge wat jou begunstigdes kan erf.

Bateklasse is iets anders. As jy geld belê, word dit weer deur die beleggingsmaatskappy in bateklasse belê. Dié bateklasse is gewoonlik aandele, staatseffekte, genoteerde eiendom en kontant.

Dink aan ’n koek wat uit al dié dele bestaan. Sekere effektetrusts belê so dat jou belegging oor die vier bateklasse gebalanseer is. Ander effektetrusts belê weer die swaarste in aandele. Dan is die grootste sny koek, oftewel bateklas, jou belegging in aandele.

6. Netto waarde

Jou netto waarde is wat oorbly nadat jy al jou uitgawes en skuld van jou inkomste en bates afgetrek het. Dus: inkomste en bates - uitgawes en skuld = netto waarde.

7. Pensioengewende inkomste

Jou pensioengewende inkomste is die deel van jou inkomste wat jou werkgewer gebruik om jou aftreefondsbydrae te bereken. Dit sluit gewoonlik jou vaste inkomste soos jou basiese salaris in, maar sluit wisselende bedrae soos kommissie, bonusse en oortyd uit.

Jou niepensioengewende inkomste is die deel van jou salaris wat nie in ag geneem word met die berekening van die bydrae wat jou werkgewer of jyself aan ’n pensioenfonds betaal nie.

Elke werkgewer se samestelling kan verskil; dus kan party byvoorbeeld kommissie daarby inreken en ander nie.

8. Skuldkonsolidasie

Dis wanneer jy een nuwe lening aangaan om al jou ou skuld gelyk te delg. Dit rek die skuld oor ’n langer afbetaaltydperk, wat die maandelikse afbetaling minder maak.

Die wanopvatting is dat jy minder aan skuld betaal omdat dit maandeliks bekostigbaarder is. Maar omdat die gekonsolideerde lening oor ’n langer termyn verleng word, sal jy vir ’n langer tydperk rente betaal en sal dit waarskynlik meer kos.

9. Gesekureerde en ongesekureerde skuld

Gesekureerde skuld is ’n lening teen ’n bate soos jou huis of motor. Die finansier kan dan hierop beslag lê as jy nie jou skuldverpligtings nakom nie.

Ingevolge Artikel 127 van die Nasionale Kredietwet kan jy goedere wat deur ’n gesekureerde lening gekoop is aan die kredietverskaffer terugbesorg as jy dit nie meer kan bekostig nie.

’n Ongesekureerde lening het nie ’n bate wat as sekuriteit dien nie, byvoorbeeld ’n persoonlike lening. Sulke lenings se termyne is korter en die rentekoerse hoër.

10. Voorlopige belasting

Dis wanneer iemand ’n deel van hul volle belastingaanslag vroeër betaal en nie alles op een slag nie. Dit is dus nie ’n ekstra belasting nie, maar die totale belastingbedrag word oor twee betalings versprei. Dit geld hoofsaaklik vir mense wat vir hulself werk.

Skryf aan ons
Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-pos sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.