In Suid-Afrika is die gemiddelde ouderdom vir mans en vroue om te skei onderskeidelik 45 en 41 jaar, en in die meeste gevalle (55,9%) het hulle kinders jonger as 18 jaar.

Dus: Egskeiding gebeur dikwels in ’n fase van die lewe waarin daar groot uitgawes is, soos huis- en motorverbande en die koste van die versorging van kinders.

Klink dit soos jy? Dan het jy baie belangrike geldbesluite om te neem. Ons deel vier praktiese wenke om jou te help.

1. Mediasie is gewoonlik goedkoper as litigasie

Moenie dadelik die kwaaiste prokureur aanstel om jou huweliksmaat aan die pen te laat ry nie. Oorweeg eers al jou opsies.

Mediasie – ’n onbetwiste egskeiding – is gewoonlik goedkoper en vinniger as litigasie. Die bemiddelaar is ’n prokureur wat in familiereg spesialiseer en behoort met albei partye te onderhandel oor die lewensvatbaarste skikking. Daar is geen hofgelde nie, en jy betaal die bemiddelaar ’n vasgestelde tarief.

Bemiddelaars se tariewe word volgens wet beperk, maar afhangend van die hoeveelheid sessies kan dit vir R10 000 of R15 000 afgehandel word.

Vra voor die tyd wat die tariewe is. Dokumentasiefooie word ook beperk.

Egskeiding deur mediasie kan binne ’n maand afgehandel word.

  • Hoewel mediasie billiker is, is daar gevalle waar litigasie die beste roete kan wees: As jy voel jy word benadeel, as jul onderhandelings misluk of as jou huweliksmaat bates of inligting wegsteek.
  • Hoe ingewikkelder en langer die egskeidingsaak, hoe meer gaan jy vir litigasie betaal: enigiets van byvoorbeeld R10 000 tot R500 000. Vra dus vir verskeie prokureurs kwotasies.

2. Verstaan die waarde van al jul bates en laste

Jy moet weet wat jul besittings (bates) werd is en wat jul uitgawes en skuld is.

Hoe meer inligting jy aan jou prokureur gee, hoe makliker die skikkingsooreenkoms. Dit sal dit ook makliker maak vir jou prokureur om te sien of jou huweliksmaat dalk bates of inkomste probeer wegsteek.

  • Sorg dat enige oordrag van byvoorbeeld ’n voertuig, eiendom of polisbegunstiging na jou spoedig afgehandel word. Sloer dit en jou huweliksmaat sterf onverwags of die bates word beskadig of gesteel, het jy probleme.
  • Wees versigtig om staat te maak op eiendomswaardasie van jou huis as die bedrag wat jy sal uitkry. Die eiendomsagent se waardasie is dalk onrealisties gegewe die huidige eiendomsmark en die agent se kommissie moet afgetrek word, maan Kerry Sutherland, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner by Alexander Forbes.
  • Volgens wet is die eks wat nie ’n lid van ’n pensioenfonds is nie, wel geregtig op ’n deel van die lid se aftreegeld. Dis van toepassing as jy binne gemeenskap van goed getroud is, en buite gemeenskap met aanwas. Dié deel word deur die egskeidingsbevel bepaal.

Onthou

As jy jou deel dadelik laat uitbetaal, kan daar ’n vroeë kansellasieboete wees.

Jy sal belas word en minder uitkry as die bedrag op die aftreefondsstaat. Maak seker jou egskeidingsbevel is korrek bewoord en dat dit by ’n fondsadministrateur ingedien word. Anders sal die aftreefonds nie die bedrag uitkeer nie.

3. Sorg vir genoeg kontant

Begroot vir genoeg kontant om jou deur die skeiproses te sien en sit dit opsy. Moenie staatmaak op onderhoudgeld nie, want jy gaan dit nie dadelik kry wanneer jou huweliksmaat uit die huis uittrek nie.

En as jou huweliksmaat die egskeiding opsetlik uitrek – en die regskoste onbekostigbaar raak – kan jy in ’n onregverdige skikking ingedwing word.

4. Wees realisties oor die onderhoud

Moenie vir ’n te lae jaarlikse persentasiestyging in onderhoud vir jou kinders skik nie. Kinders se uitgawes styg namate hulle ouer word.

Onthou om jou testament te verander as jy skei en dalk jou eks as begunstigde van jou polisse te verwyder.

Mediese en opvoedingsinflasie styg byvoorbeeld jaarliks meer as voedselinflasie. Vra ’n finansiële beplanner of rekenmeester om jou te help om toepaslike skattings oor die kostestygings vir die regte onderhoud te maak.

  • Aanvaar dat jy dalk nie dieselfde lewenstandaard sal kan volhou nadat jy geskei is nie. Bring liewer so gou moontlik leefstylveranderings aan, soos ’n goedkoper woonplek. So vermy jy ook onnodige skuld.
  • As jou egskeidingsooreenkoms bepaal dat jou eks jou maandeliks onderhoud betaal, neem ’n lewens- en ongeskiktheidspolis op hom uit, beveel Kerry aan. Op dié manier kan jy seker maak dat hierdie inkomste voortduur as jou eks sterf of ongeskik raak vir werk.
Kry hier nog raad