1. Wat is jou werkgewer se pligte?

Die maatskappy moet ’n proses volg wat deursigtig is, soos voorgeskryf deur die Wet op Arbeidsverhoudinge.

Hulle moet verduidelik hoeveel mense afgelê word, hoekom en wanneer. Dan volg ’n konsultasiefase waartydens werknemers voorstelle kan maak oor maniere om afleggings te vermy. Die werkgewer moet hierdie voorstelle oorweeg en terugvoer daaroor gee.

As aflegging steeds onvermydelik is, moet die betrokke werknemers individueel in kennis gestel word en hul skeidingsvergoeding met hulle bespreek word. Hulle is geregtig op wetlike kennistydperke.

Werkgewers kan met werknemers ooreenkom dat hulle nie tydens die kennistydperk werk nie, maar die werknemers moet steeds daarvoor betaal word.

Volgens die LWO-werkgewersorganisasie is die kennistydperke gewoonlik*:

  • Een week vir werknemes met ses maande of minder diens.
  • Twee weke vir werknemers met tussen ses en 12 maande diens.
  • Vier weke vir werknemers met meer as 12 maande diens.

2. Op watter vergoeding is jy geregtig?

Jou skeidingspakket moet gelykstaande wees aan minstens een week se salaris vir elke aaneenlopende diensjaar.

Daarbenewens moet jy ook die volgende ontvang:

  • Salaris tot en met jou laaste werkdag.
  • Opgehoopteverlofbetaling.
  • Enige kommissie- en oortydgeld wat nog aan jou verskuldig is.
  • Pro rata-bonus indien dit so aangedui is in jou werkkontrak.
  • Aftreegeld ingevolge jou maatskappy se pensioenfondsreëls.
  • Betaling vir kennisperiode al hoef jy dit nie te werk nie. Maak seker wat als in jou indiensnemingskontrak staan. Jou afleggingsvoordele is dalk ruimer as die wetlike minimum.

3. Hoe werk die belasting op jou skeidingspakket?

Die eerste R500 000 van jou skeidingspakket is belastingvry. Uitbetalings vir verlof en pro rata-bonusse word nie daarby ingereken nie en word volgens jou individuele belastingkoers belas.

Om vir belastingvergunning in aanmerking te kom, moet jy ’n eenmalige afleggingsbedrag van jou werkgewer ontvang.

Kry nog inligting hieroor op www.sars.gov.za.

4. Wat kan gebeur as jy ’n alternatiewe pos weier?

As jou werkgewer vir jou ’n ander pos aanbied (moontlik by ’n ander maatskappy) en jy weier om dit te aanvaar, kan jy dalk jou afleggingspakket verbeur. Dit berus daarop of jou weiering van die nuwe pos wetlik “onredelik” is of nie.

As die salaris vir die nuwe pos meer is en jy weier, kan dit as onredelik beskou word en kan jy die oorspronklike afleggingsaanbod kwyt wees.

As die nuwe pos swakker betaal en jy weier, is jy nie noodwendig onredelik nie en kan jy nie benadeel word nie.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) kan jou hieroor raad gee.

5. Watter ander fondse is beskikbaar?

  • Werkloosheidsversekering: As jy tot die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) bygedra het, kan jy versekeringsvoordele eis. Jy moet binne ses maande ná jou aflegging vir voordele aansoek doen. Jy behoort ’n jaar se voordele te ontvang. Gaan na www.labour.gov.za vir inligting oor hoe om te eis. Die WVF kan vra dat jy vir opleiding of beroepsvoorligting gaan en ook bewyse vra dat jy aktief nuwe werk soek. Die WVF kan uitbetalings stop as jy weier om ’n ander werk te aanvaar of vir opleiding of beroepsvoorligting te gaan.
  • Kredietlewensversekering: As jy ’n lening het, is die kans goed dat jy kredietlewensversekering het. Die polisse betaal dikwels tot ses maande uit om jou afbetalings te help dek indien jy afgelê word. Die versekering word meestal deur dieselfde finansiële instelling uitgereik as waar jy die lening het. Vind uit hoe jy kan eis en hoe lank die uitbetalings jou sal dek.
  • Sekere huiseienaarsversekering gee jou ’n mate van dekking en sal uitbetaal vir ’n aantal verbandbetalings of ’n spesifieke skuldbedrag. Doen navraag of jy dit het.
  • Salarisbeskerming: Sommige leefstyl- en inkomstebeskermingspolisse betaal nie net uit vir ongeskiktheid of beserings nie, maar ook vir aflegging. Dit is byvoorbeeld tot ses maande se inkomste van tussen R3 000 en R30 000 per maand. Die polisse betaal gewoonlik eers uit as jy minstens twee jaar aaneenlopende diens gehad het.
Kry hier nog raad
Let wel
 Kennistydperke en uitbetalings kan onder arbeidsektore verskil.