Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Onthou, as jy nie skuld getrou betaal nie, sal dit op jou kredietrekord wys. Jy kon ook sonder jou wete die slagoffer van identiteitsdiefstal word, wat kan beteken dat skuld in jou naam gemaak, maar nie betaal word nie.

Of die kredietburo kon bloot ’n administratiewe fout gemaak het wat sleg op jou reflekteer.

En as jy vir werk aansoek doen, sal die voornemende werkgewer dalk jou kredietrekord nagaan, veral as die pos finansiële pligte insluit. Die werkgewer sal nie iemand met ’n slegte skuldrekord vertrou nie.

Hier is vyf dinge waarvoor jy moet uitkyk.

WANBETALINGS

  • Dit word op jou kredietrekord aangebring wanneer jy nie jou rekenings betaal nie of skuldaanmanings ignoreer. Dit bly twee jaar op jou rekord.
  • Gereelde laat betalings word ook as wanbetalings aangedui en bly een jaar op jou rekord.
  • Een van die algemeenste redes vir Suid-Afrikaners se swak kredietrekords is dat hulle net ’n gedeelte van hul maandelikse skuldpaaiemente betaal.

SIVIELE VONNISSE

’n Skuldvonnis vir onbetaalde skuld word op aansoek van die kredietverskaffer deur ’n siviele hof teen jou toegestaan. As jy so ’n vonnis kry, kan dit tot vyf jaar op ’n kredietrekord bly. Dit kan gouer verwyder word as dit deur die hof herroep word of wanneer jy die vonnisskuld ten volle vereffen.

ADMINISTRATIEWE BEVELE

Dit word op jou kredietrekord gesit wanneer jy vrywillig aansoek doen om skuldadministrasie te ondergaan. Dit is ’n proses waarin jou skuld geherstruktureer word sodat jy dit makliker kan afbetaal.

Skuldadministrasie bly gewoonlik tot vyf jaar op jou rekord of tot die bevel deur die hof herroep word. Vir die tyd wat jy onder administrasie is, mag jy nie nuwe skuld aangaan nie – hetsy lenings of kredietkaartaankope.

SEKWESTRASIES

’n Sekwestrasiebevel word deur die hof toegestaan wanneer jy aansoek doen om insolvent verklaar te word. ’n Kurator word dan aangestel om jou finansies te bestuur en besittings te verkoop om jou skuld te delg.

Dit bly vyf jaar op jou rekord of tot ’n rehabilitasiebevel toegestaan word. Rehabilitasie is weer die regsproses wat ’n insolvente persoon se status na solvent toe verander. Die rehabilitasiebevel sal nog vyf jaar op jou rekord wees.

SKULD-HERSIENINGS

Dis ’n vrywillige aansoek deur verbruikers wat dit nie kan bekostig om hul kredietverpligtings te handhaaf nie en wat deur ’n skuldberader nuwe betalingsreëlings met kredietverskaffers wil onderhandel.

Daar word op jou kredietrekord aangedui dat jy onder skuldhersiening is vir so lank as wat die proses duur. 

Wenk

Dit kos jou niks om te sien hoe jou kredietprofiel lyk nie, want jy is geregtig op een gratis kredietrekord per jaar. Jy kan dit aanlyn by ’n kredietburo trek. 

HOE NOU AS EK NIE MEER PAAIEMENTE KAN BEKOSTIG NIE?

  • As jy nie meer jou maandelikse afbetalings kan bekostig nie, moet jy dadelik met die finansierder praat. Hulle is dikwels bereid om alternatiewe reëlings te tref, soos ’n laer maandelikse betaling oor ’n langer tydperk.
  • Oorweeg dit om met ’n finansiële beplanner of ’n skuldberader te praat. Albei kan jou help om ’n plan op te trek om jou skuld te delg, selfs al gaan jy nie onder skuldberading nie. As jou skuld te veel is, kan jy skuldberading oorweeg.

HOE KAN EK DIT REGSTEL?

  • As die negatiewe kennisgewings op jou kredietrekord korrek is, moet jy die uitstaande skuld ten volle afbetaal sodat enige wanbetalings van jou kredietrekord verwyder kan word.
  • As jy jou skuld gedelg het en die negatiewe inligting daarna steeds op jou kredietrekord is, moet jy dit so gou moontlik by die kredietburo aanmeld waar jy die rekord getrek het. Jy kan dit gewoonlik op die buro se webtuiste of deur hul oproepsentrum doen.
  • Dit geld ook as die kredietburo ’n fout gemaak en die verkeerde inligting gelys het. (Hulle kan dit opvolg en bevestiging kry.) Die buro moet vir jou ’n verwysingsnommer gee en dit binne 20 dae regstel. Doen die kredietburo dit nie betyds of bevredigend nie, kan jy by die Kredietombudsman (www.creditombud.org.za) kla.
  • As die inligting foutief is en jy ’n slagoffer van identiteitsdiefstal is, moet jy dit by die kredietburo en polisie aanmeld. Jy sal ’n saaknommer kry wat jou sal help om te bewys dis nie jy wat die skuld aangegaan het nie. Jy kan die Suid-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens (011-867-2234), die Kredietombudsman en Nasionale Kredietreguleerder (www.ncr.org.za) kontak om raad.

KRY HIER NOG RAAD