Die Paasnaweek is berug vir die druk verkeer op ons land se paaie – en ongelukkig ook baie ongelukke; daarom is dit noodsaaklik dat jy jou motorversekeringspolis noukeurig nagaan voor jy ry.

Sorg dat al die inligting in jou polis akkuraat is en dat jy alle voorwaardes nakom.

Hier is vyf dinge wat jy moet weet oor motorversekering.

Waarom eise misluk

Die algemeenste redes dat eise nie betaal word nie:

  • Onwettige bestuur: As jou rybewys opgeskort is of verstryk het; as jy onder die invloed van alkohol of dwelms bestuur; of as jy iemand anders wat onder die invloed is of nie ’n geldige rybewys het nie toelaat om te bestuur.
  • Onpadwaardige motor: As jou motor weens swak instandhouding of meganiese gebreke nie op die pad mag wees nie (byvoorbeeld verslete bande, remme wat nie werk nie, verweerde ratkasseëls of kopligte wat nie werk nie).
  • Onaangewese bestuurder: As iemand anders as jy tydens die ongeluk bestuur, maar daardie mens nie op jou polis as bestuurder aangedui bestuur nie.
  • Onvoldoende sekuriteit: Jou polis vereis dat jou motor ’n alarm, immobiliseerder of opspoortoestel moet hê, maar jy het dit nooit laat installeer nie.
  • Laat eise: Gewoonlik moet jou eis binne 30 dae ingedien word om oorweeg te word.
Die statistiek

49% – Soveel van alle klagtes wat die ombudsman vir korttermynversekering ontvang, is oor motorversekeringseise. Dis waaroor die meeste mense kla.

R59,2 miljoen – Die waarde van motoreisklagtes wat in 2016 in die guns van die polishouer beslis is.

Belangrik vir ’n suksesvolle ongelukeis

Sorg dat jy op die toneel van die ongeluk en met die aanmelding daarvan alles volledig doen.

  • Moenie skuld vir die ongeluk aanvaar nie: Aanspreeklikheid moet deur die versekeringsmaatskappy vasgestel word, nie deur die motoriste nie.
  • Kry die ander bestuurder se besonderhede: naam, ID- en telefoonnommer, e-posadres, woon- en werkplek en versekeringsmaatskappy.
  • Voertuiginligting: Skryf die handelsnaam, model, kleur en registrasienommers neer van alle voertuie wat by die ongeluk betrokke was.
  • Foto’s: Gebruik jou selfoon of kamera om die ongelukstoneel en skade af te neem.
  • Ooggetuies: Vra enigiemand wat die ongeluk sien gebeur het en ook die wegsleepdienspersoneel vir hul persoonlike besonderhede.
  • Aanmelding: Jy moet die ongeluk binne 24 uur by die naaste polisiekantoor aanmeld en ’n ongeluksverklaring aflê.

Voorkom nog skade

As jy met jou voertuig van die ongelukstoneel af wegry, kan jy net enige skade vererger.

Dan kan jou versekeraar weier om die volle herstelbedrag te betaal.

Gebruik liewer ’n wegsleepdiens. Baie versekeringsfirmas sal toelaat dat jy tot op ’n sekere limiet die geld vir die insleepdiens terugeis.

Versekeringsmaatskappye het ook noodnommers wat jy kan bel, en hulle kan ’n wegsleepdiens na jou uitstuur.

As jy tot ’n organisasie soos die AA behoort, moet jy hulle gewoonlik direk bel, want hulle sal self aan jou inligting oor ’n wegsleepdiens gee.

Sekere motorvervaardigers het ook motorplanne en sal hul voorkeurinsleepdiens na jou toe stuur.

Noodverblyf en mediese dienste

As jy en jou passasiers op straat sit weens skade aan jou ryding, sal die meeste versekeraars vir een nag se verblyf betaal.

Dis gewoonlik ’n vasgestelde bedrag per persoon of voorval.

As jy of iemand anders in die motor beseer is, sal baie versekeraars ook die mediese koste tot op ’n sekere bedrag dek.

Maar die versekeringsmaatskappye se reëls verskil. Dis ook nie van toepassing as jy ’n mediese skema het wat jou mediese uitgawes sal dek nie.

Verstaan waarvoor jy dekking het

  • Slegs derdepartydekking: Net die ander voertuig of eiendom wat jy beskadig het, is gedek; jou motor nie.
  • Derdeparty-, diefstal- en branddekking: Met ’n ongeluk word net die ander party se motorskade gedek, maar jy is gedek as jou motor gesteel of deur ’n brand beskadig word.
  • Omvattende dekking: Brandskade, diefstal of poging tot diefstal word gedek, asook enige ongelukskade of toevallige gebeurtenisse soos hael of kwaadwillige skade. So ook skade aan ’n ander motor as jy die ongeluk veroorsaak het.

Kry hier nog raad 

Die ombudsman vir korttermyn­versekering: www.osti.co.za; 0860-726-890.
Die Suid-Afrikaanse Versekerings­vereniging: www.saia.co.za; 011-726-5381.

Bron: 2016-Jaarverslag van die ombudsman vir korttermynversekering, uitgereik in 2017.
Nog wenke
Hanlie Stadler, sakeredakteur van Netwerk24, het met Letitia Watson by die Woordfees in Stellenbosch gesels. Lees hier wat millenniërs oor geldsake moet weet.