Nie almal wie se geldsake nou gesond is, was eens sonder skuld nie. Hulle het ’n plan beraam om uit die skuld te kom.

Krediet kan baie voordelig wees as jy dit verantwoordelik gebruik, maar slegte gewoontes kan jou baie gou in ’n maalkolk van skuld laat beland. Ons kyk na die slegste gewoontes van mense wat gedurig kniediep in die skuld is en hoe ’n mens dié gedrag kan afleer.

Hulle ignoreer die geheelbeeld

Baie mense ignoreer hoeveel hul totale skuld is, want hulle besef nie wat alles as skuld beskou word nie. Lenings, die selfoon wat jy afbetaal, die rekening by jou geliefkoosde winkel, uitstaande bedrae op jou kredietkaart en ’n oortrokke rekening is byvoorbeeld alles skuld.

Dit gebeur regtig dat mense die geheeldbeeld verontagsaam omdat hulle bang is vir die waarheid. Maar skuld gaan nie weg omdat jy dit ignoreer nie.

Maak so

Vra jou kredietrekord aan. Daar is ’n lys kredietburo’s op die Nasionale Kredietreguleerder se webtuiste (www.ncr.org.za). Kyk ook watter aftrekkings maandeliks van jou bankrekening afgaan. Stel ’n sigblad saam of skryf neer watter betalings alles vir skuld is. Dit sal jou vinnig wys hoeveel skuld jy het.

Stel ’n begroting op. Dit wys hoeveel jou uitgawes teenoor jou inkomste is en help jou om jou uitgawes beter te boekstaaf. Die goue reël is dat jy altyd minder moet uitgee as wat jy inkry; so nie stuur jy af op ’n ramp. Daar is oulike begrotingsapps vir slimfone.

Hulle slaan betalings oor of betaal laat

Dié gewoonte maak dit ál moeiliker om eindelik die skuld te delg, want jy sal later ’n groter bedrag moet betaal (dit en die volgende maand se betaling) om in te haal.

Laat betalings, of wanneer jy oorslaan, kan ook behels dat ’n hoër rentekoers op daardie betaling gehef kan word. Dit maak die skuld selfs meer.

Selfs as ’n mens met een betaling laat is, kan dit op jou kredietrekord aangeteken word. As jou krediettelling swak is, sal dit moeiliker wees om lenings te kry.

Maak so

As jy die vermoë het om die skuld te betaal, stel Francois Viviers van Capitec voor jy prioritiseer dit: Probeer effens meer betaal op dié met die hoogste rentekoers terwyl jy steeds die minimum vereiste vir elke ander lening betaal.

Hulle betaal skuld met skuld

Dit is wanneer jy jou kredietkaart gebruik om skuld op ander rekenings te betaal. Dit word skuldherwinning genoem. Die probleem is jou kredietkaart hef normaalweg van die hoogste rentekoerse; dus groei jou maandelikse afbetaling daarop terwyl jy dit net regkry om die minimum op jou ander rekenings te betaal.

Maak so

Praat met jou kredietgewers. Jy kan ooreenkom om maandeliks laer paaiemente te betaal. Dan betaal jy darem bestaande skuld af sonder om dit net te herwin. Daar is ook ’n nasionale vereniging vir skuldbemiddeling (www.ndma.org.za) by wie jy kan aanklop.

Hulle help betaal ander se skuld af

Moenie iemand anders se skuld betaal as jy nie al jou eie finansiële verpligtings kan nakom nie. Baie mense het familie wat aandring op hulp.

Maak so

Wanneer jy iemand met hul skuld wil help, kan jy dit net oorweeg nadat jy al jou eie afbetalings gedoen, jou spaargeld weggesit en alle huishoudelike verpligtings nagekom het.

’n Eerlike gesprek is die enigste raad. Verduidelik dat jy jou eie verpligtings eers moet nakom. As jy nie jou voet neersit nie, sal jy misbruik word.

En onthou: As jy iemand help, sal die mens maklik net weer verwag hulle moet hulp kry pleks dat hulle self hul skuldlas verminder of ’n beter afbetalingsplan maak. Jy kan voorstel dat ’n finansiële adviseur of ’n skuldraadgewer hulle help.

Moet dit beslis nie doen as jy dit nie kan bekostig en self moet skuld maak om iemand anders te help nie.

Hulle probeer tred hou met al die neigings

Volgens skuldraadgewers is mense se aspirasies om soos ander te leef dikwels een van die grootste redes dat hulle onnodig en te veel bestee.

Maak so

Ons besef nie altyd hoeveel ons leefstyl ons werklik kos nie, maar basiese veranderings kan jou baie geld bespaar. Beproef byvoorbeeld aktiwiteite soos pieknieks, wandelings en besoeke aan museums; dis baie goedkoper as ’n fliek.

Moenie dinge koop omdat ander mense dit het nie, veral nie as jy dit nie kan bekostig nie. Vra jou af of dit regtig waarde toevoeg tot jou en jou gesin se lewe.

Matthys Potgieter van DebtSafe stel voor jy stel ’n daaglikse herinnering op jou foon in om dié beter gewoonte aan te leer.

Kry ’n goeie vriend om jou op die regte koers te hou. Julle kan mekaar herinner en moed inpraat om nie onnodige aankope te doen nie. 

Interessante statistiek

R128,3 biljoen . . .
 Is hoeveel SA verbruikers se skuld teen einde Maart beloop het.
17%
Vergelyk hul besteding op hul bankstate met vorige maande s’n.*
10%
Hou omtrent nooit by hul huishouding se begroting nie.
33%
Hou die meeste van die tyd by hul begroting.

* Stedelike Suid-Afrikaners; Bron: Old Mutual se Spaar-en-beleggingsmonitor 2017

Kry hier nog hulp

Skryf aan ons
Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.