Hoe weet hy dis nie ’n gesteelde voertuig nie, en wat van ’n waarborg op die motor?

Die Wet op Verbruikersbeskerming is baie duidelik oor die pligte van handelaars, maar ook oor die pligte van kopers. Ons kyk na wat kopers alles moet weet.

1. Is die handelaar betroubaar?

Jy moet vroegtydig jou huiswerk doen oor die handelaar se rekord. Die Kleinhandelmotorbedryforganisasie (rmi.org.za) kan jou help met inligting oor handelaars wat lid is van die Nasionale Vereniging van Motorhandelaars (Nada).

Kyk ook op verbruikersplatforms in die sosiale media wat ander kopers sê oor hul ervarings met die handelaar.

2. Wat moet die handelaar alles openbaar maak?

Hy moet wetlik die volgende inligting verskaf:

  • Alle foute waarvan die handelaar redelikerwys behoort te weet. “Redelikerwys” beteken dit is probleme waarvan die handelaar beslis weet, maar ook wat hy gegewe sy ondervinding en kennis behoort te kan identifiseer.
  • Daar kan natuurlik nie redelikerwys verwag word dat die handelaar absoluut alles van elke motor weet nie.
  • ’n Lys van enige herstelwerk of veranderings wat aan die voertuig aangebring is.
  • Die jaar van die voertuig se eerste registrasie (dan weet jy hoe oud die motor is) en of die voertuig byvoorbeeld nuut, gebruik, ingevoer of herbou is.

3. Is dit dalk voorheen gesteel?

Handelaars mag nie onwettige motors, wat byvoorbeeld gesteel is, verkoop nie. Voertuie wat gesteel en teruggevind is, word meestal op veilings verkoop.

Sou ’n handelaar ’n motor verkoop wat gesteel en teruggevind is, moet dit aan die koper bekendgemaak word. Om self seker te maak die voertuig is nie gesteel nie, moet jy die volgende inligting van die handelaar vra:

  • jaar, maak en model;
  • enjinnommer; SVIN-/onderstelnommer;
  • registrasienommer;
  • kleur en kilometers. Jy kan die status op webtuistes soos stolenvehicles.co.za en vehiclecheck.co.za nagaan.
  • Die SAPD of die metropolisie sal kan kyk of ’n voertuig gesteel is en dat die VIN-, onderstel- en enjinnommer ooreenstem met die voertuig se registrasiedokumente. Transunion.co.za het een van die grootste voertuigverifikasiestelsels; jy kan ook die waarde van die voertuig daar uitvind. Sekere van die webtuistes vra ’n fooi om die inligting te soek en te verskaf.

WENK: As voornemende koper mag jy die inspekteer en vir ‘n padtoets neem. Jy kan ook ‘n onafhanklike motorwerktuigkundige vra om die motor te ondersoek, maar jy sal self moet betaal. 

4. Is al die nodige dokumente beskikbaar?

Wanneer jy die gebruikte motor koop, het jy die reg op afskrifte van al die dokumente wat met die verkoop verband hou. Jy sal ook die motor se dokumente en diensrekord kry.

Jy sal ’n erkenning van ontvangs vir alle dokumente moet onderteken. Jy kan ook gevra word om ’n dokument te onderteken wat sê jy aanvaar jy koop ’n gebruikte voertuig en dat dit ’n mate van slytasie het.

En jy verwag nie dit moet soos ’n nuwe voertuig ry nie.

5. Wat van my reg om die motor terug te gee?

Dit is nie dieselfde as ’n waarborg nie, maar as ’n motorkoper het jy kragtens die wet die reg om die motor binne maande aan die handelaar terug te gee – maar net in spesifieke omstandighede.

Dit sluit nalatigheid deur jou en algemene slytasie uit. Dit is jou as koper se verantwoordelikheid om die verskil te verstaan tussen slytasie (soos afgeloopte bande en remskoene) en defekte (iets soos ’n rat wat skielik uitspring).

Jy sal ook nie die kar kan teruggee as jy dit nie intussen goed in stand gehou het nie (soos om gereeld olie in te gooi). Jou redes om die kar terug te gee moet wettig, redelik en bewysbaar wees.

Dit is die koper se verantwoordelikheid om te bewys dat die fout reeds aanwesig was toe die motor aan hom verkoop is. Indien dit die geval is, kan jy terugbetaling, herstel of vervanging vra.

Maar onthou: Sou die motorhandelaar die voertuig terugneem en jy ’n terugbetaling vra, sal dit nie noodwendig die volle koopbedrag wees nie. Geld kan afgetrek word weens slytasie en skade terwyl jy met die motor gery het. 

R31,378 miljoen

Die waarde van alle tweedehandsemotorverkope van Oktober tot einde Desember 2019 in Suid-Afrika. Dit is 4,3% meer as in dié tydperk in 2018.

bron: Statistieke Suid-Afrika

Kry hier nog raad