Die welvaart van huishoudings wat die dienste van 'n finansiële beplanner gebruik, groei oor 'n tydperk van 15 jaar sowat vier keer soveel as dié van mense daarsonder.

Dit blyk uit Momentum se jongste verslag oor huishoudelike finansies. 

Maar om die beste plan vir jou op te trek, moet die beplanner soveel moontlik inligting oor jou omstandighede en behoeftes hê. Doen dus vooraf jou huiswerk: Weet wat jy wil hê, en maak seker jy kan al sy vrae volledig en eerlik beantwoord.

1. Maak seker van die beplanner se bevoegdheid

Beplanners word volgens hul kwalifikasie en ervaring deur die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) gelisensieer vir die dienste wat hulle mag bied. Party mag byvoorbeeld begrafnisdekking verkoop, maar nie beleggings bestuur nie. Nie almal kan omvattend raad gee nie. 

As jy iemand soek wat na die volle prentjie van jou geldsake kyk, kan iemand wat net 'n polis mag verkoop jou nie help nie. Gaan die betrokke persoon of instansie op die FSCA se webtuiste (www.fsca.co.za) na.

Die FSCA lys ook raadgewers wie se lisensies opgeskort is of verval het. 

Vra ook verwysings by kollegas of vriende. Oorweeg dan iemand wat bekend is vir ’n goeie begrip van mense se persoonlike behoeftes en finansiële doelwitte. 

2. Kry volledige inligting oor jou geldsake gereed

'n Paar maande se bankstate. Die finansiële beplanner kan dan voorstel hoe jy jou besteding kan aanpas om geld af te knyp om te spaar of skuld te betaal en jou help om 'n begroting op te stel wat jy beter kan monitor.

Inligting oor beleggings soos aandele in 'n maatskappy of effektetrusts; jou bestaande spaargeld, uitreeannuïteit of aftree­fonds; polisse soos huis- en motorversekering; enige lewens-, begrafnis- en inkomstedekking; en jou skuld.

Die beplanner kan vra dat jy 'n dokument onderteken wat hom toestemming gee om jou finansiële inligting oor polisse en beleggings by maatskappye te trek.

3. Wees eerlik en realisties oor jou skuld

As jou maandelikse inkomste jou skuld kan dek, kan die beplanner dit by jou begroting inreken en jou raad gee oor hoe om dit vinniger af te betaal.

As jy sukkel, is dit beter om eers met 'n skuldberader te praat wat by die Nasionale Kredietreguleerder geregistreer is, sê Tamryn Lamb van Allan Gray. Dit moet ’n prioriteit wees.

4. Dink voortydig oor jou doelwitte

Wil jy vir aftrede spaar, 'n huis koop of vir jou kinders se studie belê? 

As jy weet wat jou prioriteite is, kan die finansiële beplanner saam met jou bereken hoeveel geld beskikbaar is vir jou verskillende doelwitte en verduidelik hoe jy dit kan behaal. 

5. Besluit vir hoeveel risiko jy kans sien

Jy dink miskien dat jy net geld in 'n spaarrekening wil hê sonder enige risiko, maar afhangend van jou doelwit, kan jy ander beleggings oorweeg, sê Tamryn. Beleggers het drie risikoprofiele: konserwatief, matig en aggressief.

As jy konserwatief belê, wil jy nie die risiko loop om geld te verloor nie, al is die groeikoers laag. Matige beleggers sien kans om meer risiko te hanteer, soos 'n mate van wisselvalligheid in die aandelemark, maar hulle wil steeds kapitaalverliese beperk.

Aggressiewe beleggers fokus op sterk groei en is bereid om vir langer tydperke te belê. Hulle is gewoonlik nie afhanklik van 'n inkomste uit hul beleggings nie en kan daarom meer risiko neem. 

Jou beplanner sal met jou gesels oor hoeveel risiko jy kan en wil neem en jou help om beleggings te kies waarmee jy gemaklik is. 

6. Vind uit wat die dienste jou gaan kos

'n Agent verteenwoordig bepaalde maatskappye en kan net daardie maatskappye se produkte en dienste aanbied. 

Onafhanklike beplanners kan jou egter adviseer oor die produkte van verskillende maatskappye, hoe hul opbrengste vergelyk en watter die beste vir jou sal wees. 

Vind vooraf uit wat die konsultasie jou sal kos. Baie onafhanklike beplanners vra net 'n konsultasiefooi. Jy betaal hulle vir die werk wat hulle vir jou doen en hul tyd – en nie deurlopend nie. 

Wenk
Jy is nie verplig om die polis – of beleggings – produkte te kies wat iemand aanbeveel omdat jy hom gaan sien nie. 


Kry hier nog raad


Kontak ons
Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-pos sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.