Paartjie by die bank.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

1. Bou jou noodfonds 

Baie mense dink noodfondse is net vir onverwagte uitgawes soos ’n mediese prosedure of groot skade aan jou huis of motor. Maar as jy dit los om op langtermyn te groei, kan dit ook op ander maniere vir jou werk, soos vir die finansiering van ’n tuisonderneming – iets wat talle mense weens die pandemie moes doen.

Sodoende hoef jy nie ’n lening daarvoor uit te neem nie. Styf jou noodfonds met jou bonusgeld of ander meevallers. Of verhoog jou noodfondsbydrae as jy ’n salarisverhoging kry.

Likiede beleggings – wat beteken die geld is vinnig beskikbaar – is die beste keuse, maar ’n spaarrekening se groei is laag. Raadpleeg eerder ’n finansiële beplanner oor iets soos effektetrusts wat nie baie riskant is nie en binne 24 tot 48 uur uitbetaal.

2. Betaal jou skuld af 

Daar is sogenaamde goeie skuld (studie- en huislenings) en slegte skuld (klererekenings en kredietkaartskuld). Maar as jy nie daarvan ontslae raak nie, word alle skuld later slegte skuld, waarsku die finansiële raadgewer Jeff Rose.

Hoe meer skuld jy afbetaal, hoe meer kan jy spaar. Weet wat jy skuld en aan wie. Hou ’n bygewerkte lys van skuldeisers, totale bedrae verskuldig, jou maandelikse terugbetalings en sperdatums.

’n Sigblad in Excel of ’n foon-app kan jou help om jou finansiële verpligtinge betyds na te kom. Dit sal jou ook help om laat betalings – en dus strafboetes op verhoogde renteskuld – te voorkom.

Gebruik meevallertjies soos enige bonusgeld om jou skuld vinniger te delg. As jy oorweldig voel, raadpleeg ’n skuldberader.

3. Beplan vroeër vir aftrede 

Hoe vroeër jy begin, hoe groter is die groeikrag van jou aftreebelegging. Voorbeeld Op die ouderdom van 25 begin jy R1 000 per maand wegsit teen ’n opbrengs van 12%.

Op 55 sal jou spaarbedrag reeds sowat R6 miljoen beloop. As jy egter op ouderdom 30 dieselfde bedrag begin spaar, sal jy op 55 net sowat R3 miljoen hê.

Hoe vroeër jy begin spaar, hoe minder hoef jy maandeliks weg te sit om wesenlike welvaart te bou. Sodoende is jy ook voorbereid as jy weens swak gesondheid of herstrukturering in jou werkplek vroeër moet aftree.

Wenk

Jy kan jou noodfonds in jou huislening bêre. As jy maandeliks meer as die vereiste huispaaiement betaal, het jy waarskynlik voorafbetaalde fondse daarin. Huiseienaars met ’n toegangsrekening mag dié ekstra geld onttrek soos benodig. 

4. Hou op om op te gaar 

Baie mense het ’n swakplek om dinge soos skryfbehoeftes of handsakke te koop en te bêre, “want ons sal dit wel later nodig kry”. Maar as jy weer sien, gee jy hopeloos te veel van jou beskikbare inkomste uit op hierdie kompulsiewe gedrag, waarsku Rose.

Maak dit jou finansiële doel om sulke gewoontes te staak. Ernstige verslawingsprobleme wat nadelig is vir jou gesondheid, soos alkoholisme, is natuurlik ook nadelig vir jou geldsake. Maar daarvoor benodig jy professionele hulp.

5. Leef binne jou vermoë 

Om werklik welvaart te bou, moet jou uitgawes nie meer as jou inkomste wees nie. Om dít reg te kry, moet jy ’n begroting opstel. Selfoon-apps soos 22seven, Budget App & Spending en Goodbudget kan jou help begroot.

As dit onmoontlik is om jou uitgawes te besnoei, moet jy probeer om ’n ekstra bron van inkomste te kry.

6. Skep ekstra inkomstestrome

Ekstra inkomste is ’n goeie hulpmiddel om jou te help om binne jou vermoë te lewe as jou uitgawes te groot is. En die pandemie het ons boonop geleer hoe belangrik dit is om nie van een inkomste afhanklik te wees nie.

Baie mense probeer ekstra werk doen, soos boekhouding, administrasie, proeflees-, vertaal- en skryfwerk aanlyn of verkoop produkte soos juweliersware of gebak.

Die ekstra geld kan jy gebruik om skuld te delg, onverwagte onkoste te betaal of om meer te spaar. Dit is ook ’n goeie buffer as jy dalk jou hoofinkomste verloor.

7. Sorg vir jou afhanklikes

Maak seker jy voorsien vir jou gesin as jy dalk onverwags sou sterf. Vra ’n prokureur om jou te help met die opstel van ’n testament wat maklik beredder kan word. Finansiële raadgewers kan jou ook met lewens- en ongeskiktheidsdekking help.

Lewensdekking kan vir jou naasbestaandes finansieel sorg as jy sterf en help met skulddelging, terwyl ongeskiktheidsdekking voorsien vir uitgawes as jy weens ’n besering of siekte nie kan werk nie.

Kry hier nog raad
  • Nasionale Kredietreguleerder: ncr.org.za, 0860-627-627
  • Finansiële beplanners: fpi.co.za en fia.org.za