DIS ’N GROOT OOMBLIK: JY VERDIEN JOU EIE SALARIS

Jy het pas met jou eerste werk begin en jou kontantvergoeding kan net so ver rek, veral omdat jy nog studieskuld afbetaal. ’n Mediese en aftreefonds is deel van jou salarispakket; daarom hoef jy seker nie bekommerd te wees oor die toekoms nie, of hoe? 

Verkeerd, maan Charné van der Walt van Lemons into Lemonade Financial Planners. Hoe jonger jy met ’n finansiële strategie vir jou toekoms begin, hoe beter. Dis nie soseer hoeveel jy het om te spaar of belê wat belangrik is nie – dis hoe gou jy begin.

Hier is sewe dinge wat jy moet doen wanneer jy daardie eerste salaristjek in jou hand het.


1. MAAK SEKER JOU PENSIOENBYDRAE IS GENOEG 

As 15% van jou salaris voor belasting na jou werk se aftreefonds gaan, behoort jy eendag gemaklik te kan aftree – mits jy daardie 15%- bydrae 45 tot 50 jaar lank kan volhou. 

Maar as jou huidige bydrae minder as 15% is, kan ’n finansiële raadgewer uitwerk hoeveel jy ekstra moet spaar om jou maatskappy se aftreefonds aan te vul. 

Moenie moedeloos raak as jy dié ekstra bedrag nie dadelik kan bekostig nie. Maak dit ’n doelwit vir jou volgende verhoging. 

2. BEGIN ’N NOODFONDS

Dis geld wat jy wegsit vir onvoorsiene krisisse – jy moet andersins glad nie daaraan raak nie. 

Stel vir jouself ’n noodfondsteiken, byvoorbeeld R5 000 of R10 000 oor die volgende vier jaar.

Sit dan byvoorbeeld R300 per maand weg tot jy daardie teiken bereik. 

Daarna kan jy die R300 per maand vir iets anders gebruik, soos oorblywende studieskuld.

3. IS JOU MEDIES VOLDOENDE? 

Indien jy op die mediese fonds se hospitaalplanopsie is, word binnehospitaalkoste tot ’n sekere vlak uitbetaal.

Maar alles wat nie deur jou fonds gedek word nie, kom uit jou eie sak – en dit kan veral jong mense met beperkte inkomstes geldelik verwoes, waarsku Charné. 

Opgradering na vollediger dekking is egter duur – en soms onnodig as jy nog jonk en gesond is. Oorweeg dus gapingsdekking. 

Dis goedkoper as opgradering en sal spesifiek uitbetaal vir hospitaalkoste wat nie deur die fonds gedek word nie.

 4BESTUUR JOU SKULD

Betaal jou huidige skuld, soos studieskuld, eerder vinniger af voor jy ekstra skuld maak vir byvoorbeeld ’n motor. 

Moenie agterstallig raak met huidige skuldbetalings nie; dit sal jou kredietrekord benadeel. 

Jou eerste motor moenie te duur wees nie – dis dwaas om al jou besteebare geld op wiele te blaas.

5. POLISSE

Vind uit watter groepvoordele jou werkgewer verskaf. Soms is lewens- en ongeskiktheidsdekking byvoorbeeld reeds deel van jou vergoedingspakket.

Indien nie, oorweeg polisopsies met ’n lae premie, sê Charné. Begroot byvoorbeeld R150 en kyk watter dekking jy daarmee kan koop. 

Ongeskiktheidsdekking voorsien vir uitgawes indien jy weens ’n besering of siekte nie meer kan werk nie, hetsy tydelik of permanent. 

Lewensdekking kan jou begrafnis- of studieskuld betaal as jy sterf. Moenie polisse met jaarlikse premieverhogings van 10% kies nie – dit kan baie duur word. Kies premieverhogings van 5%. 

6. KRY BELASTING ONDER DIE KNIE 

Baie jong mense dink hulle hoef nie belastingopgawes in te dien as hul jaarlikse inkomste minder as R350 000 is nie. Doen dit liefs. 

Al verdien jy minder as R350 000, kan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens jou belastinginligting aanvra as jy dalk oorsee gaan werk of ’n polisuitbetaling kry.

7. OPPAS VIR WINKELSKULD 

Baie jong mense koop klere, elektriese toestelle en meubels op skuld. As jy dit binne die rentevrye tydperk heeltemal afbetaal, maak dit geldsin. 

Maar luukse items wat jy oor ’n lang tyd afbetaal, werk eindelik baie duur uit.

38%

Dit is die persentasie van stedelinge tussen die ouderdomme van 18 en 30 wat ’n noodfonds as spaardoelwit prioritiseer. 

BRON: OLD MUTUAL SAVINGS & INVESTMENT MONITOR 2018

Wenk
Hersien jaarlikse en namate jou salaris styg hierdie sewe stappe, en pas dit aan na gelang van jou veranderde behoeftes en vermoëns.
Kry hier nog raad