Het jy al ooit by 'n supermark met 'n kort lysie ingestap en met 'n stampvol trollie uitgestap met goed wat jy nie geweet het jy nodig het nie? Hier is slim wenke om jou tyd en geld te spaar wanneer jy weer inkopies doen.

1. Neem dit af

Neem 'n foto van die inhoud van jou ys- en koskas op jou foon voor jy winkels toe gaan. Op dié manier sal jy presies weet wat jy het en wat jy nodig het, wat jou minder geneig sal maak om iets te vergeet – of iets ekstras te koop.

2. Doen dit alleen

Sowat 65% van die items wat ons in die trollie pak wanneer ons saam met ons gesin (veral ons kinders) inkopies doen, is onbeplan.

Neem beheer van jou weeklikse inkopies deur jou maat en kinders tuis te los. Deur dit alleen te doen en by jou lysie te hou sal jy ’n klein fortuin spaar en sonder ’n kopseer by die huis kom.

3. Kontant is koning

Gaan maak 'n draai by die OTM.

In 'n studie wat in die Journal of Consumer Research gepubliseer is, is oor ses maande na die inkopiegewoontes van 1 000 huishoudings gekyk en bevind kopers wat kontant betaal het, het minder verwerkte kosse en meer voedsame items gekoop as dié wat met die kaart betaal het.

Kaartgebruikers het nie net meer gemorskos gekoop nie; hulle het ook gemiddeld tot 78% meer aan kruideniersware bestee.

Omdat krediet- en debietkaarte meer abstrakte vorme van betaling is, gebruik ons dit nie so versigtig soos kontant nie.

4. Vertoef by die buitenste rakke

Kruidenierswinkels plaas noodsaaklike items soos suiwelprodukte, vleis en vars produkte op 'n strategiese wyse aan teenoorgestelde punte van die winkel sodat jy gedwing word om deur al die middelste winkelrakke te loop en in die versoeking kan wees om goed te koop wat jy nie nodig het nie. 

Wanneer jy in die supermark instap, loop eers om die rand daarvan voor jy 'n draai by die binneste winkelrakke maak. 

5. Eet voor jy koop

Dis algemene kennis dat 'n leë maag jou lus maak vir allerlei soorte kos, maar in navorsing is bevind honger kan ook jou besluitnemingsvermoë aantas. 

In 2010 is in 'n studie aan die Londense Universiteitskollege bevind honger deelnemers het dobbelbesluite met 'n hoër risiko geneem as dié wat versadig was. Navorsers glo die hormone wat jou liggaam afskei wanneer jy honger is, beïnvloed jou vermoë om rasioneel te dink.

6. Vind jou eie ritme

Talle winkels speel musiek met 'n ritme wat heelwat stadiger as die gemiddelde hartklop is, wat jou meer tyd in die winkel laat deurbring en tot 29% meer dinge laat koop, volgens Martin Lindstrom, skrywer van Brandwashed: Tricks Companies Use to Manipulate Our Minds and Persuade Us to Buy. 

Dra oorfone en luister na opgewekte liedjies om vinnig in en uit te beweeg en geld te spaar.

7. Kies 'n mandjie

Winkeltrollies, wat in 1936 deur die Amerikaanse sakeman Sylvan Goldman bedink is as 'n manier om klante meer kruideniersware te laat koop, flous ’n mens om meer te koop.

Hoe groter die trollie, hoe gemakliker voel ons om dit vol te maak.

Martin en sy span het as deel van 'n eksperiment die grootte van trollies verdubbel, en niksvermoedende klante het 19% meer kruideniersware as gewoonlik gekoop.

8. Kyk op, kyk af

Supermarkte plaas die items wat hulle wil hê jy moet koop op oogvlak.

Op die rak met ontbytkosse sal grootmaat-ontbytkos dalk op die onderste rak geplaas word, terwyl die gesonder opsies bo is. Die duurder handelsname word op oogvlak gepak; maak dus seker jy kyk op en af wanneer jy deur die rakke wandel.

9. Snuffel behoorlik

Om agter op die rak of in die yskas vir versteekte items te snuffel kan beteken jy vind die varsste produk met 'n later verkoopdatum. 

As jy lui is en net voorlangs vat, sal jy waarskynlik die produkte met die kortste rakleeftyd kry. Dié eenvoudige wenk kan baie help om die kos te beperk wat in jou huishouding vermors word. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.