Tik en betaal
Baie kleinhandelaars stel jou nou in staat om net jou debiet- of kredietkaart by die betaalpunt teen die masjien te tik om te betaal. Jou kaart en die masjien moet die kontaklose simbool op hê.

Hoe doen jy dit?

Aktiveer dit

Alle kaarte kan nie onmiddellik vir dié tran­saksies gebruik word nie, al het dit die kontaklose simbool op. Vind by jou bank uit hoe om dit te aktiveer; gewoonlik verg dit net ’n tradisionele transaksie by ’n OTM of kaartmasjien wanneer jy die kaart vir die eerste keer gebruik.

By die betaalpunt

Die kassiere sal die kontaklose betaling aktiveer. Dan tik jy letterlik net jou kaart teen die kaartmasjien se skerm. Jou kaart en die kaartmasjien gebruik sogenaamde “Near Field Communication” (NFC)-tegnologie. Sodra jy jou kaart op die toestel tik, word betalingsinligting koordloos gestuur.

Banke plaas ’n beperking op die kontaklose transaksies wat sonder ’n PIN gedoen kan word. Sodra die bedrag byvoorbeeld meer as R200 is, moet jy ’n PIN insleutel nadat jy met jou kaart op die skerm getik het.

WEET DIT

  • Jy kan dit op enige plek ter wêreld gebruik waar die betaalpunt die kontaklose simbool het. Dit word die nuwe, aanvaarde manier om te betaal en is algemeen by winkels, kitskosrestaurante en vulstasies. Sommige OTM’e van FNB werk selfs met dié funksionaliteit.
  • Jy kan nie dieselfde tran­saksie per ongeluk twee keer aktiveer nie omdat die kassiere dit eers moet aktiveer. Elke kontaklose betaling genereer ’n unieke sekuriteitskode, en die kode kan nie hergebruik word om nog ’n betaling met dié kaart te doen nie. Daarom kan jy ook nie per ongeluk net ’n betaling doen as jy naby aan ’n kontaklose betaalpunt staan nie.
  • Die kontaklose funksie op Visa- en MasterCard-­kaarte kan gedeaktiveer word as jy dit so verkies. Bel jou bank en vra dat dit gedoen word of gebruik jou bank se app of webtuiste.  

Voordeel

Dit is vinniger as om jou kaart deur die kaartmasjien te trek of in te druk. Sowat 15 sekondes word gemiddeld per transaksie bespaar as jy jou kontaklose kaart teen ’n NFC-toestel tik.

Nadeel

Dit is amper soos om kontant rond te dra. As ’n dief die kaart gaps, sal hy ook daarmee kan aankope doen – tot die transaksielimiet waarvoor ’n PIN nie nodig is nie.

Jy moet ’n verlore of gesteelde kaart dus onmiddellik aanmeld, anders sal jy nie enige kontaklose betalings kan betwis nie. Maar as jy die verlore kaart aangemeld het en dit dan daarna gebruik word om vir iets te betaal, kan jy die geld terugeis.

Wat kos dit?

Dit kos niks ekstra nie; net jou bank se standaardtarief vir transaksies.

Skandeer en betaal
Jy het seker al daardie 2D-strepieskodes by betaalpunte gesien wat uit swart vierkante en kolletjies bestaan. Jy gebruik ’n slimfoon-app – soos SnapScan, Zapper, Pay@ en Masterpass – om die kode met jou foonkamera te skandeer en daardeur onmiddellik te betaal.

Hoe doen jy dit?

Kry die app: Laai ’n app soos SnapScan of Zapper af in jou app-winkel, en laai dan jou bankkaarte se inligting daarop. Die apps is gewoonlik gratis en jy gebruik dit by handelaars wat ’n SnapScan- of Zapper-kode het.

Sekere banke soos FNB en Nedbank se eie app kan betalings met enige QR-kode doen. Capitec, Absa en Standard Bank gebruik die Masterpass-­app. Jy moet dit apart aflaai, maar kan dan enige QR-­kode skandeer om die betaling te doen.

By die betaalpunt

Maak die app oop en skandeer die QR-­kode. Jy gee magtiging vir die betaling deur ’n PIN, vinger­afdruk of wagwoord, afhangend van die app en slimfoon wat jy gebruik. Die handelaar kry dadelik kennis van jou betaling en jou betaalkwitansies word op die app geberg.

Voordeel

Spoed, veiligheid (jy dra nie kontant aan jou nie) en gerief.

Nadeel

Die tegnologie kan goed werk, maar as jou selfoon pap is, sal jy nie kan betaal nie.

Wat kos dit?

Geen bykomende koste nie; slegs jou kaart se standaardtransaksiekoste geld. Jy verdien steeds soos met gewone transaksies loja­liteitspunte by jou bank.

Kry hier hog raad

Kom neem deel aan die gesprek