Die dag van sy afdanking het hy nie net sy werk verloor nie; ook kollegas wat vir hom meer soos familie was. Toe Adam Ely (63) van Kaapstad in 1999 ná 16 jaar sy werk by ’n meubelmaatskappy verloor, was dit ’n groot slag.

Hy het geweet hy moet ’n plan maak om die pot aan die kook te hou. Adam het met begrotings gewerk en was ook verantwoordelik vir voertuigaankope by die onderneming. Toe die maatskappystruktuur verander, is hy ’n werk in Johannesburg aangebied.

Omdat hy nie die nodige ervaring vir die bepaalde pos gehad het nie, het hy die aanbod van die hand gewys. Daarmee was hy sy werk kwyt. “Ek het my CV gereed gekry, maar dit was moeilik omdat ek baie spesifieke ervaring gehad het.” Hy het later ’n werwingsagentskap genader, maar dit het nie vrugte afgewerp nie.

“Dit was ’n baie angstige tyd.” Adam se liefde vir ander en die vrywilligerswerk wat hy in sy vrye tyd doen, het hom eindelik gered.

‘Jy moet meer dikwels van werk verander en nie te veel van jou kosbare tyd in een maatskappy belê nie’

Hy het blindes gereeld rygeleenthede gegee, onder meer kerk toe, en ná ’n bietjie langer as ’n jaar sonder werk het hy ’n bestuurspos in die bedryfsafdeling gekry by die nieregeringsorganisasie Vriendebond van die Blindes.

Hy was ook ’n vrywilliger-tesourier by ’n tak van die Nasionale Raad vir Blindes en het ’n paar jaar later by dié organisasie gaan werk. Die afgelope jaar werk hy by die Children Disability Centre as hoof van hul hulpbronnesentrum.

Die pa van twee is nog glad nie van plan om af te tree nie en sê hy glo sy gemeenskapsbetrokkenheid het hom destyds deur dié moeilike tyd gehelp.

“Ek het grootgeword in ’n tyd toe jy nie net voor die rekenaar kon sit en speletjies speel nie. Jy moes uitgaan en mense ontmoet om dinge gedoen te kry.”

Om jou werk te verloor is vir die meeste mense ’n groot vrees, en kenners meen Adam is nie uniek nie. Met die ekonomie wat knyp, is daar baie herstrukturerings en poste word gevries.

Net by groot metaal- en ingenieursmaatskappye in die land is aanduidings tot 20 000 mense kan binnekort hul werk kwyt wees, sê die vakbond Solidariteit. In die loop van die boekjaar 2016-’17 is 48 448 afdankingsake verwys na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), ’n onafhanklike liggaam wat arbeidsregtelike gevalle behartig. Uit dié groep het 22 293 mense eindelik hul werk verloor.

Lusanda Myoli, woordvoerder van die KVBA, sê dié syfers verwys net na sake wat hulle hanteer het. Die werklike syfers kan hoër wees omdat werkgewers en vakbonde nie regtens verplig word om die liggaam te nader nie.

Volgens haar verwag hulle dat die getal afdankings in die komende jaar sal toeneem. Tog is daar hoop. Jy kan jou loopbaan weer op dreef kry ná ’n uitdiensstelling.

Hanteer kwade gevoelens ná uitdiensstelling so

Dit is baie belangrik om die intense emosies wat jy ervaar nadat jy jou werk verloor het doeltreffend te bestuur, meen Rod Warner, uitvoerende hoof van Building Resilience, ’n maatskappy wat daarin spesialiseer om mense by te staan wat deur korporatiewe personeelbesnoeiing geraak is.

“Ek is self 20 jaar gelede uit diens gestel by ’n groot finansiële maatskappy en het die hele proses beleef,” sê hy. Rod vertel hy kry gereeld te doen met mense wat woedend is nadat hulle afgelê is.

Hy glo dié vier vrae kan jou kwade gevoelens ná ’n personeelinkorting help verwerk:

Hoe verwerk ek dit?

Jy moet besef dat jy jou uitdiensstelling mettertyd sal moet aanvaar en met jou lewe aangaan, sê Rod. Sommige mense wil skree en gil; ander sal dalk die berge met stapskoene wil invaar.

Onthou net verpletterende lewensgebeurtenisse tref almal – sommige kry kanker; ander staan geliefdes aan die dood af. Jou afdanking is deel van ’n geheelbeeld.

Wat leer ek hieruit?

Dit klink dalk wreed, maar veral ouer mense moet besef dat ’n mens in veranderende tye nie meer op dieselfde manier as 40 jaar gelede na jou loopbaan kan kyk nie.

“Jy moet meer dikwels van werk verander en nie te veel van jou kosbare tyd in een maatskappy belê nie, maar jou daarop toespits om voortdurend jou vaardighede op te skerp en verdere opleiding te kry,” verduidelik Rod.

Watter geleenthede spruit voort uit ’n afdanking?

Die terugslag is dalk positief en kan jou die geleentheid bied om jou loopbaan in ’n heeltemal nuwe rigting te stuur. Dalk kan jy ’n werk ondersoek en beproef waaroor jy nog altyd gedroom het, maar waarvoor jy nooit die kans gekry het nie, sê Rod.

Foto: Getty Images/ Gallo Images

Hoe vertel jy jou familie en mense?

Dit is ’n moeilike gesprek, maar dit is uiters belangrik om doodeerlik te wees en jou gesin mooi te laat verstaan dat die afdanking nie jou skuld was nie, meen Rod.

“Die eerste gesprek met jou gesin is die begin van verskeie openhartige sessies waarin jy moet uiteensit hoe jou terugslag jul gesinslewe geldelik sal raak,” verduidelik die veerkragtigheidskenner.

Volgens hom sal so ’n gesprek jou ook help om die terugslag te verwerk. Dit is nooit ’n goeie idee om in sulke gesprekke met naastes en vriende finansiële bystand te vra nie, sê Rod.

Vra hulle eerder om hul onderskeie netwerke te gebruik en voelers uit te steek vir ’n ander werk waarvoor jy moontlik volmaak sal wees.

Hou op dié manier geldelik kop bo water

Probeer sover moontlik nie die geld in jou pensioenfonds gebruik nie; spaar dit liewer in ’n pensioenbewaringsfonds, meen Will Keevy, hoof van versekering by die Intelligent Debt Group.

“Dié geld is kritiek vir jou aftredebeplanning. Moet dit liefs nie inspan om korttermynskuld te vereffen of vir enige ander korttermyndoeleindes nie,” verduidelik Will.

“Gebruik liewer die geld uit die skeidingspakket wat jy ontvang nadat jy ontslaan is vir jou daaglikse uitgawes tot jy ’n nuwe werk kry.”

Hy stel voor jy volg dié vyf stappe om geldnood te vermy ná uitdiensstelling:

  • Gebruik jou bankstate as ’n gids en stel ’n noukeurige begroting op.
  • Bereken hoe lank jy geldelik met jou skeidingspakket sal oorleef en bepaal hoe lank jy het om nuwe werk te soek.
  • Sny alle onnodige koste en luukses soos betaaltelevisiekanale, uiteet of klere koop uit jou begroting en spits jou daarop toe om minder aan kruideniersware te bestee.

Die grootste fout wat jy kan maak, is om broodnodige uitgawes soos jou bydrae tot ’n mediese fonds of versekering op te skort.

  • Begin die bal aan die rol sit om ’n maandelikse inkomste by die Werkloosheidsversekeringsfonds te eis. Jy kan ’n maand ná uitdiensstelling dié toelae begin eis en die bedrag wat uitbetaal, is tipies tussen 36 en 56% van jou salaris. Dit is onderhewig aan hoe lank jy gewerk het, die totale bydrae wat jy tot die fonds betaal het en jou inkomste.
  • Probeer om binne ’n redelike tyd ’n nuwe werk te kry sodat jy nie jou neseier moet gebruik om te oorleef nie. 
Kry so weer werk

“Dit is uiters belangrik om nie paniekerig te raak nadat jy jou werk verloor het nie. Baie mense maak die fout om onmiddellik met ’n onvoldoende CV om nuwe werk aansoek te doen, maar so ’n oorhaastige reaksie belemmer eerder die proses,” sê Jennifer Ritchie, ’n loopbaanafrigter en skrywer van A Coaching Handbook for Re-Inventing Yourself after Retrenchment. Jennifer meen dié vyf stappe is die belangrikste ná ’n afdanking:

  • Aanvaar dit was nie jou skuld nie; beskou dit eerder as ’n loopbaanoorgang en dat jy jouself nou deeglik op ’n heel nuwe begin moet voorberei.
  • Evalueer jou vaardighede, kennis en die waarde wat jy tot ’n onderneming kan toevoeg, en oorweeg verskillende moontlikhede – wees buigsaam.
  • Stel ’n plan A en ’n plan B op en bedink ’n volledige aksieplan vir albei.
  • Laat jou CV professioneel opstel.
  • Staan minstens ’n maand af waarin jy jouself behoorlik daarop toespits om met kontakte in verbinding te tree, vir werk aansoek te doen, jou vordering te meet en – die belangrikste van alles – tot elke prys te volhard.