Van net twee dinge in die wêreld kan ons seker wees: die dood en belasting.

Die 18de-eeuse Amerikaanse president Benjamin Franklin het dié kwinkslag kwytgeraak. Amper 230 jaar ná sy dood bly albei steeds ewe onvermydelik. En binnekort kom klop Jan Taks weer by ons aan, maar dié keer is hy haastiger as gewoonlik.

Suid-Afrikaners het vanjaar heelwat minder tyd om hul belastingopgawe in te dien, het Mark Kingon, waarnemende kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), aan die begin van Junie bekendgemaak.

Die spertye is vervroeg om die belastinggaarder meer tyd te gee om navrae en kwelpunte op te los voor die opgawes finaal verwerk word, het hy gesê.

As jy gewoonlik verkies om by ’n SAID-tak tou te staan om jou opgawe in te dien, het jy van 1 Julie tot 21 September tyd om dit te doen.

Belastingbetalers wat die Inkomstediens se aanlyn stelsel, eFiling, gebruik, moet hul belastingopgawe tussen 1 Julie en 31 Oktober indien.

Verlede jaar was die spertyd 24 November, sowat drie weke later. Die belastingopgawe wat jy voor dié sperdatums moet indien, is vir die 2018-belastingjaar, oftewel die tydperk 1 Maart 2017 tot 28 Februarie 2018.

Die indien van belastingopgawes bly ’n tameletjie. Selfs al duik dit jaarliks op ’n mens se doenlysie op, besorg dit baie belastingbetalers steeds hoofbrekens.

Dis menslik om met ’n swaar hart afskeid te neem van ’n deel van jou inkomste, maar jy het darem die troos dat geld in die staatskas nodig is vir noodsaaklikhede soos die bou van hospitale, skole en huise en vir die uitbetaling van pensioengeld en welsyntoelaes om bejaardes en armes se lot te verbeter.

WIE MOET ALMAL BELASTING BETAAL?

Alle Suid-Afrikaners wat meer as ’n sekere bedrag verdien, moet inkomstebelasting betaal, sê Lecia Smit, ’n rekenmeester en belastingpraktisyn van Pienaar Stofberg Bestuurskonsultante in Bellville.

’n Mens betaal net belasting as:

  • Jy jonger as 65 is en jou bruto inkomste (voor aftrekkings) meer as R75 750 per jaar (sowat R6 312 maandeliks) beloop.
  • Jy ouer as 65 is en meer as R117 300 per jaar (R9 775 maandeliks) verdien.
  • Jy ouer as 75 is en meer as R131 150 per jaar (sowat R10 930 maandeliks) verdien.

Sowat 45% van Suid-Afrikaners betaal belasting deur die Lopende Betaalstelsel. Dit behels dat ’n werkgewer maandeliks belasting van ’n werknemer se salaris aftrek en dit aan die SAID oorbetaal.

Maar hoe gemaak as jy vir jouself werk en soveel geld maak dat jy belasting daarop moet betaal?

Dan word jy ’n voorlopige belastingbetaler en moet jy self die belastinggeld aan die SAID betaal. Jy dien sesmaandeliks (in Augustus en Februarie) ’n belastingopgawe in, met skattings oor wat jou belasbare inkomste vir die komende jaar sal wees.

As jy ’n kleinsakeonderneming geregistreer het, kan jy op die SAID se webtuiste seker maak wat jou spesifieke belastingpligte is en hoe jy dit moet nakom.

As jy ander inkomstebronne het, soos beleggingsinkomste of eiendom, sal jy ook ’n voorlopige belastingbetaler moet word, ongeag of jy ’n salaris ook verdien, en sesmaandeliks ’n opgawe indien.

HOEVEEL MOET EK BETAAL?

Jou belastingbydrae word op jou inkomste gegrond. Die bedrag word volgens ’n glyskaal bereken. Hoe meer jy verdien, hoe groter is die persentasie wat jy moet opdok, soos die tabel regs bo vir belastingbetalers van alle inkomstegroepe vir die 2018-belastingjaar wys.

Jou belasbare inkomste verwys na jou bruto inkomste – minus sekere aftrekkings, belastingkortings en vrystellings – wat gebruik word om te bepaal hoeveel belasting ’n mens moet betaal.

Hier is ’n voorbeeld:

Susan (40) val in die tweede belastingkategorie op die tabel.

  • Sy verdien ’n belasbare inkomste van R200 000 per jaar.
  • Sy betaal 18% belasting op R189 880, wat R34 178 beloop.
  • Sy betaal ook 26% belasting op die oorblywende bedrag bo R189 880. Dit is R10 120 (R200 000 - R189 880).
  • 26% van R10 120 is R2 631,20.
  • Dit beteken sy moet R34 178 + R2 631,20 = R36 809,20 per jaar aan belasting betaal.
Foto ter illustrasie: Gallo Image/Getty Images

WIE MOET ALMAL ’N OPGAWE INDIEN – EN WIE NIE?

Nie alle Suid-Afrikaners wat belasting moet betaal, hoef ’n belastingopgawe in te dien nie, het Mark gesê, want met dié stap word die SAID se administratiewe las verlig.

Verlede jaar het altesaam 1,6 miljoen mense hulself onnodig die moeite aangedoen om opgawes in te dien.

Van hulle het 868 562 boonop by SAID-takke gaan toustaan, vertel Mark. (Die ander het hul opgawes elektronies ingedien.)

Jy spring dit vanjaar vry om nie ’n belastingopgawe (ook bekend as ’n ITR12) in te dien nie as jy aan al vier hierdie vereistes voldoen:

  • Jou bruto inkomste vir die 2018-belastingjaar is R350 000 of minder.
  • Jy het net een werkgewer. Jy het net een inkomstebron waarop jy werknemersbelasting moet betaal.
  • Jy het geen ander uitgawes, soos mediese koste, toelaes of aftree-annuïteite, wat jy van die Inkomstediens wil terugeis, nie. As jy nie aan al hierdie vereistes voldoen nie, moet jy ’n belastingopgawe by ’n SAID-tak of deur die aanlyn stelsel indien.

WANNEER KAN EK GELD TERUGKRY?

’n Mens raak skoon jaloers wanneer jy om die braaivleisvuur mense hoor spog oor die sakke vol geld wat hulle van Jan Taks terugkry. Maar so ’n meevaller is die deursnee-salaristrekker nie beskore nie, sê Piet Nel, hoof van die tegniese afdeling van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingberoepslui.

“Jy kan ’n terugbetaling verwag as jy deur die jaar te veel belasting betaal het,” verduidelik hy.

Dit gebeur wanneer werkgewers te veel belasting aan die SAID oorbetaal het – ’n werknemer kan dit dan terugeis – of as jy danksy die berekening van toelaes, byvoorbeeld vir reis, of ander aftrekkings, soos vir mediese koste, minder belasting hoef te betaal.

Hoe kan jy vasstel of jou werkgewer te veel belasting namens jou betaal het?

Die SAID kan bereken of jy te swaar belas is, maar dan sal jy volledige inligting oor jou inkomste vir daardie belastingjaar aan hulle moet verstrek, sê Piet.

Voorlopige belastingbetalers (soos mense wat ’n inkomste kry uit beleggings, hul sakeondernemings of eiendom wat hulle verhuur) kan ook te veel belasting betaal. Dit kan gebeur wanneer jou belasbare inkomste vooruit te hoog geskat is, verduidelik Lecia.

Dan kan die SAID ook bereken of jy te swaar belas is, maar jy sal volledige inligting oor jou inkomste vir die belastingjaar aan hulle moet verstrek.

KEN JAN TAKS SE TAAL

Belasbare inkomste

Dit is die inkomste, ná sekere aftrekkings, kortings en vrystellings, wat gebruik word om te be­paal hoeveel belasting ’n mens moet betaal.

eFiling

Die gratis aanlyn proses van die SAID waardeur jy jou belastingopgawe kan indien.

Indiensnemingskoste

Dit sluit alle koste in wat met jou werkkontrak te doen het, soos die bydrae wat jou werkgewer namens jou tot ’n mediese, pensioen- of voorsorgfonds of die Werkloosheids­versekeringsfonds maak.

Bruto salaris

Jou salaris voor enige aftrekkings.

Netto salaris

Die deel van jou salaris wat oorbly nadat al die aftrekkings gedoen is.

IRP5

’n Werknemersbelastingsertifikaat met die inkomste wat jy ontvang het, die werknemersbelasting wat afgetrek of weerhou is en ander aftrekkings in die tyd dat jy in ’n bepaalde belastingjaar in diens was. Jou werkgewer sal dit aan jou verskaf.

ITR12

Die vorm vir die belastingopgawe wat jy elke jaar moet indien.

Korting

’n Aftrekking wat jy kan maak wanneer jy bereken hoeveel inkomste­belasting jy Jan Taks skuld.

WAT KAN JY TERUGEIS? 

Toelaes

In sommige beroepe sal ’n werkgewer jou benewens jou salaris ’n toelae betaal om uitgawes te dek wat jy as deel van jou werk aangaan. ’n Algemene voorbeeld hiervan is ’n reistoelae.

Dit word as deel van jou inkomste belas en die belasting word deur die werkgewer van jou salaris verhaal.

As jy so te veel aan Jan Taks betaal, kan jy dit terugeis, sê Piet. Die Belastingwet skryf voor dat jy op 80% van ’n toelae belas word. Jy is veronderstel om net belasting te betaal op die deel van jou toelae wat jy vir persoonlike doeleindes gebruik.

Jan Taks meen jy gebruik net 20% van so ’n toelae vir werkdoeleindes. Gestel die maatskappy waarvoor jy werk, betaal jou ’n reistoelae van R1 000 per maand.

Dan word jy op R800 (80%) daarvan belas.

Die belastingkoers word bepaal volgens die belastingkategorie (sien die tabel) waarin jy val. Maar as jy kan bewys jy het inderdaad meer as 20% van jou reistoelae vir werkdoeleindes aangewend, kan jy die geld terugeis wat Jan Taks maandeliks te veel daarvoor afgetrek het.

Jy moet dit self van die SAID eis en daarvoor sal jy geldige dokumentasie, soos ’n ritboek, nodig hê. Daarin moet jy elke dag volledig die kilometers aanteken wat jy vir werk aflê.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Volgens Lecia wil Jan Taks die volgende inligting in jou ritboek hê:

  • Jou motor se model, jaartal, koopprys en registrasienommer.
  • Twee kilometerlesings daagliks: Die lesing op jou kilometerteller voor jy jou eerste rit vir die dag onderneem en die lesing ná die laaste rit van dag.
  • ’n Rede vir jou rit en waarheen jy gery het as dit vir werkdoeleindes was. (Die afstand wat jy van jou huis na jou kantoor of werkplek en terug ry, word as privaat gebruik beskou.) Jy kan jou eie ritboek hou of SAID se eLogBook van hul webtuiste aflaai. Jy moet die ritboek nog vyf jaar lank bewaar nadat jy jou belastingopgawe ingedien het, want die SAID kan dit aanvra om jou eis te staaf. Die belastinggaarder kan ook enige tyd die inhoud van jou ritboek oudit of dit bevraagteken.

Aftrekkings vir mediese uitgawes

Sedert 2012 kry belastingbetalers wat tot ’n mediese fonds bydra ’n maandelikse belastingkorting daarvoor.

Dit is ’n vasgestelde maandelikse bedrag wat jy van belasting kan aftrek, ongeag hoeveel jy verdien of hoeveel jy bydra. Vir die 2018-belastingjaar is die korting R303 vir die hooflid self en vir die eerste afhanklike, en R204 vir elke ander afhanklike, sê Lecia.

As jou werkgewer maandeliks jou mediesefondsbydrae van jou salaris aftrek, sal die korting ook maandeliks afgetrek word en jy betaal dan minder werknemersbelasting.

Dit gebeur gewoonlik outomaties.

“Jy kan jou werkgewer vra om die belastingkorting vir bydraes tot jou mediese fonds elke maand in berekening te bring,” sê Janine Mqulwana, ’n woordvoerder van die SAID, maar voeg by dat dit van werkgewers afhang of hulle dit so wil doen of nie.

As jou werkgewer die korting nie aftrek nie, kan jy dit self van die SAID eis wanneer jy jou belastingopgawe indien, sê Lecia.

As jy elke maand self jou mediesefondsbydrae betaal pleks daarvan dat jou werkgewer dit van jou salaris verhaal, sal die belastinggaarder die korting aan jou toestaan wanneer jy jou opgawe jaarliks indien.

Jy kan voorts party van die mediese uitgawes wat jou fonds nie dek nie van Jan Taks eis.

“Net bedrae wat aan dokters, hospitale en apteke (net vir voorskrifmedisyne) betaal is, kan afgetrek word,” benadruk Lecia. Jy moet ook kan bewys dat die bydraes of die koste werklik betaal is en dat dit vir jou of vir ’n afhanklike is, sê Piet.

Daarom moet jy jou doktersrekenings en kwitansies bewaar. Hy raai belastingbetalers aan om die SAID se gids op hul webtuiste te raadpleeg om seker te maak watter uitgawes vir dié verdere korting in aanmerking kom.

Die Inkomstediens se webtuiste het ’n hulpfunksie wat stap vir stap verduidelik hoe jy jou mediese aftrekkings op jou ITR12-belastingvorm kan invul.

Die toelaatbare verdere aftrekking vir mediese eise vir mense onder 65 word as volg bereken:

  • Algehele jaarlikse bydrae tot jou mediese fonds. SMinus vier maal die voorgeskrewe belastingkorting.
  • Plus ekstra geld wat jy aan mediese koste bestee het. SMinus 7,5% van jou jaarlikse belasbare inkomste.

Vermenigvuldig met 25%. Die toelaatbare verdere aftrekking vir mediese eise vir mense bo 65 word as volg bereken: 

  • Algehele jaarlikse bydrae tot jou mediese fonds.
  • Minus drie maal die voorgeskrewe belastingkorting.
  • Plus die bykomende geld wat jy aan jou mediese uitgawes bestee het.
  • Vermenigvuldig met 33,33%. Jy kan hierdie bedrag terugeis.

Annuïteite en pensioen

Alle belastingbetalers wat maandeliks tot ’n pensioen, uittreeannuïteits- of voorsorgfonds bydra, kan 27,5% van hul bydrae van belasting terugeis.

Gestel jy dra R1 000 per maand en dus R12 000 jaarliks by, kan jy 27,5%, oftewel R3 300, hiervan van Jan Taks terugkry.

Die maksimum wat jy kan terugeis, is R350 000 en jou bydrae word ook tot 27,5% van jou jaarlikse belasbare inkomste beperk. As die maatskappy waarvoor jy werk namens jou tot ’n aftreefonds bydra, word dié 27,5% reeds maandeliks van jou belasting afgetrek, verduidelik Piet.

Soos met die korting vir jou mediesefonds- bydrae trek jou werkgewer dit van die belasting af wat jy maandeliks betaal. As jy self bydraes tot ’n pensioenfonds of annuïteit maak, moet jy die nodige belastingsertifikate en stawende dokumente as bewys aan die SAID voorlê wanneer jy jou belastingopgawe indien.

“Dit is belangrik dat belastingbetalers stawende dokumente hou van alle inkomste en uitgawes wat op die ITR12- belastingopgawe ingevul word,” sê Lecia.

Sy beveel ook aan dat jy dié dokumente vyf jaar lank bewaar nadat jy jou opgawe ingedien het.

Vryskutwerk of jou eie onderneming

As jy nie ’n salaristrekker is nie en jou brood op ’n ander manier verdien, soos met vryskutwerk, kommissie of jou eie onderneming, kan jy bakhand by Jan Taks staan vir uitgawes wat jy aangegaan het vir werk.

Hierdie uitgawes trek jy dan van jou totale inkomste af om jou “wins” te bereken waarop jy belas word, verduidelik Lecia.

As jy uitgawes soos eiendomsbelasting, rente op jou huisverband, elektrisiteit, skryfbehoeftes, telefoon- en selfoongebruik as werkuitgawes wil aftrek, moet jy bewyse daarvoor hê, beklemtoon Piet. Hy stel voor jy klop in so ’n geval aan by ’n belastingpraktisyn.


Hoe werk eFiling?

Dit is gerieflik om jou belastingopgawe elektronies met die aanlyn stelsel eFiling in te dien, sê Piet Nel, hoof van die tegniese afdeling van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingberoepslui.

Dit kan jou die tyd en frustrasie spaar om in ’n lang tou by ’n SAID-kantoor te staan. Nog ’n voordeel van eFiling is as jy ’n fout gemaak het met die invul van die belastingvorm, kan jy dit maklik aanlyn regstel.

Dis ’n goeie idee om met eFiling self jou belastingopgawe in te dien as dit doodeenvoudig is, soos wanneer jy ’n jaarlikse inkomste van meer as R350 000 het en werknemersbelasting reeds deur die jaar afgetrek word.

Maar vra liewer ’n belastingkonsultant se hulp as jou belastingsake ingewikkelder raak, byvoorbeeld wanneer jy ’n toelae, soos vir reis, ontvang, inkomste uit die buiteland kry, geld uit ’n eie onderneming verdien, vryskutwerk doen of meer as een inkomstebron het.

Sodra jy persoonlik by ’n SAID-kantoor as ’n belastingbetaler geregistreer is en ’n belastingnommer gekry het, kan jy op die SAID se eFiling-webtuiste registreer, sê die SAID-woordvoerder Janine Mqulwana.

Gaan so te werk

  • Nadat jy op “Register” geklik het, moet jy aandui of jy jou eie opgawe wil indien en of jy ’n belastingpraktisyn is.
  • Vul jou persoonlike besonderhede in. Jy sal daarna die inligting ontvang waarmee jy voortaan moet aanmeld.
  • Die SAID bied ook ’n “Help-You-eFile”-funksie, waartydens ’n SAID-agent jou telefonies kan bystaan en verduidelik watter inligting jy waar moet invul, sê Janine.
  • Jy kan ook ’n hulpgids in PDF-formaat van die SAID se webtuiste aflaai. Dié gids dui met skermgrepe aan hoe jy kan registreer en hoe jy daarna jou opgawes elektronies kan indien.

Die dokumente wat jy vir eFiling nodig het

  • Jou IRP5, die belastingsertifikaat wat jy van jou werkgewer kry.
  • Sertifikate vir inkomste wat jy binnelands verdien het.
  • Enige ander dokumente oor inkomste wat jy verdien het.
  • Besonderhede van mediese uitgawes wat jy self betaal het en van jou bydraes tot ’n mediese fonds, soos die belastingsertifkaat van jou mediese fonds.
  • ’n Ritboek en ander dokumente as bewys van jou reiskoste vir werkdoeleindes.
  • Enige ander dokumente oor toelaatbare aftrekkings waarvoor jy wil eis.

Ekstra bronne: Netwerk24, SARS.gov.za, Fin24.com