Ons leef in onseker tye. In Suid-Afrika het die ekonomie en arbeidsmark nog meer gekrimp weens die coronaviruskrisis en boonop flikker die gevaarligte al ’n geruime tyd vir sekere beroepe weens tegnologiese veranderings.

In baie huishoudings sou kinders die afgelope jaar gesien het hoe hul ouers weens dié kombinasie van dinge sukkel. Maar watter basiese beginsels kan die jonger geslag toepas om ’n finansieel stabiele toekoms te probeer verseker?

Ons het ’n paar bekendes en finansiële kenners gevra om hul geldlesse te deel.

Jak de Priester, sanger

As iets te maklik lyk, moet jy weet daar is ’n slang in die gras. Neem byvoorbeeld Mirror Trading International (MTI), waar jy Bitcoin kon koop en MTI dit vir jou verhandel.

Daar het ek sommer na mense geluister wat ek ken en blindelings ingegaan sonder om self my navorsing te doen. Aan die begin het dit vinnig gegroei en alles het goed gelyk, tot dit platgeval het.

Die les? As iets te goed lyk om waar te wees, dan is dit waarskynlik. As jy sake wil doen of jou geld wil belê, moet jy beslis eers jou huiswerk doen.

Ek glo ook dat jy beloon word wanneer jy hard werk. Doen dit waarvoor jy ’n passie het, want dan sal dit soveel makliker wees om geld daaruit te verdien.

Elana Afrika-Bredenkamp, aanbieder en aktrise

My pa en my man is my beste vriende, en albei het al baie goeie raad vir my gegee. My pa sê altyd: “Jy kan nie iets koop met geld wat jy nie het nie.”

Ek het dus nog altyd min staatgemaak op krediet. Gevolglik is ek skuldvry, en ek hou daarvan om te spaar.

My man se raad is altyd: “Kom ons gaan kyk.” Ons kyk graag na eiendomme aanlyn. Dis soos lekker vensterinkopies. En net deur na verskillende moontlikhede te kyk kon ons al ’n paar eiendomme koop en weer teen ’n wins herverkoop.

Dis baie opwindend. En wanneer die oordrag plaasvind, is dit altyd die beste, want dan word daar feesgevier!

Jawaahier Petersen, aktrise

My beste geldraad ooit was om ’n spaargedeelte by te voeg by die hoeveelheid geld wat ek vir die spreekwoordelike reëndag wegsit. As ek dus R100 sakgeld gekry het, het ek weekliks R10 gespaar. 

Of byvoorbeeld R300 van my eerste salaris; en deesdae spaar ek elke maand ’n bedrag per debietorder in ’n belegging.

Uiteraard wissel dié ekstra spaarbedrag vir almal, maar selfs net R50 per maand kan vir jou daardie ekstra R600 vir die Desembervakansie gee.

Louw Venter, akteur en rolprentmaker

Eerstens, begin spaar wanneer jy jonk en jou verantwoordelikhede en uitgawes minder is sodat jy reeds vroeg kan belê in eiendom.

Tweedens, as jy nie jou groot skuld kan afbetaal nie, fokus minstens op jou mediumtermynskuld, soos kredietkaarte en winkelrekenings.

Al daardie stukkies rente op verskillende rekenings raak later ’n groot klomp geld en vreet jou gemoedsrus op.

Hoe eet jy ’n berg pap? Een lepeltjie op ’n slag. 

En die kenners sê . . .

Richus Nel, PSG Wealth

Omring jouself met kundiges wanneer jy belangrike of onomkeerbare besluite moet neem. Om sulke beplanning alleen te doen is soos om ’n vlieënier te probeer wees nadat jy net die handleiding gelees het.

Die probleme kom wanneer jy ’n wêreldreis onderneem wat veelvoudige vlugte insluit en in stormweer jou geliefdes veilig by jul bestemming moet bring.

’n Algemene fout wat mense maak, is om eers naby aftreeouderdom finansiële raadgewers te raadpleeg, of wanneer hulle vrees dat hulle dalk reeds groot foute gemaak het. Bou liewers ’n verhouding met ’n betroubare beleggingsadviseur lank voor jou aftrede.

Jessica Matthysen, Alexander Forbes

Ek was pas klaar met hoërskool toe ek my eerste werk met ’n regte salarisstrokie kry. Die eerste ding wat my ma vir my gesê het, was: “Meisiekind, betaal eerste jouself.”

Sy het bedoel dat ek moet spaar, want al die geld wat jy verdien, gaan na ander mense. Sy het my gewys hoe geld vir huur, water, ligte en kos eers afgetrek moet word. Toe sê sy: “En nou sit jy spaargeld weg. Die res kan jy bestee soos jy wil.”

‘ ’n Algemene fout wat mense maak, is om eers naby aftreeouderdom finansiële raadgewers te raadpleeg, of wanneer hulle vrees dat hulle dalk reeds groot foute gemaak het’ – Richus Nel, PSG Wealth

Ek het nie die geld gemis wat ek dadelik weggesit het nie en kon so genoeg spaar vir ’n vliegtuigkaartjie na Brittanje, ’n werkvakansievisum en drie maande se verblyf daar in ’n tyd toe die wisselkoers R25 vir £1 was.

Ek het teruggekom, ’n ander werk gekry en dieselfde spaarroete gevolg. So kon ek my eerste motor, wat tweedehands was, kontant en skuldvry koop.

Die les van spaar en vertraagde bevrediging het gesorg dat ek baie duur dinge in my lewe kon doen wat ek andersins nie sou kon bekostig nie.

Kry hier nog raad