Deesdae is dit meestal kaarte, pleks van kontant, wat ’n mens se beursie laat bult. En jy dra hoofsaaklik twee verskillende soorte rond: die winkelkaart van byvoorbeeld ’n klerewinkel en die kredietkaart van jou bank.

Die ooglopendste verskil tussen die twee is natuurlik waar jy daarmee kan koop.

In ’n neutedop: Met die klerewinkel se kaart koop jy net by hulle, maar met jou kredietkaart betaal jy enigiets, enige plek. In een opsig is hulle wel dieselfde: Jy sal ’n hoop rente betaal as jy ’n nadelige saldo het en nie jou skuld binne die rentevrye dae delg nie.

Wanneer en hoe kan ek een kry?

Vroeër jare is veral winkelkaarte maklik toegestaan, maar die afgelope paar jaar het die Nasionale Kredietwet dit hokgeslaan.

Aansoekers moet die kaart kan bekostig. As jy om enigeen aansoek doen, sal ’n bewys van inkomste gevra word. Die kredietverskaffer sal jou kredietrekord nagaan om te sien watter rekenings en skuld jy het, ’n bewys van jou inkomste versoek en kyk of jy ’n goeie betaalgeskiedenis het.

As jy dit nie kan bekostig nie of ’n swak betaalrekord het, sal enige nuwe kaartaansoek misluk.

As jou kredietprofiel goed is (jou inkomste na wense, skuldvlakke aanvaarbaar en betalings getrou), kan jy soveel winkel- en kredietkaarte kry as wat jy kan bekostig. Maar dis nooit ’n goeie idee nie, want dit kan jou onnodige skuld laat maak.

Algemene dokumentvereistes vir aansoeke is jou ID, bewys van woonadres, jongste betaalstrokie en ’n bankstaat wat drie maande se salarisinbetalings toon.  

Wat is die voor- en nadele van ’n winkelkaart?

Winkels bied dikwels kaarte wat ses maande rentevry is, wat aankope bekostigbaarder maak omdat jy dit oor tyd kan afbetaal sonder enige ekstra rente.

Dit werk egter net as jy dan jou skuld ten volle delg; so nie betaal jy rente en kos die items eindelik baie meer. Die ses maande is net van toepassing as jy elke maand die minimum bedrag betaal. Jy sal ’n staat ontvang wat aandui hoeveel jy verskuldig is en wanneer.

Jy sal rente begin betaal – al is jy op die plan wat ses maande rentevry bied – as:

  • jou betaling minder as die vereiste bedrag is;
  • jy ’n afbetaling oorslaan; of
  • jy te laat betaal (byvoorbeeld op 2 September pleks van 1 September).

Die rentevrye aanbod is net beskikbaar vir verbruikers met ’n goeie kredietrekord.

As jy ’n swak kredietrekord het, is jy ’n risiko en sal jy bes moontlik net winkelkaarte aangebied word wat die maksimum rentekoers hef sonder enige rentevrye dae.

Dit is van die duurste skuld wat ’n mens kan maak; vermys dit dus tot elke prys.

Wat is die voor- en nadele van ’n kredietkaart?

Kredietkaarte kan jou in ’n krisis help of om iets te koop waarvoor jy nie dadelik kontant het nie – mits jy jou skuld binne die volgende paar dae kan afbetaal. Doen jy dit, is dit goed vir jou kredietrekord.

Kredietkaarte het gewoonlik tot 55 rentevrye dae, wat jou kan bevoordeel as jy betyds die volle uitstaande bedrag terugbetaal. Die rentevrye dae geld gewoonlik net vir aankope in winkels.

Brandstofaankope en kontant-onttrekkings of oordragte uit jou kredietrekening trek gewoonlik onmiddellik rente.

Rentevrye dae begin op die eerste dag van jou rekeningstaatsiklus en eindig op die betaaldatum, byvoorbeeld die 30-dae-staatsiklus, plus 25 dae tot die betaaldatum.

Voorbeelde

  • Op 1 September koop jy iets van R500. Geen rente sal gehef word tot 25 Oktober nie. Jy kry 55 dae rentevry op dié aankoop.
  • Op 10 September bestee jy R200 met jou kredietkaart. Geen rente sal gehef word tot 25 Oktober nie. Jy kry 45 dae rentevry op hierdie aankoop.

Dit kan moeilik wees om te onthou wanneer jy wat gekoop het en wat elke aankoop se rentevrye tydperk sal wees. Jou bankstaat behoort te wys wat die uitstaande bedrag is wat jy skuld en teen wanneer.

Jy moet dié hele bedrag teen die aangeduide datum delg – nie net die minimum afbetaling nie – so nie sal jy rente betaal.

As jy niks op jou kredietkaart skuld nie en daar is geld in die rekening, het jy ’n voordelige saldo wat vir jou rente kan verdien. Let wel, dis heelwat minder as die rente op skuld! Dit wissel onder banke en volgens die saldo (hoe groter die voordelige saldo, hoe beter die rentekoers), maar kan tussen 1 en 5%* wees.

Stedelike, werkende huishoudings
  • 66% het winkelkaarte.
  • 32% kredietkaarte.

Bron: Old Mutual-Spaar-en-beleggingsmonitor, Julie 2018

Die maksimum rentekoers op winkel- en kredietkaartskuld

  • Die hoogste rentekoers wat volgens die Nasionale Kredietwet op uitstaande saldo’s van krediet- en winkelkaarte gehef mag word, is dieselfde: die repokoers (tans 6,5%*) + 14% = 20,5%.
  • Kredietverskaffers mag minder rente hef, maar nie meer nie.
  • Die repokoers is die rentekoers waarteen die SA Reserwebank (SARB) geld leen aan kommersiële banke soos FNB, Absa, Standard Bank, Nedbank en Capitec Bank en jy kan dit op die SARB se webtuiste kry.

* Korrek teen druktyd

 
Kry hier hulp


Stuur voorstelle en versoeke na geldsake@huisgenoot.com. E-posse sal sover moontlik in die rubriek beantwoord word en nie persoonlik nie.

Gaan na huisgenoot.com vir nog raad en wenke.