Ons wil almal graag weet ons geliefdes sal finansieel versorg wees as ons skielik sou doodgaan.

Covid-19 is maar een van die redes waarom ál meer mense lewensversekering uitneem, wat ook dekking teen ongeskiktheid, inkomsteverlies en “gevreesde siektes” insluit. Tog wonder baie mense steeds hoe hul maandelikse premies uitgewerk word.

Betaal hulle te veel, of is hulle dalk onderverseker? Sheila-Ann Robey, ’n finansiële adviseur van die Liberty-groep, vertel waarop jy moet let.

1. Wat maak premies goedkoper of duurder?

Hoe groter jou risiko om onverwags te sterf, hoe hoër jou premie.

Hier is die algemeenste faktore wat lewensversekeringsmaatskappye in ag neem

Jou ouderdom

Hoe jonger jy is wanneer jy ’n premie uitneem, hoe laer behoort jou premie te wees. Dis omdat ouer mense ’n groter risiko het om te sterf of te verswak.

Jou opvoedingsvlak

Inkomstebeskermingsdekking is deel van jou lewensversekering en betaal uit wanneer jy weens beserings of siekte nie kan werk nie.

Hoe meer vaardighede en naskoolse opleiding jy het, hoe gunstiger behoort jou premies te wees. So byvoorbeeld sal ’n gekwalifiseerde rekenaarprogrammeerder kan werk al word hy deur ’n ongeluk in ’n rolstoel gekluister en behoort dit dus sy premies laer te hou.

Maar die premies van beroepsportlui met geen ander kwalifikasie nie sal dalk duurder wees omdat hulle moeiliker ander werk in dieselfde omstandighede sal kry.

Jou beroep

Polisiebeamptes, duikers en mynwerkers is maar ’n paar beroepe wat ’n verhoogde risiko vir besering of dood inhou.

Elke versekeraar se definisies verskil, so jy kan uitvind wat jou versekeraar se beskouing is. Gevaarlike beroepe kan premieladings of uitsluitings hê.

Wanneer versekeraars praat van ’n premielading van byvoorbeeld 50%, werk dit so: Gestel jou premie is R100; met ’n 50%- lading sal die premie R150 wees.

Uitsluitings beteken jy het lewensdekking wat sal uitbetaal as jy sterf – behalwe as jou gevaarlike beroep die oorsaak van dood is. Jou beroep is dan die uitsluiting.

Jou geslag

Vroue leef oor die algemeen langer as mans, en afhangend van hul gesondheid kan hul premies effens laer as ’n man s’n wees.

Rook jy?

Is die antwoord nee, behoort jou premie heelwat goedkoper te wees as ’n roker s’n. Rokers se lewens- en gesondheidsverwagting is swakker.

Indien jy ophou met rook, kan jou versekeraar jou premie moontlik ná ’n tydperk (enigiets van ses tot 24 maande) verlaag. Die rede vir die wagtydperk is om te kyk of jy vry van rookverwante siektes is en seker te maak jy het nie weer begin rook nie.

Jou gewig

Hoe gesonder jou gewig, hoe laer kan jou premie wees. Die versekeringsbedryf gebruik die liggaamsmassa-indeks (LMI) om vetsug te klassifiseer.

Daarvolgens word jou gewig in verhouding tot jou lengte bereken. Iemand met ’n LMI onder 18 word as ondergewig beskou, wat ook ’n versekeringsrisiko is. As jou LMI tussen 25 en 30 is, is jy oorgewig, en bo 30 is vetsug.

Mense wat oorgewig is of vetsug het, het ’n hoër risiko vir chroniese siektes.

Mediese geskiedenis

Gestel jy het ’n toestand soos hoë bloeddruk of diabetes wanneer jy om ’n polis aansoek doen; dan sal jou premie gelaai word of uitsluitings bevat, afhangend van die erns.

WENK Praat eers met jou lewensversekeringsmaatskappy oor enige probleme. As dit onopgelos bly, kan jy jou tot die langtermynversekering-ombud wend by www.ombud.co.za. Verskaf jou polisnommer en persoonlike inligting, die versekeringsmaatskappy se inligting en ’n feitelike opsomming van jou klagte.
2. Hoe word my premiebedrag bereken?

Elke versekeraar het hul eie manier, maar hul aktuarisse sal jou premie uitwerk volgens die hoeveelheid dekking wat jy wil hê (byvoorbeeld R1 miljoen s’n), met jou risiko’s in ag geneem.

  • Jy kan kwotasies van verskillende versekerings­maat-skappye vergelyk. ’n Finansiële raadgewer sal jou help om die opsies se uitsluitings, ladings en voordele teen mekaar op te weeg.
  • Daar is webtuistes wat vergelykings doen. Maar onthou dit is net kwotasies; jou premie kan anders lyk nadat die maatskappy jou onderskrywing gedoen het.
  • Daar is ’n verskil tussen vaste en stygende premies. Vaste premies is aanvanklik duurder as stygendes vir dieselfde dekking, maar binne ’n paar jaar word stygende premies heelwat duurder. Maak seker jy verstaan watter soort premie jy het en hoe dit die koste sal beïnvloed.
3. Is ek voldoende verseker?

Volgens die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika (Asisa)is die meeste Suid-Afrikaners onderverseker.

As jy twyfel, vra vir ’n raadgewer ’n behoef­tebepaling.

Hy kyk dan na jou persoonlike omstandighede om te bepaal hoeveel versekeringsdekking jy in die geval van teëspoed kan benodig, en dan hoeveel jy aan premies sal moet betaal om daardie uitbetalingsbedrag te kan kry. Jy kan dit dan so aanpas. 

Kry hier nog raad